James Wellwood Basson, gebore op 8 Januarie 1946 in die Wes-Kaap se Swartland-landboustreek, het in ’n huis met rakke vól boeke opgegroei, lees ’n mens in die eerste hoofstuk van Whitey, Niel Joubert se pasverskene biografie oor die “sakereus van Shoprite”.
Saam met hom was daar twee sibbe, suster Juel en broer Jan, en twee “hoogs intelligente” ouers, Jack en Maria (of Maude). Terwyl die ander mense van hulle omgewing nog net Die Kerkbode, ’n lyfblad van die NG Kerk, gelees het (só het ma Maria teenoor die kinders geskerts), het hulle al reeds Shakespeare gelees.
Pa Jack se gunstelingboek was ’n biografie oor Napoleon, waarvan hy die inhoud so goed as uit sy kop geken het. En ek dink so by myself: hoeveel van ons sou, as ’n mens self jou ouers kon kies, ook eerder wydbelese ouers wou hê, hoogs geskoold en met geen materiële tekort nie?
Maar dan tref die werklikheid van die digter SV Petersen se “armmans-kinders” meteens: boeke is nie brood nie, skryfstyle kan nie die honger stil nie, en leestekens kan nie die dors les nie. Tog moet daar ook genoeg waarheid in die gedagte steek dat ’n mens jou in ’n sekere sin “ryk” moet kan lees sodat jy gemakliker as jou bediende-ma en munisipale werker-pa deur die lewe kan gaan, beter ekonomiese geleenthede kan identifiseer en toegang daartoe verkry, en dat jy in ’n verskeidenheid geselskappe en situasies jou plek vol sal kan staan.
Juffrou Schoonees sweer sy het dié potensiaal in dié oudleerling van haar by Swartberg Sekondêr raakgesien toe hy gereeld sy pouses by haar in die skoolbiblioteek kom deurbring het, terwyl die ander kinders iewers op die terrein gespeel en dalk ook skelmpies gerook het. Nou, drie dekades nadat ’n tweede, selfopgelegde beroepsballingskap in Gauteng vroeër vanjaar geëindig het, is hy bevoorreg – en trots daarop – om sy eie tuisbiblioteek teen ’n muur van sy sitkamer te kon inrig. Sy gaste is oombliklik beïndruk wanneer hulle sy huis binnekom, en as dit vleiend is, word dit onmiddellik gevolg deur ’n angstigheid oor die onvermydelike vraag: “Het jy ál die boeke gelees?!” Waarop die antwoord is (verleë, verskonend): “Nog nie, maar ek sál nog – ééndag...”
Dié mymeringe net ter inleiding van ’n kort opstel oor die dilemma van ’n agterstallige leser.
***
Een van die heel eerste boeke wat ek as ’n jong volwassene gekoop het, was die kunstenaar en skrywer Peter E Clarke se Plain Furniture, waarin hy onder meer skryf oor die tye dat hy saam met sy pa Dickie skape opgepas het. Tot op daardie stadium was ek op biblioteke aangewese: die beperkte titels en genres wat in ons “bruin” buurt se klein bibliotekie beskikbaar was (voordat ons die groter, beter toegeruste biblioteek in die “wit” deel van die dorp mog besoek), en natuurlik die skoolbiblioteke by die laer- en hoërskool. In later jare kon ek na willekeur boeke uitneem by die stadsbiblioteek in die Moederstad, die SAUK-biblioteek in Auckland Park, en ook op universiteitskampusse.
Maar die grootste genot het my oorval wanneer ek die geld kon uithaal om in boekwinkels en by -bekendstellings of kunstefeeste boeke van die skrywers self of verteenwoordigers van winkels of uitgewers kon koop. Die laaste van só ’n geleentheid was die Etienne van Heerden-veldsoirée in Cradock: Marnus Hattingh (Zanzibar Zen) en Freek Robinson (Op die man af) is twee van die skrywers wat deelgeneem het en wie se boeke ek kon aanskaf, terselfdertyd het ek uit die pen van die skrywer wat deur dié saamtrek van boekmense gehuldig word, Die biblioteek aan die einde van die wêreld saamgeneem (om geteken te word) en Die wêreld van Charlie Oeng daar aangeskaf.
Terug by die huis het ’n aantal onlangse titels, waarvan ek sommige as resensie-eksemplare ontvang het, in geen bepaalde orde gewag: Julian Jansen se optekening van “[t]wee dekades se skokverhale” uit die Eikestad, Moord op Stellenbosch; akteur Lindie Stander se persoonlike stryd weg van die kameras af, Agter my glimlag, soortgelyk aan die jeugpastoor Ivor Swartz se Kies die lewe oor hoe om te “leer dans in depressie”. Ook is daar James Patterson se gelyknamige memoires oor sy beginjare en lewe as ’n skrywer van besteverkopers (waarvan ek tot my spyt nog nie een gelees het nie); NoViolet Bulawayo se Glory – ’n fantastiese interpretasie (in navolging van Animal farm deur George Orwell) van die laaste jare van vryheidsvegter cum verdrukker Bob Mugabe, asook haar Zimbabwiese landgenoot Tsitsi Dangarembga se roman This mournable body, waarmee laasgenoemde verlede naweek die FT Weekend se Vroue van 2022-lys gehaal het.
Oor die kwessie van ras, ’n samelewingstema waaroor ek my gereeld in my rubrieke en meningsartikels bemoei, die volgende titels: Whites and democracy in South Africa (professor Roger Southall); Coloured – To be or not to be? (pastoor Simon Khoi Seekoei); Farm killings in South Africa (Nechama Brodie), saam met hierdie drie uit Amerika: Living while Black (Guilaine Kinouani); Why are all the Black kids sitting together in the cafeteria? (Beverly Daniel Tatum), en What the children told us (Tim Spofford) oor die sielkundiges Kenneth en Mamie Clark se lewe en die lesse wat geleer is uit hul “poppe”-toets wat met swart kinders en wit poppe gedoen is.

Ander boeke wat uit die hand uit gekoop is of deur die skrywers aan my as geskenke gegee is, sluit in die jong digter Neville Pedro se bundel, Psalms van ’n plaaskind; doktor Samuel Pick se outobiografie, Die lewensreis van Samuel Pick, seun van die Hantam, en Geduld Veldsman se Rising eagle – Soaring and raging above the storm, waarmee hy ander wil inspireer om hulle nie te laat onderkry deur armoede en hongerte nie.
Ter aansluiting by die biografie oor Whitey Basson, ook hierdie boeke oor twee ander sakemagnate: Koos Bekker’s billions deur TJ Strydom, en Patrice Motsepe – An appetite for disruption deur Janet Smith. En dan wag ander boeke oor plaaslike en internasionale aktuele sake ook nog om klaar gelees te word: Douglas Murray se The war on the West, waarmee dié Britse neo-konserwatiewe skrywer en kommentator vasskop teen die aftakeling van alles wat histories, polities en kultureel as “westers” beskou word, en Jacques Pauw se Our poisoned land – Living in the shadows of Zuma’s keepers, ’n opvolg op sy blitsverkoper The president’s keepers.

Die kanse is goed dat daar nóg boeke op die wag-om-gelees-te-word-lys of die onafgehandelde lys is, waarvan ek dalk nou vergeet. Hoe durf ek byvoorbeeld Antjie Krog se nuutste aanbod, Plunder, weglaat – hierdie bevestiging van hoedat sy haarself telkens as digter onderskei van die res, en (sjoe!) wat ’n verrassing is die debuutroman deur ’n ander uitsonderlike (Amerikaanse) digter, Honorée Fanonne Jeffers, nie: The love songs of W.E.B. du Bois.

’n Mens hoef slegs maar die openingsparagraaf te lees om dieselfde gevoel te ervaar as dit waarmee jy gelaat word met die lees van Krog se Country of my skull. Die woorde en die ritme is poëties mooi én plofbaar:
We are the earth, the land. The tongue that speaks and trips on the names of the dead as it dances to tell these stories of a woman’s line. Her people and her dirt, her trees, her water. We knew this woman before she became a woman. We knew her before she was born: we sang to her in her mother’s womb. We sang then and we sing now.
Hier sit ek dan nou sonder ’n idee oor hoe ek gaan kan inhaal en watter boek(e) om eerste te takel. “Lees jouself in ’n fees,” sou goeie aanmoediging kon wees, maar dit is makliker gesê as gedaan. Die komende feesseisoen is ook net só lank (of só kort) en daar is soveel ander dinge as lees (familie, vriende, versoekings en versierings) wat ’n mens se aandag vereis.
“Teen tyd is die mens / se stryd,” dig Neville Pedro in sy bogenoemde bundel, kompleet asof hy gevra is om die dilemma van ’n ywerige boekkoper, maar agterstallige boekleser, te beskryf. Wat sal my tog makeer om oor die feestyd ook ’n ander malperd – om ’n manuskrip af te handel – op te wil saal?

