Die Deleen Bekkerprys vir die beste TV-draaiboek of Rolprent-draaiboek in Afrikaans

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kondig graag aan dat daar van 2014 af 'n nuwe prys deur die SA Akademie toegeken sal word.  Die prys wat uit R50 000 kontant en 'n 9 kt goue medalje bestaan, word toegeken aan die beste draaiboek wat in die voorafgaande twee jaar gebeeldsend is (in die geval van die TV-draaiboek) of vertoon is (in die geval van 'n Afrikaanse rolprent-draaiboek).  Die prys sal jaarliks roteer. Soos die geval is met ander Akademiepryse, sal 'n keurkomitee moontlike pryswenners identifiseer en bespreek en 'n aanbeveling aan die Raad van die Akademie vir die toekenning maak.  Daar sal jaarliks 'n wenner aangewys word en 'n persoon mag die prys meer as een keer ontvang. 

Deleen Bekker stel van kindsbeen af in toneel belang. Gedurende 20 jaar as dosent in Engels by die destydse Pretoriase Onderwyskollege (sy het in 1986 afgetree), was haar stokperdjie om eenbedrywe van die studente af te rig. Sy het verskeie skryf­kursusse gevolg, onder meer by prof Hans du Plessis in Potchefstroom en aan UP by prof. Henning Pieterse. Later volg sy 'n kursus by dr Johann Lodewyk Marais by UNISA en as uitvloeisel hiervan besluit van sy "leerlinge" om die Eugène Marais-Skrywerskring te stig sodat "hulle nie uitmekaar moet spat nie". Deleen is as een van die oorspronklike stigterslede steeds aktief hierby betrokke. Dié Skrywerskring het publikasies van hul werk die lig laat sien. Deleen was in 2001 die wenner van die radiosondergrense/Sanlam radiodrama-skryfkompetisie in die B-afdeling (vir mense van wie daar nog nie voorheen 'n radiodrama uitgesaai is nie). Vir die afgelope 20 jaar bedryf sy en lede van die Skrywerskring 'n projek by twee hoërskole in die bekende woongebied Eersterus om die skryfkuns (deur medium Afrikaans) aan te wakker, wat die personeel geesdriftig ondersteun. Leerders kry geld- en boekpryse en by die pasafgelope prys­uitdelingsgeleentheid op 22 Augustus het die meelewing van leerders, onderwysers, ouers en die gemeenskap duidelik die sukses van die projek weerspieël.

Hierdie entoesiasme vir toneel en skryf is waarom Deleen besluit het om die prys in te stel. Die SA Akademie verwelkom hierdie toevoeging tot die pryse vir uitnemendheid.

 

Dr Dion? Prinsloo
Hoof Uitvoerende Beampte

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top