Die delivery man, verslag twee deur Eben Venter

  • 0

’n Ghettostorie in ghetto-idoom vertel. ’n Spanningselement word geskep deur die beplanning van ’n reis en ’n pakkie wat afgehaal en dan afgelewer moet word. Bo die plan swewe die verteller met sy droom van geld en ’n regte job, ’n motorbike en girls. Die leser kan nie met sekerheid sê tot watter etniese groep die verteller behoort nie, en dit maak ook nie saak nie. Ons weet wel dat Patrick (dalk) van die Kongo is, en een slag word daar verwys na die “boy” by die garage, wat kan dui op ’n wit verteller/“ons Afrikaners”, maar ook dit maak weinig saak, want die verteller sal, as hy eers geld het, ’n girl van enige etniese groep vat.

Na hersiening het die verhaal nie veel verander nie. Die veranderinge wat wel aangebring is, werk goed. Die verhaal het van meet af oortuig vanweë die spil waarom dit draai, en dié spil is nie soseer die verhaal self nie, maar die vertellerstem. Van Wyk het die stem uitstekend afgeluister en weergegee. Dis soms ook baie snaaks: “Watse kak is dit? Wie doen business in ʼn zoo? Omgodsnaam.” As dit nie vir die vertellerstem was nie, sou die verhaal taamlik gewoon bly: Twee doodgewone, armerige ouens maak ’n plan om sommer gou groot geld in die hande te kry, plan word uitgevoer, plan misluk.

Hoe kan die skrywer dan tog die verhaal verder afwerk en stileer om ’n hoër kerf te haal?

Daar is drie aspekte waaraan Van Wyk aandag kan gee: taalversorging, pas en/of verdigting en die hersiening van die slot.

Taalversorging en stilering:

Die idioom oortuig en voer die leser mee, soos ek reeds genoem het. Daar is egter teenstrydighede wat opgeklaar kan word. Soms word woorde verafrikaans en soms verengels, en dit mag, want taal, veral soos dié verteller dit gebruik, is nie altyd konsekwent nie. Maar hier's ’n paar voorbeelde wat afgewerk moet word:

  • Oom met ’n hoofletter, maar auntie en Mr Stevens?
  • Gerrie wys na sy leerbaadjie se sak. “Pistol” sê hy  – hersien met behoorlike leestekens soos elders in die verhaal.
  • Saammet ?
  • Pawf of paf?

En so aan.

Die skrywer kan gerus ook kreatief gebruik maak van die skat van woorde in die Afrikaanse taal (trek die tesourus nader), en daarmee bedoel ek nie “slim” raak nie. “Hy lyk soos ’n bokser” werk al klaar beter as in die eerste verhaal, maar ’n woord wat inspring, is “pokkel”. “Swets” werk, maar in die daaropvolgende dialoog swets Gerrie dan nou juis nie?

Ensovoorts.

Pas en/of verdigting:

Dit is dié aspek van die verhaal wat werk kort. Daardie eerste kort sin reg aan die begin laat die leser met ’n gevoel van dringendheid, van dinge wat van nou af vinnig gaan gebeur. Die skrywer kan elke sin en paragraaf fynkam en enige toutologie of oorbodigheid uitsny. Ek besef dit is die klas raad wat elke aspirantskrywer moet aanhoor: Sny weg en verdig. Maar in Die Delivery Man is dit belangrik om die pas vol te hou, om dinge nie aan die leser uit te spel nie, en om sodoende die aandag van die leser enduit te behou.

Soos voorheen genoem, kan die voornaamwoord soms uitgelaat word, soos wat die skrywer wel in die vierde laaste paragraaf doen.

Ek gee een voorbeeld van verdigting en volstaan daarmee.

Die skrywer se weergawe:

Wit girls, bruin girls, swart girls. Ek like hulle almal. Maar sonder geld, kan ʼn mens in PE glad nie ʼn girl kry nie, vergeet maar daarvan. Nie eens die hoere en tikrokers in Central sal sonder betaling met my uitgaan nie. Maar een van die dae gaan ek ryk wees. Dan gaan ek nie net girls hê nie, ek gaan vir my daai special girl kry. Een wat by my sal bly. En vir my kook. Boeliebeef stew en macaroni en sulke goed. Selfs tjops oor naweke. Oeee ek gaan soos ʼn koning leef. Ek sal selfs vir Patrick en een van sy girls oornooi vir ʼn braai op die balkon.  Vir hom bietjie wys hoe leef ons Afrikaners.

My voorstel:

Wit girls, bruin girls, swart – ek like hulle almal. Maar sonder geld in PE kry jy niks nie. ’n Hoer of ’n tikroker in Central, vergeet dit. Maar een van die dae gaan ek ryk wees. Daai special girl kry. Een wat vir my boeliebeef stew en macaroni gaan kook. Tjops oor naweke. Ek sal vir Patrick oornooi. Wys hoe leef ons Afrikaners, soos konings.

Slotparagraaf:

Ook hier kan verdig word. Die paragraaf moet by uitstek vinnig verloop. En soos ek voorheen voorgestel het, hou die slot oop. Die skrywer bied te veel aan. Laat die leser bly wonder oor die einde, oor Gerrie, oor die lot van die verteller.

Hoe kan jy die slot skryf/herskryf om dit meersinnig te maak?

***

Lekker storie. Welgedaan.

Lees ook:

LitNet-slypskool Om te skryf: Die tweede weergawe van ons deelnemers se verhale

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top