Die demografie van Afrikaans

  • 9

Heelwat opinies is onlangs hier gelug oor Afrikaans en die manier waarop dit gepraat word. Mense soos Jan Rap, Reusedwerg, FC Boot en ’n paar ander is erg krities oor die “onsuiwer” Afrikaans wat gehoor word op RSG en KykNet onder andere.

Om oor die toekoms van Afrikaans te bespiegel (en te stry!) is dit belangrik hoeveel mense “standaard-afrikaans” praat en hoeveel nié, en wie in die toekoms vir Afrikaans se voortbestaan gaan sorg. Volgens die jongste (2011) sensus was daar in totaal nét kort van 51 miljoen mense in Suid-Afrika, waarvan 6.8 miljoen Afrikaans huistalig is. (13.5% van die totale bevolking).

Die sensus toon verder daar was 4.7 miljoen bruin mense en 4.5 miljoen wit mense. Kom ons aanvaar die helfte van die wit mense praat Afrikaans tuis. Dit gee so rondom 2.25 miljoen wit Afrikaanssprekendes. Dit beteken dus dat 4.55 miljoen Afrikaanssprekendes nie wit is nie! Hierdie is die bruin gemeenskap en dís die mense waarvan ’n groot persentasie nie sg standaard Afrikaans praat nie. Nie net Kaaps nie, maar ook ander streeksvariante soos Bolandse, Namakwalandse en Noord-Kaapse Afrikaans. Dis die variant van Afrikaans wat hulle aan moedersknie geleer het en al vir meer as ’n honderd jaar of wat praat. Daarbenewens is daar ook ’n deel wit Afrikaanssprekendes (deel van die 2.25 miljoen) wat óók nie standaard Afrikaans praat nie.

Hierdie 67% plus van die Afrikaanssprekendes praat nie “suiwer” genoeg vir Jan Rap en die ander wat soos hy dink nie. Volgens Jan Rap en kie mag al hierdie mense nie soms húl weergawe van Afrikaans op RSG, KykNet en deur verslaggewing aanhoor nie, want hulle “besoedel” die taal.

My punt is dat dit selfmoord vir Afrikaans sou wees om byna 70% van sy sprekers te ignoreer by bv RSG en KykNet. Hoe kan jy vir 4.5 tot 5 miljoen Afrikaanssprekende mense sê ons laaik nie julle manier van Afrikaans praat nie, so weg is julle! Watter boodskap sou so ’n verbod uitstuur na hierdie oorgrote meerderheid? Julle is minderwaardig en nie goed genoeg om in júlle spreekwyse na julle moedertaal te luister nie?

Dan is daar natuurlik nog die kwessie van finansies. Moderne uitsaaiers oorleef op advertensies en borge. Hoe gaan RSG oorleef deur sy luistertal met 60% te verminder as die stasie hierdie luisteraars verjaag? Afrikaans se toekoms, is ek bevrees, lê nie net in die hande van die “suiwer” sprekers daarvan nie. Inteendeel, dis die meerderheid “onsuiwer” sprekers wat gaan bepaal of Afrikaans homself gaan handhaaf en oorleef. Dit sou onsinnig en dwaas wees om hierdie Afrikaanssprekendes te vervreem. Afrikaans het nog altyd verskillende variasies gehad en ons moet vrede maak daarmee.

  • 9

Kommentaar

  • Om na statistieke te kyk is goed en wel. Jy het seker van die statistiekstorie gehoor. Iemand het dit in Kaaps vir my vertel. Die juffrou vra die klas om 'n sin te maak met statistiek. Die kind spring op en sê, "djuffrou onse huis was die nawiek so vol my sussie moes oppie stoep statistiek."

  • Dirk

    Baie goed raak gevat en gestel. Ek bly in die Kaap en beweeg heeldag tussen die Afrikaners wat Jan Rap so veroordeel. Net soos ek geloof in 'n superwese god ontgroei het het ek my obsessie met suiwer Afrikaans ontgroei. Dit bly steeds vir my mooi as iemand Afrikaans mooi praat - Piet Croucamp is 'n goeie voorbeeld. Ek stem saam dat ons alle vorme van Afrikaans moet koester - daarin lê ons oorlewing.

    Groetnis
    Thomas

  • Reusedwerg,

    In plaas daarvan om 'n pejoratiewe opmerking te maak oor mense wat anders gekleurd is as jy, wil jy nie net één keer probeer om sinvol tot die debat by te dra nie? Probeer ten minste selfs al weet jy nie regtig hoe nie. Was die stoep se gedagtes die eerste ding waaraan jy kon dink toe jy iets lees oor die stand van Afrikaans? Dink jy gereeld aan die stoep?

    Stoepstoriegroete.
    Dirk

  • Dis reg Thomas, ons moet alle vorme van Afrikaans koester. Koester in die ware sin van die woord; beskerm en troetel as 'n kleinood en op so'n wyse dan sorg dat Afrikaans gedy. Afrikaans vermeng met 40% Engels is egter nie Afrikaans nie, trouens, as mens Afrikaans koester sal jy ten alle koste hierdie vermenging vermy want dit verarm Afrikaans en lei uiteindelik tot sy ondergang.
    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan,
    Jy kom so stadigaan halfpad reg: Afrikaans vermeng met Engels is nie Afrikaans nie, en dan moet jy byvoeg, dit is ook nie Engels nie, dis 'n nuwe taal. Hieraan kan niemand iets doen nie, dit is presies hoe taal maak, van Indo-Europese dae af en selfs nog vroeër. Verduidelik asseblief hoe jy by die verarming kom. Raak die taal daardeur onbruikbaar vir kommunikasie? Hoe so?
    Groete,
    Angus

  • Ou argumente. RSG moet 'n standaard handhaaf soos Engels in ander lande ook tydens nuus moet hou by standaard Eng. Variante is wel kosbaar, maar taalverskuiwing is egter 'n groot werklikheid wat baie nog ontken, al sukkel die gemiddelde spreker om twee sinne vlot Afr te praat (maar Eng geen probleem om suiwer te praat!). Standaard Afr is nie die skurk nie, want ons is mos Eng se bitch.

  • Hallo Angus
    Wat 'n laggertjie; jy reken ek kom so stadig reg. Hierdie slenter van jou gaan nie werk nie.
    Jy sê ek kom nou stadigaan reg en wat dan volg is presies wat ek van die begin af vir jou (en Dirk) sê: Die mengeltaal daar in die Kaap is nie 'n verryking van Afrikaans nie, want hulle vervang Afrikaanse woorde met Engelse woorde. Dit is ook nie 'n variant van Afrikaans nie want dit is nie Afrikaans nie en iets wat nie Afrikaans is nie kan nie Afrikaans verryk of red nie.
    "Ek bereik gewoonlik die doelwitte wat ek vir myself gestel het" is gewone Afrikaans, nie domineetaal soos jy beweer vir "usually as ek vir my goals geset het achieve ek hulle" nie.

  • Beste Dirk

    Aangesien jy my insleep by jou kommentaar, enkele gedagtes.Dit gaan nie soseer vir my oor die suiwerheid van Afrikaans nie, maar eerder oor die vermenging van tale.

    Kaapse Afrikaans moet 'n dialek van Afrikaans wees en nie 'n mengeltaal nie.Trouens hoe bied 'n mens 'n taal bv as onderrigtaal aan bv Afrikaans as die onderwyser die taal so vermeng dat jy nie weet of dit swak Engels of Afrikaans is nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top