Hierdie brief (nou met klein aanvullings) het oorspronklik verskyn op SêNet, 4 Januarie 2007, onder die moderatorskap van Professor Emeritus Doktor Henrik Frans Treur-Gerust-Nietallesverloren en sy wetenskaplike span van die Instituut vir Gevorderde Studies in die Genealogie van Wragtigware Afrikaners. Die doel van hierdie kommunikasie is om lig te werp oor die probleme wat daar tans heers om ’n definitiewe definisie te gee aan die begrip "Afrikaner", en dien as hulpmiddel vir diegene wat onseker is oor hulle identiteit.
Hier volg ’n tienpuntskaal waarmee Afrikanerskap gemeet kan word. Die maksimaal wat in elke seksie behaal kan word is 10 punte:
1) Geskiedkundige- en geografiese herkoms: 10 punte vir wit persone wie se ouers afstam uit Holland, Frankryk en Duitsland, en hierdie lande tydens die sewentiende eeu verlaat het. (In ’n verdere studie tans onderweg sal ’n noukeurige ondersoek geloods word vir die redes vir hulle vertrek). Vir diegene wat in Suid-Afrika tydens die agtiende eeu binnegekom het, 9 punte, en vir laatkomers tydens die negende eeu, 8 punte.
Persone van Portugese herkoms, soos die Fereires, 7 punte, weens die feit dat hulle fisiese voorkoms nie voldoen aan die fisiognomie van Noord-Europeërs nie. Ook kan daar nie punte verleen word aan persone van Oos-Europese oorsprong nie, want hulle is almal kommuniste.
Dit is duidelik dat daar volgens antropologies-bloed-genetiese maatstawwe nie die moontlikheid kan bestaan vir enige vermenging van Afrikanerbloed nie. In so ’n tragiese geval moet 20 punte summier afgetrek word.
2) Godsdiens en Kerkverband: Die Nederduitse Gereformeerde Kerk word geseën met ’n vol 10 punte, en daarna volg die Gereformeerde Kerk, en Hervormde Kerk, elk met 9 punte. Die uiters min aanhangers van die Lutherse Kerk, Presbeteriane, en Metodiste, indien daar van hulle is, sal gelukkig wees om te hoor dat hulle 5 punte kan opskryf. Die Katolieke sal nie verbaas wees nie om te hoor dat hulle 0 punte kry want dit is juis deur hulle vervolging van die Hugenote dat lg. na Suid-Afrika toe moes vlug. Vir diegene wat aan daardie gekkekerke van die Karismate behoort word punte voor afgetrek.
3) Huistaal: 10 punte vir diegene wat alleen en uitsluitlik Afrikaans tuis praat. En let wel, met ’n Pretoria-Waterkloof- aksent, verkieslik geleër aan Pretoria Seuns Hoërskool. Aangesien taalsuiwerheid en getrouheid aan die Afrikaanse taal die alfa en omega van die hele saak is, word punte afgetrek van diegene wat ’n ander Germaanse taal bemeester, en nog meer waar ’n persoon ’n Romaanse taal magtig is. ’n Persoon wat ’n Afrikataal magtig is word ongelukkig heftig gestraf met minus-punte.
4) Opvoeding en Volksleer (indoktrinasie): 10 punte vir diegene wie elke week kerkdienste bywoon, minstens twee keer op Sondag. Lidmaatskap van die Rapportryers en die Broederbond word beloon met 10 punte. Ingeskrewe lidmate van die Nasionaliste-party, 10 punte. Die gereëlde stuur van telegramme van gelukswensing aan ons Groot Leier, 10 punte. Die eerbieding van volksfeeste by die Voortrekker Monument is ’n voorvereiste.
5) Fisieke voorkoms: 10 punte vir blou oë en egte (ongekleurde) blonde hare, 8 punte vir blou oë en bruin hare, 7 punte vir blou oë en swart hare, 6 punte vir bruin oë en bruin hare, en 5 punte vir bruin oë en swart hare. Alleen mooi pakke van Merinowol word as paslike bekleding vir ’n ware Afrikaner beskou.
6) Volkskultuur en die besteding van vryetyd: Kerkgaan, kerkgaan, kerkgaan. Daarvoor kan 10 punte verower word. Saterdae braaivleis, bier, brandewyn en rugby, 10 punte. Gereëlde volkspeletjies en die sing van "Sarie Marais" is essentieël.
7 ) Sosiale status en -aansien: 10 punte vir die titel van Professor Doktor. ’n Huis in die woonbuurt van Waterkloof, Pretoria. Minstens een Mercedes in die familie, en ’n BMW vir die vroutjie. Dit is die kardinale toets dat die ware Afrikaner-egpaar geseën is. Vandag is groot 4X4's baie populêr, maar weer, alleen BMW´s kan volpunte kry. Soos wat die ligging van die woonbuurt wyk vanaf Waterkloof, daal die punte.
8) Seksuele oriëntasie: Ongelukkig moet ons hierdie netelige sakie in agmerking neem aangesien dit nie 400 jaar gelede ooit bestaan het nie. Alleen 100% heteroseksuele mans kan kwalifiseer as Afrikaner. Daar bestaan eenvoudig nie so iets soos ’n homoseksuele Afrikaner nie. Dit is godsonmoontlik, en basta!
Liewe lesers, ek hoop dat hierdie leidraad nou genoegsaam vir julle sal wees om af te lei wie ’n Wragtigware Afrikaner is, en deur die volg van hierdie eenvoudige punteskaal sal julle kan aflei wie ’n Wragtigware Afrikaner is.
Om te kwalifiseer vir daardie titel van Wragtigware Afrikaner, sal minstens 10 punte in elke seksie verg, dus gesamentlik, 80/80 punte. Klagtes sal nie aanvaar word nie.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys


Kommentaar
Pieter
Eintlik is dit pateties dat daar nog mense is wat wil voorgee die een is Afrikaner, en die een is nie. By die Pick ’n Pay musiekfees was daar ’n menigte wat dit geniet het om Afrikaanse musiek te kom luister, almal ooglopend Afrikaners.
Op die uiterlik kon jy nie agterkom wie was Christen, Katoliek, Ateïs, liberaal, verkramp, homo, perverse, dief, pedofiel, wat ook al nie. Nie een het teenoor die ander gesê: "Jy hoort nie hier nie, want jy is nie Afrikaner nie." Elkeen teenwoordig het maar gelate aanvaar diegene wat teenwoordig was, is Afrikaners. Almal het die gevoel gekry: "Dit is lekker om tussen Afrikaners te wees."
Jaco Fourie