
Hierdie storie begin met verwysing na die verlede tyd, asof die perspektiefverteller ’n informele gesprek met die leser voer.
Indien die skrywer die verhaal wil herskryf, sou ek voorstel dat daar gelet word op die ruimte wat hier uitgebeeld word. Ons lees van die reis van PE af Joburg toe, maar die skrywer laat dit agterweë om ruimte in te span as deel van die verhaal. Die ruimte hoef nie in lang beskrywings bygevoeg te word nie, maar kan selfs deel van die dialoog wees.
’n Goeie beskrywing skep by die leser ’n geheuebeeld so skerp soos ’n foto. (5–11, Om te skryf)
Die eerstepersoonsverteller wat in die verhaal gebruik word, is dalk juis effektief, omdat die leser die opwinding, maar ook die gevaar van hierdie ekspedisie saam met die verteller beleef. Die eerste paragraaf sou egter beter werk met dialoog, ’n gesprek tussen Gerrie en Swannie, met die uitsigloosheid van Swannie se lewe, sy opgewondenheid om sy karwagwerk in die parkering by Green Acres agter te laat die onderwerp. Op dié wyse vind karakterisering van plaas, kan die leser ’n beter geheelbeeld van die twee karakters kry. Die leser “hoor” nou in werklikheid slegs die skrywer se stem, maar nooit die ander karakters s’n nie.
Om te skryf, 4-37: Dialoog is ’n kragtige manier van beskrywing. Dialoog kan karakteriseer. Dialoog slaag net as dit geloofwaardig is.
In die tweede paragraaf “vertel” Swannie aan die leser dat Gerrie heelpad rook en praat. Indien die leser Gerrie kon waarneem, selfs deur die eerstepersoonsverteller, kon daar spanning opbou, selfs ’n tikkie van Gerrie se opwinding deurskemer. Ons lees in die teks dat Gerrie opgewonde is, maar hoor en sien dit nie by hom self nie.
Gerrie moes bewus gewees het van die aard van hierdie taak. Hy is gewapen, kom die verteller later agter. Wou hy doelbewus misleidend wees?
Die tempo van die verhaal pas by die soort storie. Die skrywer maak van kort sinne vol krutaal gebruik, wat effektief blyk te wees weens die aard van die verhaal. Ons verwag nie dat rowers suiwer Afrikaans moet besig nie. Maar die skrywer aan die woord voer die heeltyd ’n soort monoloog. Die ander karakters se opdragte en opmerkings “vertel” die skrywer oor die leser. ’n Direkte aanduiding van die karakter se woorde, met verwysing na hul voorkoms, meer as net “die groot ou” en “die stil ou” kan bydra tot die storie.
Hoe lyk die ouens, hoe praat die ouens? Sou die skrywer meer spanning kon skep deur die verwagting dat die ouens moontlik ’n ander optrede as ’n rooftog beplan? Dat hy en Gerrie se lewe dalk nie in gevaar is nie?
Spanning bou dikwels ten beste nie liniêr nie, maar in golwe. Of soos ’n hartklop: span, ontspan; SPAN; ONTSPAN; SPAN, ONTSPAN!! (5–11, Om te skryf.)

