Die Donker Hart van Brackenfell

  • 21

Koos Kombuis het ’n paar dae agter die Vibracrete-gordyn gaan kuier en self uitgevind wat regtig daar aangaan (foto’s en teks: Koos Kombuis).

DH Lawrence was een van die skrywers wat dikwels gepraat het van wat hy noem “the spirit of place”. In haar essay “Art and the spirit of place: DH Lawrence translates Giovanni Verga (https://journals.openedition.org/lawrence/190) beskryf Maria Cristina Consiglio hoe hy die term ervaar het: “That ‘alien quality’ which makes any place unique is what he called ‘the spirit of place’.”

Ek het aan DH Lawrence gedink toe ek onlangs vier dae in Brackenfell moes deurbring weens omstandighede buite beheer.

Ek het nie uitgesien daarna om te gaan nie. Ek het slegte herinneringe gehad aan my vorige besoek aan hierdie weggesteekte stukkie van suburbia naby Kaapstad. Uit ondervinding het ek geweet dat daar nie veel besienswaardighede is in Brackenfell nie.

Ek is nou baie bly dat ek gegaan het. Ek het die hart van die duisternis, soos Joseph Conrad dit sou beskryf, getrotseer en lewend anderkant uitgekom. Met baie nuwe insigte.

Tydens my besoek het ek talle foto’s geneem.

“Hoekom neem jy so baie foto’s van Brackenfell?” het iemand my gevra.

“Ek dink daaraan om ’n artikel vir National Geographic te skryf,” was my reaksie. “Hierdie plek is werklik uniek. Ek glo nie daar is nog so ’n plek soos Brackenfell op die hele aarde nie.”

Inderdaad het die vier dae in Brackenfell gelei tot ’n ervaring wat ek eenvoudig nie anders kan beskryf as ’n satori (“enlightenment”) nie.

Mense wat nie self in Brackenfell woon nie, het geen idee wat Brackenfell uniek maak nie. Per slot van rekening was Brackenfell nog nooit beroemd vir enigiets nie. Almal is vertroud met Bellville en Parow (immers het Jack Parow veroorsaak dat mense na daardie buurte verwys as die “hip-hop-belt”, al luister min mense in Bellville en Parow gereeld na hip-hop) maar niemand weet wat werklik aangaan in Brackenfell nie.

Brackenfell is anders. Wanneer jy eers daardie afrit na Okavangoweg geneem het en jou in die hart van Brackenfell begewe, betree jy ’n ander heelal.

O, dit lyk baie soos soortgelyke buurte in Bellville en Parow, en selfs Plattekloof, maar glo my, dis anders.

Nie net is dit anders as die stereotiepe idee wat buitestanders daarvan het nie. Dit was ook anders as my jeugherinneringe van Brackenfell.

Die gastehuis waarin ek oornag het, was skoon. Die mense was vriendelik en gasvry.

Geleidelik sou ek die locals leer ken. Ek was verras om te ontdek dat ek nooit een rassistiese grappie gehoor het nie. Dit het gelyk, in die verby-ry, asof die skole in die omgewing oral inklusief is: Daar was leerders, meesal bruin en swart, wat orals vryelik gemeng het met wit kindertjies op die sypaadjies buite die hekke waar hulle gewag het vir geleenthede huis toe.

Die beste van alles was die onpretensieuse straatname. Kort na my aankoms het ek hierdie straatnaam teëgekom: “Gawiestraat”. Ek het dadelik stilgehou om ’n foto daarvan te neem.

Wie en wat was Gawie? het ek gewonder.

Ek was absoluut oortuig daarvan dat almal wat in Gawiestraat woon, baie vriendelik sou wees.

Daar was wel argitektoniese kenmerke wat nogal oorweldigend was.

Die talle kaboutertjies, of dwergies, of wat hulle ook al was, in die tuin van die gastehuis het my kop laat duisel.

En “arches”. Daar was meer “arches” as in Marokko of Jemen. Duidelik was mense hier dol oor “arches”!

So ook die oorvloed Vibracrete-mure wat orals voor en tussen die huise was.  

Dit was een ding wat nie verander het sedert my vorige besoeke aan die plek nie. Sonder twyfel was Brackenfell nog steeds die Vibracrete-hoofstad van die planeet.

Terug na die idee van “spirit of place”.

As ek slegs vinnig deur Brackenfell gery het, as ek nie vier nagte oorgeslaap het en begin gesels het met die mense wat daar woon nie, sou my eerste indrukke nooit verander het nie.

Ek weet nou: Brackenfell het ’n hart. Dis ’n donker hart, maar dis ’n hart.

Sekerlik is daar in Brackenfell, soos in enige ander voorstad van Suid-Afrika, sy persentasie disfunksionele gesinne, gebroke huwelike, en wanaangepaste tienderjariges.

Maar as die hart van Brackenfell net so donker is soos die hart van talle ander woonbuurte, is dit ’n hart wat klop. En die polsslag wat mens daar voel, is die polsslag van ’n unieke manier van kyk na die lewe, ’n niks-nonsens humorsin, en ’n eiesoortige mitologie.

Vat nou maar die storie van die dooie Dalmatian.

Dit herinner my. Eintlik het ek gejok toe ek sê dat Brackenfell vir niks beroemd was nie. Dis nie heeltemal waar nie. In die outyd was hulle beroemd omdat hulle die eerste rêrige Moerse Groot Winkel gebou het, die famous Hipermark wat vandag staan op die gebied wat in die volksmond bekend staan as Kraaistantia (die grens tussen Brackenfell en Kraaifontein). Dit was klaarblyklik die eerste toeristetrekpleister van die omgewing.

Een van die locals vertel my toe die bekende storie van die Dalmatian genaamd Sam wat aan ’n bekende gesin in Brackenfell behoort het. Die stomme Dalmatian is dood toe hy deur ’n motor getrap is, en sy hartseer gesin het hom begrawe op die oop stuk veld waar die hipermark vandag staan.

“Hy lê omtrent waar die bevrore goedere nou is,” word daar aan my vertel, “en daar is gerugte dat as jy sy naam fluister by die bevrore mixed-veges, jy soms ’n hond voel wat asemhaal teen jou heup …”

Spirit of place.

As jy dieper delf, hoor jy dat Brackenfell sy legendes van roem het van wie mense daar buite selde praat. Blykbaar het Danie Gerber op ’n stadium hier gebly, in Lourensstraat, en so ook Balie Swart. Dit was die eerste keer dat ek hiervan gehoor het.

Toe ek egter dieper wil delf hieroor, is ek vinnig die versekering gegee dat Danie en Balie, hoewel hulle in Lourensstraat gewoon het, nie deel was van die veelbesproke “VLV-insident” nie.

“VLV-insident?”

Hulle was verbaas dat ek nog nie hiervan gehoor het nie.

“Ja, dit was ’n ander ou, die werf-etter van Lourensstraat. Hulle was die bende wat die woord ‘Poesproppe’ geverf het oor die VLV se teelepeluitstalling-banner by die dorp se biblioteek.”

Nou ja. Ek moes geweet het Danie sou nooit so laag daal nie.

Nietemin: hoewel Brackenfell nie ’n geskiedenis het van geweld nie, is dit ’n bekende feit dat jy nie moet kak soek as jy hier kom kuier nie.

Daar is ’n credo in Brackenfell: “Slaan altyd eerste, want seerkry is etter”. 

Nietemin. Teen die einde van my verblyf het ek al hoe meer tuis gevoel in Brackenfell. Toe ek dit vir iemand vertel, was sy eerste reaksie: “Jy het seker die boerewors-flavour Kool-Aid ontdek.”

Boerewors-flavour Kool-Aid? Was dit nog ’n mite? Of dalk ’n literêre kruisverwysing na Tom Wolfe?

Daar was egter een ding wat ek wou weet voor ek Brackenfell verlaat het. Gerugte van ’n “slegs blankes”-matriekafskeid het toe reeds die rondes begin doen in die nuus en op sosiale media, en ek wou dit self uit die perd se bek hoor: Is Brackenfell rassisties?

Dit het vir my uit karakter geklink. Daar was ’n tyd, lank gelede, toe Brackenfell weliswaar ’n suiwer blanke voorstad was, maar dinge het verander. Van North Pine-weg af is daar talle gemengde areas waar rasse in vrede saam woon. Die plaaslike skole, wat, sover ek vertel is, almal goeie resultate lewer en reputasies het vir streng dissipline, word bygewoon deur baie kinders van hierdie buurte, van daar die inklusiewe mengelmoes van leerders wat mens orals vryelik kan sien meng op die speelgronde.

“Ons is nie liberals nie, dis waar,” het een Brackenfeller, wat sy naam nie genoem wou hê nie, aan my gesê. “Ons sê nie woorde soos ‘Awe’ as ons mekaar groet nie. Maar ons is baie, baie baie beslis nie rassisties nie.”

Ek het hom geglo.

’n Brackenfeller sal nie oor so iets lieg nie.

’n Dag nadat ek weg is uit die dorp, het die kak die fên gestrike. Die EFF het opgeruk Brackenfell toe om ’n politieke protes van stapel te stuur.

Die Slag van Brackenfell het gebeur skaars ’n paar blokke af van die gastehuis waarin ek so gerieflik gebly het.

En toe, ewe skielik, is Brackenfell in die nuus.

Ek het gevoel ek moet iets daaroor skryf.

Ek het gevoel ek wil vertel van hoe my besoek aan Brackenfell my lewe verander het. Hoe ek my liberale snobisme teenoor die werkersklas ontgroei het.

Sedert ek in Brackenfell was, doen ek dinge wat ek nooit voorheen probeer doen nie.

Verlede week het ek ’n hele Weber-braai van scratch af aanmekaar gesit uit die boks uit met tange en spanners.

Gister het ek vir die eerste keer in my lewe ’n kar gejumpstart met kabels. Op my eentjie.

Ek hou van Brackenfell. Ek hou van die mense van Brackenfell.

Al het ek ’n vermoede daar bestaan nie regtig iets soos braaivleis-flavour Kool-Aid nie.

  • 21

Kommentaar

  • Avatar
    Hennie Taljaard

    En moenie vergeet van al die braaikamers nie. En die "urban edge". Ek het in Proteaweg gebly. Mense daar probeer maar net 'n lewe maak, survive, dis al.

  • Avatar
    Fanie de Villiers

    Goeie stuk, dankie! Boonop herinner my dit aan 'n liriek uit Ou Tannies: ... op soek na krale wat pas by hulle tuinstoelbekleedsel
    in Zonnenbloem of Brackenfell ...

  • Ek is ‘n Brackefeller, en ek glo as ek woorde moet gebruik om te sê ek is nie ‘n rasis nie, leef ek nie my beste lewe nie. My lewe lyk soos jy ons skole en dorp beskryf, ons is baie goed geïntegreerd, en my hart klop warm vir almal wat in liefde en vrede wil saam leef.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Die "slag van Brackenfell hoërskool" was 'n straatgeveg, wat vele veldtogte teen plaasterreur erg geknou het, veral in BLM Brittanje, met voorblaaie oor wit rassisme!
    Wit mans wat ou swart mans en vroue slaan in die straat, maak EFF toe net slagoffers, instede van antagoniste wat anargie saai.

  • Ester October
    Ester October

    Koos Kombuis, watter onsin skryf jy hier? Daar is geen verskil tussen die verskeie noordelike voorstede nie, Brackenfell is vinnig besig om uit te brei en plek-plek lyk dit baie better as Bellville se ouer woonbuurte. Regtig, vibocrete is volop vanuit Kaapstad tot doer anderkant Worcester. Dit is wie meeste van ons mense is, voorstedelik en tevrede. Geluk aan die wat hoë mure van baksteen kan bekostig, maar dit verander nie die 'siel' van die mens of hul identiteit nie. Ek dink jy hou vir jou baie snobberig. Het jy dan nie self in Bellville tussen vibrocrete groot geword nie? Brackenfell is niks anders as Bellville nie, dié dorp het net 'n baie mooier uitsig oor die berge as baie ander voorstede.

  • Avatar
    Karen van Jaarsveld

    Du Toit grew up in Riversdale, Paarl, Wellington, Kuruman and in Bellville, before the family settled in Stellenbosch (and later in Pretoria). Regtig André, ek dink jy moet jou mond van Brackenfell af hou. Die plekke waar jy grootgeword het is almal Brackenfell, selfs Duiwelspiek is Brackenfell.

  • Ek verbaas my nie meer oor die liberale snobisme waaraan baie mense hul skuldig maak nie. Ek het nie in Brakkenvelle groot geword nie. Ek kan my egter met die inwoners daar vereenselwig. Wat is die deursnee inwoner van die land se wens. Ek dink die oorgrote meerderheid koester dieselfde verwagtings. Die versadingspunt van aanhoudende gedwonge intergrasie en breinspoeling het aangebreek. Die mense sorteer homself uit. Moenie aan iets karring wat nie aan gekarring moet word nie.

  • Roast Beef Flavoured Cabbage Aid, aka Lost in Translation.
    Vergewe my, ek gaan in Engels pos.
    I live in Brackenfell. Admittedly a different side of Brackenfell than the more up-market side Koos Kombuis found himself on, but Brackenfell nonetheless. I've lived here twenty years. I've grown a certain affection for the place I loathed when first I moved here, but that does not blind me to the dark side. The right wing has grown considerably in recent years. Yes, the schools are solid. They are also largely untransformed. Afrikaans remains the dominant language. Many schools openly declare that they operate on Christian premises. Some of the local schools have no, or few, staff of colour. A paternalistic attitude to children of colour prevails. Among ordinary white residents I know, there is a prevailing belief that the Afrikaner is the most persecuted population in the world. I kid you not. The Stop Farm Murders movement has weight and traction here. Community whatsapp groups circulate white supremacist memes and commentaries, many drawing from Trumpian politics. As the suburb becomes more integrated, white anxiety about changing demographics becomes more overt. This is sad, but I suppose expected; as a general rule, people who have held a degree of power don't like change, and change has come fast as former smallholdings have been developed into housing estates and apartment complexes. This is one of the fastest growing areas in Cape Town. It is relatively affordable, in a city where property prices are outstripping the middle-classes capacities to own. This is a suburb where, yes, a certain quiet has prevailed. It is the quiet of conservatism, of similarity, of small-townness. And it is being challenged, as it should be, in the name of bringing it out of the early 1990s and into the 2020s, in line with Constitutional premises.
    Kombuis ends with the question of whether boerewors flavoured Kool-Aid exists. Google Translate came to my assistance. I'm delighted to assure him that roast beef flavoured Cabbage Aid is not a thing but white supremacy is.

  • Rodney Warwick
    Rodney Warwick

    Completely agree - there is really little substantial to generalize about - suburbs can differ obviously, but then it becomes an academic, sociological discussion; interesting obviously, but nothing one can easily encapsulate within flowery metaphors.

  • Ek persoonlik voel dat die gebeure in Brackenfell hoër uit verband geruk was. Eerste plek kom die eksamen van matrieks heel eerste. As iemand verstand gehad het sou hulle besef watter ontwrigting die oproerigheid veroorsaak omdat Covid 19 die hele wêreld geraak het. Ten spyte daarvan was matrieks gereed om hul laaste eksamen te skryf om hul vir hul toekoms voor te berei en te skryf. Tweedens ek wens elke matrikulant die beste toe met hul finale eksamen en om hul skool loopbaan af te sluit. Derdens die ouers kon na die koerant geskryf het of na die onderwys departement en hul teleurstelling gelig het, net om seker te maak hulle stel die kinders eerste. Nou het hulle 'n ander verskoning behalwe Covid 19 om te se hul toekoms om n regverdige eksamen af te lê deur oproerige ouers en EFF opgefoeter was. Ek vra dat mense moet dink voor hulle kinders se toekoms verongeluk het deur selfsugtige optrede.

  • Avatar
    Andre Pretorius

    Koos, regtig? Wat het jy gerook voordat jy dit geskryf het? Die artikel / rubriek / opstelletjie is die grootste snert wat jy ooit kwytgeraak het .... en ek lees jou skryfsels nogal. Ek bly nie daar nie maar het 14 jaar daar gewerk, maar ek ken nie plek waarvan jy praat nie. Donker hart? Presies die teenoorgestelde van my ervaring. Ek kan presies met Gordonsbaai doen wat jy in Brackenfell gedoen het.om vibacretemure as een of ander tiperende sosiale klassifikasiemiddel te gebruik, is net so stupid as om jou steun aan die DA te onttrek omdat hulle jou nie wou help tydens Covid nie. Jy is oningelig.

  • Ek kon sien dat ou Koos satiries skryf, maar het dit onnodig neerhalend ervaar. Ek wil hom ook herinner dat daar Brackenfellers is wat ook op ander terreine as sport presteer het of steeds ons lewens verryk: in die onderwys, letterkunde, uitgewerswese en op die verhoog en televisie. Ek het dadelik gedink aan Tilla Diedericks, Andriëtte Norman en Pedro Kruger.

  • ń Mens kan maar net lag en vertrou dat alles tong in die kies is! Om van Koos Kombuis te verwag om in Brackenfell in te pas is so goed as om die hele Suidelike Engelse bevolking te vra om agter die Boereworsgordyn te kom bly. En aan die einde van die dag is daar eintlik min verskil tussen ons almal. Miskien is Koos maar verward omdat sy Alma Mater en sy grootwordwêreld sulke uiteenlopende pole was of miskien het hy nog steeds 'n stryd met die omkyktwak! Sterkte Koos. Jy bly maar een van my heroes!

  • Dit het meer geklink asof Koos van Kraaifontein en al sy klein subseksies geskryf het. Sy skrywe klink asof hy in 'n misdaadwoongebied ingery het en toe 'n koninklike verwelkoming gekry het. Mense in areas rondom Kraaifontein het baie vibacrete en muuromheinings.

  • Vibacrete of Toskaanse kitch?
    In SA sal jy dit oral aantref, veral in Koos se eie geweste.
    Op Stellenbosch sy skoolgaandorp, bou inkommers met "witboordjie-kapitaal" een huis op twee erwe!
    Alles in die naam van wat hul duur vroue, as goeie smaak beskou.
    Indien Koos nog/weer swart harte soek sal hy dit deesdae in rooi getooi voor Brackenfell Hoër se hoofhek vind.
    Agter lemmetjiesdraad wat meer algemeen gaan word as Vibacrete.

  • Koos probeer die "warm" hart in woorde en beelde vasvat op sy unieke manier.
    Geen buurt is beter of slegter as 'n anner nie. Ons is toe almal so en geniet ook nog almal 'n "kommin" grapple ook.

  • Ek dink dis meer as tong in die kies, as mens hoor hoe die EFF die polisie afdreig. Eks bekommerd dat sulke dreigemente deur popcru gesien word as neerhalend. Die uitlatings gepaard met dreigemente is iemand wat jou uitdaag op 'n ander platform, want hy soek eintlik 'n opponent.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top