Die doel van die lewe is ... lewe.
Die doel van die lewe het drie dimensies:
1. Lewe-vermeerdering en verspreiding deur voortplanting.
2. Regstellende, gesonde en langdurige lewe deur intelligensie, tegnologie en kultuur.
3. Ewige lewe deur kennis, moraliteit en etiek.
Hierdie drie dimensies van lewe vorm saam een geheel. Die lewe mis sy doel sonder een van die dimensies.
Die Bybelskrywers het dit ook geweet, die drie-enige doel van die lewe. Die Bybel trek weg met nommer 1: wees vrugbaar en vermeerder, en eindig met nommer 3, die ewige lewe deur kennis en etiek.
Die huidige Westerse ekonomiese krisis, is ’n krisis van die lewe in al drie sy dimensies. Ons weet dis dom om te veel geld te skep (intelligensie dimensie 2), en oneties om groot banke en ryk spekulante voor arm en werkende mense te red (etiese dimensie 3), maar hoeveel van ons weet dat die gebrek aan vrugbaarheid en voortplanting (demografiese dimensie 1) ook ’n fundamentele oorsaak van die Westerse ekonomiese krisis is?
Ja, daar is reeds te veel mense op aarde, maar te min jong Westerlinge werksaam in die "ontwikkelde" Westerse ekonomie vir die hoeveelheid afgetrede ou mense om die somme te laat klop.
Die Weste se ekonomiese agteruitgang is deels weens sy demografiese "deficit" (dimensie 1), deels weens etiek-tekort (dimensie 3), en deels weens kultuurontwrigting (dimensie 2).
Die Weste mis dus sy doel van lewe, en daarom tree die dood vir die Weste stadig maar seker in. Dit is nogal ’n treurige storie, omdat die Weste as lewende kultuurorganisme die kennis (dimensie 3) gehad het, en tegnologie (dimensie 2) om waarskynlik ewig te kan lewe. So gesien is die gebrek aan spesie voortplanting (dimensie 1) deurslaggewend tot die dood van ’n suiwer geestelike wese – ’n kultuurorganisme soos die Weste.
Bostaande is ironies, want daar bestaan geen gebrek aan die wil tot voortplanting nie. Seks in die Westerse kultuur is glad nie taboe nie, en word baie beoefen en visueel gesimuleer om te stimuleer. Instinktief het die Rooms-Katolieke Kerk en Pous – beide Westerse verskynsels en simbole – dit reg gehad: die intelligente tegnologie van kondome en ander goeie voorbehoedmiddels wis die Weste uit.
Die herinner aan Paulus se definisie van sonde: sonde is sonde omdat dit deur die goeie die dood bewerk.
En dit laat dink aan bakterie: hoe minder intelligensie, hoe beter vir langdurige lewe.
Wat is nie sonde en nie doelmis nie? Dit wat tot gesonde, regstellende en ewig-langdurige lewe lei.
Terloops, wat is die oorsprong van lewe? Lewe kom van ...
Ran Doodt

