Die doel van die kykNET Silwerskermfees 2014

  • 0

Met 118 jaar onder sy belt kom die Suid-Afrikaanse filmbedryf al ’n lang pad, maar tog praat ons van ’n ontwikkelende filmbedryf. Die afgelope paar jaar beleef Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse, film ’n opbloei en plaaslike filmfeeste mag dalk ’n groot rede hiervoor wees. Met ’n wye verskeidenheid Afrikaanse en Suid-Afrikaanse films uit verskeie genres is die filmganger bederf met keuse. Onlangse loketsyfers wys dat plaaslik-vervaardigde rolprente die afgelope jaar meer as R98 miljoen verdien het (Pople 2014).

Ten spyte van die sukses van plaaslike film, bestaan die Suid-Afrikaanse filmbedryf meestal uit internasionale titels. In ’n bederfde samelewing waar die filmkyker al genoeg rolprente gesien het om homself te oortuig dat die beste films uit Hollywood of Brittanje kom, bied plaaslike filmfeeste vir nuwe en veteraanfilmmakers die geleentheid om in die kryt te klim en mee te ding. Die vierde kykNET Silwerskermfees wat onlangs by die Bay Hotel in Kampsbaai plaasgevind het, is een so fees.

Die kykNET Silwerskermfees is een van Suid-Afrika se jaarlikse filmfeeste waar nuwe en veteraanfilmmakers hul werk aan vervaardigers, verspreiders en die wyer publiek ten toon stel. Die fees geniet veral aandag met sy vele premières wat draai – 10 by die 2014-fees, insluitend Jans Rautenbach se eerste film in 30 jaar – en die geleentheid wat vir aspirantfilmmakers gebied word om ’n kortfilmkonsep, of bestaande films wat ’n platform soek, aan kykNET voor te lê vir moontlike vervaardiging. Volgens Anneke Villet het die kortfilminskrywings met byna ’n derde gestyg teenoor verlede jaar (Villet en Meyer 2014).

Die proses werk so: kykNET bied aan 15 kortfilmmakers die geleentheid om ’n filmkonsep in ’n 24-bladsy-draaiboek onder die mentorskap van kundige draaiboekskrywers en vervaardigers te ontwikkel en dit dan op die silwerdoek by die fees te vertoon (Villet en Meyer 2014). Leon van Nierop wys daarop dat daar elke jaar mentorskap aan die nuwe filmmakers gebied word en dit as ’n leerskool vir die gekose opkomende storievertellers dien (kykNET 2014). Dit bied natuurlik ook die geleentheid om vervaardigers te beïndruk en om skouers te skuur met ander in die bedryf. Die gekose kortfilms sal uiteindelik ook op kykNET uitgesaai word. Die moontlikhede om raakgesien te word, is legio! Villet wys byvoorbeeld na die 2012-korfilm Die buurtwag wat tans in ontwikkeling is as ’n TV-reeks en later die jaar in produksie ingaan (Villet en Meyer 2014).

Ten spyte van die moontlikhede wat feeste soos die kykNET Silwerskermfees vir aspirantfilmmakers skep, is die Suid-Afrikaanse filmbedryf nie sonder sy probleme nie. Die plaaslike filmkyker is kieskeurig en die plaaslike film moet alte gereeld teen internasionale titels met groter begrotings kompeteer. As die argiewe van die plaaslike filmbedryf nagegaan word, is die tekens van ’n “aanhouer wen”-mentaliteit egter deurgaans teenwoordig. Filmkenner en navorser Martin Botha noem dat joernaliste gereeld ’n oplewing in die filmkuns aangekondig het en wys op die uitdagings wat die Suid-Afrikaanse filmbedryf al moes deurgaan (2014). Hy noem dat daar wel al oplewings in die filmbedryf was. Hy verwys na filmmakers soos Jamie Uys, Emil Nofal en veral Jans Rautenbach wat die “filmmedium gebruik vir persoonlike uitdrukking en (om) mee te eksperimenteer” (2014). Hy sonder veral vir Rautenbach uit: “Waar die meeste Afrikaanstalige films bloot verstrooiingsvermaak was, het Rautenbach ernstige vrae oor die rol van die Afrikaner in ’n multikulturele samelewing gevra” en span sy tematiese draad van die identiteit van die Afrikaner dwarsdeur sy werk (2014). Die 1970’s is egter oorheers deur films wat met klassieke narratiewe strukture gewerk het. Rautenbach het in hierdie tydperk ’n radikale vernuwing tot stand gebring, veral ten opsigte van politieke modernisme in die Europese kunsfilm. Hierdie vernuwing het nou aangesluit by die literêre stroming van die Sestigers, soos Leroux se Sewe Dae by die Silbersteins en Brink se Lobola vir die Lewe. Tog was die vernuwing as geheel onsuksesvol. Volgens Rautenbach sou vernuwing in die vroeë jare sewentig van die vorige eeu moontlik gewees het as daar ’n kollektiewe poging tot draaiboekskryf onder skrywers voorgekom het. Botha (2014) skryf dat waarskynlik te veel faktore teen hierdie vernuwing getel het: gebrekkige filmsubsidiëring en geen ontwikkelingsbefondsing nie, gebrekkige verspreiding van plaaslike films, streng sensuur, hoofsaaklik wit filmgehore wat “meestal net na verstrooiing gaan kyk het”, en die gebrek aan ’n nasionale filmkultuur.

Die jare tagtig het gesorg vir ’n bloeitydperk rakende kwaliteit, met 735 vollengtefilms wat gemaak is. Sterker verhaalstrukture is nagestreef en daar is geëksperimenteer met filmtaalelemente soos kamerawerk, redigering en klank (Botha 2014). Die kortfilm beleef ook in die tagtigerjare ’n bloeitydperk, al is temas aanvanklik beperk tot anti-apartheid-tekste (Botha 2012).

’n Tydperk van stagnasie volg in die jare negentig, toe slegs 186 rolprente vervaardig is, met weinig estetiese hoogtepunte. Volgens Botha was dit ’n oorgangstydperk waarin strukture om ’n postaparheidsfilmbedryf te ontwikkel en stimuleer, geskep is. Die tekens van ’n filmoplewing was egter sigbaar, maar die filmbedryf moes wag tot die 21ste eeu vir ’n werklike oplewing.

Botha sonder 2010 uit as ’n betekenisvolle jaar, met 20 vollengtefilms wat in ’n enkele jaar verfilm is – ’n prestasie wat die bedryf nie sedert 1991 behaal het nie. Ongelukkig verdwyn Afrikaanstalige films gedurende hierdie tydperk vir byna ’n dekade van die silwerdoek. Die Afrikaanse films wat wel die silwerdoek bereik, kan egter gekritiseer word aangaande die uitbeelding van die Afrikaner van die 21ste eeu, spesifiek of hierdie uitbeelding herkenbaar en genuanseer is (Botha 2014). Pynlike selfondersoek ontbreek byvoorbeeld in onlangse Afrikaanse films soos Roepman (2010), Verraaiers (2012) en Die Wonderwerker (2012).

Aan die ander kant van die muntstuk is stereotipiese komedies soos Bakgat (2007) en Pretville (2012) blote verlenging van die verstrooiingsvermaak wat die jare sestig en sewentig oorheers het (Botha 2014). Hierin is dit duidelik, skryf Botha, dat daar “geen poging (is) om ’n herkenbare Suid-Afrika van die 21ste eeu te skep nie, eerder ’n vermyding daarvan”. Die huidige filmkuns gebruik eerder graag bekende genres om groter sukses by die plaaslike filmpubliek te verseker (Botha 2014). Periodedramas is skaars, maar regisseurs is bereid om met die medium te eksperimenteer en films oor sosiale taboes te maak (Botha 2014).

Wat staan die plaaslike filmbedryf dan te doen as veral Afrikaanse filmkuns nie ’n “herkenbare” Suid-Afrika skep nie? Is die aanbod vir plaaslike filmkuns groot genoeg om dit te bewerkstellig, of is die aanbod daarna dalk te veel? Help filmfeeste enigsins vir die uitbreiding van plaaslike filmkuns? Die skep van ’n produksie- en moontlike verspreidingsplatform is tog allesbehalwe skadelik in ’n mark wat dors na plaaslike stories, selfs as van die temas, soos Botha sê, ’n verlenging van blote verstrooiingsvermaak is.

Tydens ’n gesprek oor die gevare van ooraanbod wat by die kykNET Silwerskermfees plaasgevind het, is gevra of ons tans te veel films maak en of ons mark verdun word tot die punt waar dit byna onmoontlik raak om geld te maak. Daar is ook gevra of ons meer krities te werk moet gaan met onsself en die aanbod dalk moet verminder. As aanduiding van die filmmark en plaaslike film se plek daarin noem Clive Fisher van Ster-Kinekor Films byvoorbeeld dat 7% van die 300 films wat hulle per jaar uitgee, plaaslike films is. Volgens Fisher hanteer Ster-Kinekor 60% op die oomblik van die Suid-Afrikaanse filmmark, en beslaan die Afrikaanse films wat deur Ster-Kinekor uitgegee word, 75% van die Afrikaanse filmmark.

Aangaande die landskap van plaaslike en veral Afrikaanse film en of te veel films vervaardig word, meen Helen Kuun van Indigenous Film dat daar te veel films, internasionale films ingesluit, vir die beperkte getal beskikbare speelskerms uitgegee word. Die bedryf moet slimmer werk oor watter films kinematies is en sodoende dit wat wel die silwerskerm bereik, ’n regverdige kans gee om mee te ding, sê sy.

Debbie McCrum van Times Media Film (voorheen NuMetro Film) wys byvoorbeeld op die vermeerdering van films wat hulle van 2013 tot 2014 uitgegee het: om en by 22 plaaslike films in 2013, waarvan 11 Afrikaans was, en 2014 met om en by 25 plaaslike films, waarvan 13 Afrikaans is. Sy voel dat ’n mens eerder moet vra of die Suid-Afrikaanse filmbedryf te veel van dieselfde tipe films vervaardig, of dalk te veel Afrikaanse films vervaardig: As byvoorbeeld 12 Afrikaanse titels ’n jaar verskyn, is dit een per maand, wat die vraag na Afrikaanse films dalk kan oorskry. Kuun wys daarop dat in die laaste 30 jaar 52 Afrikaanse films vrygestel is, waarvan 42 in die laaste vier jaar was. Hierdie Afrikaanse films verdien tussen 24 en 25 miljoen rand by die loket per jaar, ongeag die getal Afrikaanse films wat draai. Die gehoorgrootte wat hierdie films sien, wissel tussen 7 000 en 10 000 fliekbywoners per jaar, wat daarop dui dat die filmgehoor nie groei nie en met die getal Afrikaanse films wat vermeerder, verminder die frekwensie waarmee na die films gekyk word. Die antwoord lê, volgens haar, daarin dat ander platforms, digitaal en ander, meer effektief ingespan moet word, omdat die silwerskerm nie die enigste vorm van verspreiding is nie.

Fisher wys op die probleem van die periode aangaande die verspreiding van Afrikaanse films: as al die films byvoorbeeld gedurende die piekperiodes soos skoolvakansies draai, ding dit eenvoudig met groter internasionale titels mee, asook teen mekaar. Ooraanbod gedurende sekere periodes is dus ’n probleem, maar hy voel dat plaaslike films, afhangend van die periode waarin dit draai, die potensiaal het om lang periodes te draai en nie met groter internasionale titels hoef te kompeteer nie.

Sommige kritici lig kwaliteit uit en stel voor dat die Afrikaanse filmbedryf dalk ’n soort waghond moet aanstel om te bepaal wat uitgegee word – ’n proses wat die kwaliteit van die Afrikaanse filmkuns dalk kan bevorder, maar tog te veel herinner aan ’n sensuurraad.

Deon Meyer, romanskrywer en filmmaker, stem nie hiermee saam nie. Hy beklemtoon dat die Afrikaanse filmbedryf ’n ontwikkelende een is en dat die mark moet besluit wat uitgegee moet word en wat nie: “Hoe meer die gehoor toegang het tot Afrikaanse films, hoe meer kan hul ingeligte besluite neem (oor wat goed is en wat nie) volgens hulle eie smaak.”

Dit is duidelik dat daar nie ’n wetenskap betrokke is met die bepaal van watter film of tipe film suksesvol gaan wees nie.

Die vraag of die plaaslike filmbedryf te veel films produseer, kan ook op verskeie maniere benader word en uit die voorgaande is dit ook duidelik dat dit dalk die verkeerde vraag is, of dat dit anders benader moet word.

Argumente aangaande speelperiodes en mededinging staan dalk ook nie die algemene gehoor aan wat blote vermaak nastreef nie. Dalk moet daar eerder sterker klem gelê word op die kwaliteit van die fliek.

Meyer wys egter daarop dat die Afrikaanse filmbedryf steeds ontwikkel, nes Botha aandui dat die Suid-Afrikaanse filmkuns steeds ontwikkel.

Ongeag die getal en kwaliteit films wat jaarliks verskyn, is dit belangriker dat Afrikaanse films bly verskyn en dat filmmakers toenemend bereid is om in die medium te werk. Is dit dan nie waar die filmfees as mediator intree om ’n blik te gee van wat beskikbaar is nie? Kortfilms veral bied vir jong en aspirantfilmmakers die geleentheid om hul talente te ontwikkel en so ook die geleentheid om potensiële verspreiders te wys wat hulle kan doen. In hierdie vorm bestaan daar ’n moontlikheid om die kwaliteitsaspek van ’n onervare filmmaker waar te neem voor groter projekte gefinansier word. Kortfilms kan ook maklik op sosiale media versprei word en sodoende ’n nuwe potensiële filmmark bereik of skep.

Nes by ander kunsvorme word kunstenaars, in hierdie geval filmmakers, gebore deur na kuns te kyk en met die medium te eksperimenteer. ’n Groter verskeidenheid Afrikaanse films is dalk die antwoord, want daaruit ontwikkel nuwe stemme in die filmkuns. Uit die 2014 kykNET Silwerskermfeestoekennings wat aan die einde van die fees toegeken is, is dit duidelik dat nuwe stemme in die filmkuns wag om deur te breek. Met Vuil wasgoed (Bennie Fourie) wat met die toekenning vir die beste kortfilm weggestap het, en Travis Taute en Nosipo Dumisa wat as beste kortfilm-regisseurs aangewys is vir Nommer 37, kan ons groot dinge verwag. Nommer 37 se Daryne Joshua is ook bekroon met die toekenning vir die beste kortfilmdraaiboek. Die vollengtefilm Die Windpomp (Etienne Fourie) het weggestap met toekennings vir die beste film, beste regisseur en beste draaiboek.

Hollywood in my huis is as die gehoorgunsteling aangewys.

In ’n ontwikkelende filmkuns is dit egter verfrissend om te weet dat die getal plaaslike en veral Afrikaanse films wat per jaar vervaardig word, toeneem en dat die plaaslike filmgehoor daarmee saam die geleentheid het om te bepaal wat goed is en wat nie. In ’n tyd en samelewing wat dors na stories, is dit goed om te weet dat Afrikaans die filmkuns met sy eie fees vier en ontwikkel en sodoende sy eie plek langs ander (ernstige) kunsvorme bied. Twintig jaar ná demokrasie verstaan ons nog alte goed dat dinge wat nog ontwikkel, nie net leiding deur mentorskap nodig het nie, maar ook beskerming. Die rol wat ’n fees soos die Silwerskermfees inneem, is beide. Daarvoor sê ek bravo vir die kykNET Silwerskermfees en ’n luide applous vir die toekoms van Afrikaanse film.

Bronne
Botha, M. 2012. South African Cinema 1896–2010. Intellect: Bristol
—. 2014. Die Suid-Afrikaanse filmbedryf sedert 1994. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/Article/die-suid-afrikaanse-filmbedryf-sedert-1994.
kykNET Silwerskermfees. 2014. Gesprek: Die gevare van ooraanbod. Donderdag, 28 Augustus. Kampsbaai.
kykNET 2014. Leon van Nierop glo in die Silwerskermfees. Beskikbaar: http://kyknet.dstv.com/category/programme/silwerskermfees.
—. 2014. Silwerskermfees: En die toekenning gaan aan ... Beskikbaar: http://kyknet.dstv.com/category/programme/silwerskermfees.
Pople, L. 2014. Die Burger aanlyn. Silwerskerm-Rolprentfees. ’n Ryke oes SA flieks. Beskikbaar: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-08-22-silwerskerm-wys-aksie-in-bedryf.
Villet, A. en N. Meyer. 2014. Stuur jou film vir die kykNET Silwerskermfees 2014. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/Article/stuur-jou-film-vir-die-kyknet-silwerskermfees-2014.

Kyk wie was die wenners by die kykNET Silwerskermfees 2014.

Lees Martin Botha se oorsig oor die Suid-Afrikaanse filmbedryf sedert 1994.

Lees 'n webseminaarbydrae oor die skryf van draaiboeke.


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top