Die dokter, die Nissan en die “bankgewaarborgde” tjek

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

6 Oktober 1992 is 'n dag wat ene dr de Wet (destyds) van Sabie in Mpumalanga seker nie maklik sal vergeet nie. Hy was die trotse eienaar van 'n spogmotor – 'n Nissan Maxima – wat hy in April 1992 gekoop het. Gedurende Oktober 1992 het hy besluit om die motor te verkoop. Hy het die Nissan in verskeie koerante teen 'n prys van R95 000 te koop aangebied. Op 5 Oktober het iemand wat homself bekend gestel het as Eddie Lavot, die dokter geskakel en hom meegedeel dat hy van Francistown in Botswana bel en dat hy in die motor belangstel. Hulle het oor die motor se goeie eienskappe gepraat en Lavot het vir die dokter gesê dat hy iemand sou stuur om die motor te kom inspekteer en indien hy daarmee tevrede was, te koop. Hy sou die koopprys met 'n bankgewaarborgde tjek betaal.

Knap die volgende dag het ene John die dokter by sy spreekkamer besoek en voorgegee dat hy namens Lavot van Francistown in Botswana optree. Die motor is aan die skarminkel John vertoon – jy sal nou-nou hoor hoekom ek hom so noem – en nadat hy tevrede was met die Nissan het hy 'n tjek vir R95 000,00 – op 'n bank in Botswana getrek – aan die dokter oorhandig. Dit het gelyk na 'n bankgewaarborgde tjek, maar die dokter was nie onder 'n kalkoen uitgebroei nie en hy het die plaaslike tak van daardie bank geskakel om te bevestig dat die tjek in orde was. Die bank kon hom egter nie help nie, aangesien die rekenaar sogenaamd "van lyn" was. Die dokter het toe die tjek na sy eie bank geneem en vir hulle het dit gelyk of dit in orde was. Daarna het die dokter die Nissan aan John oorhandig, tesame met die getekende oordragdokumente. John is daarna vort in die luukse motor.

Die volgende dag het dr De Wet die tjek by die bank aangebied vir betaling. Dit is egter onteer en hy is deur die bank verwittig dat die tjek gesteel was. Dit het ook later geblyk dat die bankwaarborgstempel sowel as die handtekening vervals was en dat “Eddie Lavot” en “John” vals name was.

Dr De Wet het daarna 'n klagte van motordiefstal by die Suid-Afrikaanse Polisie ingedien. Ook het hy 'n eis teen sy versekeraars ingedien, maar dit is verwerp. Hulle was van mening dat die dokter sy motor wettig verkoop, die oordragdokumente geteken en alles wettiglik oorhandig het. In terme van die polis, so het hulle aangevoer, is die eis dus van die hand gewys onder meer vanweë die feit dat die verkoopstransaksie vrywillig geskied het en dat die dokter nou 'n verlies ly aan die opbrengs van die verkoop. Daar was 'n spesifieke uitsondering in die polis dat die versekeringsmaatskappy nie aanspreeklik sal wees vir enige eis wat ontstaan uit kontraktuele aanspreeklikheid nie.

Die motor is uiteindelik wel in Maseru, Lesotho, deur die polisie opgespoor. Die dokter het daarheen gegaan om die motor te identifiseer, maar die polisie van Lesotho het geweier om dit aan hom te oorhandig tot tyd en wyl die diefstalsaak in verband met die motor afgehandel is. Dít was steeds die toedrag van sake toe die dokter 'n eis in die hooggeregshof in Pretoria ingestel het teen die versekeringsmaatskappy vir die markwaarde van sy motor. Hy het die saak verloor en toe tot die appèlhof in Bloemfontein geappelleer.

Hoofregter Corbett het die hof se interessante uitspraak gelewer.1 Die hof het die betrokke polis ondersoek en beslis dat dit duidelik was dat dit aan die dokter dekking teen verlies of skade aan sy motor as gevolg van diefstal verleen het. Verder het die hof beslis dat dit duidelik was dat hier 'n geval was van diefstal deur middel van valse voorwendsels, wat volgens die Suid-Afrikaanse reg as 'n spesiale vorm van diefstal beskou word. Verder is daar in ons reg 'n vermoede dat by 'n kontantverkoop eiendomsreg in die koopsaak oorgaan alleen wanneer die koopprys betaal word. Omdat die tjek deur die bank onteer is, is die koopprys nooit betaal nie en het eiendomsreg dus nooit op die kêrel van Botswana, “Lavot”, oorgegaan nie. Gevolglik het die dokter nooit sy eiendomsreg prysgegee nie en kon daar onder die omstandighede nie sprake wees van 'n verlies van die opbrengs van die verkoop van die motor soos wat die versekeringsmaatskappy aangevoer het nie.

Eind goed, als goed, sou ‘n mens verwag: dit het immers begin lyk of die hof die versekeringsmaatskappy sou beveel om die dokter se skade te betaal. Daar was egter 'n interessante kinkel in die hof se uitspraak. Die regters het beslis dat toe die dokter die aksie teen die versekeringsmaatskappy aanhangig gemaak het, hy geweet het dat die motor reeds opgespoor was en dat hy dit inderdaad reeds as syne uitgeken het. Die enigste rede waarom hy nie die motor kon terugkry nie, was dat die polisie van Lesotho dit in verband met die diefstalvervolging nodig gehad het. Die hof het beslis dat die dokter ook geweet het dat sodra die strafsaak afgehandel was, hy geregtig sou wees om sy motor terug te kry en op die oog af was dit hoogs onwaarskynlik dat hy dit nié sou terugkry nie. Dit het dus vir die hof gelyk of die dokter se verlies slegs tydelik was; dat dit derhalwe nie 'n "verlies" ingevolge die polis was nie. Omdat die dokter dus gefaal het om te bewys dat hy 'n verlies ingevolge die polis gely het, is sy appèl afgewys en moes hy boonop die versekeringsmaatskappy se regskoste betaal.

Wys jou net: 'n mens kan nooit versigtig genoeg wees as jy 'n duur artikel soos 'n motor verkoop nie. Dit mag selfs wees dat iets wat na 'n bankgewaarborgde tjek lyk, nie eens die papier werd is waarop dit geskryf is nie.

1  Vgl De Wet v Santam Beperk 1996(2) SA 629 (A)


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief
. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.              

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top