Die dans

  • 6

Foto: Canva

Die dans

Oor die vloer in Joe se arms.
And a good heart these days is hard to find
True love, the lasting kind...

Sy moddergroen oë lag saam met sy mond.

Sy wil hom só graag soen. En sy weet hy weet dit.
My expectations may be high, I blame it on my youth
Soon enough I’ll learn the painful truth...
Sy hand druk in die waai van haar rug. Warm, maar nie dwingend nie. Rustig, soos hy.
So please be gentle with this heart of mine...
Die musiek sterf weg. So ook die oomblik.
“Kom saam met my huis toe.”
’n Lang oomblik, dan die skud van sy kop.
“Is jy mal? Nee.” Stilte. “Jy weet tog.”
“Ja. Maar kom saam met my.” Byna ’n pleit.
“Ek is lief vir jou, Elbé. Net nie...”
“Net nie so nie, ek weet. Jy het dit al gesê. Maar ék is lief vir jou, só.”
’n Glimlaggie.
“Ek wens dit was genoeg. As dit was, sou dit jy wees. Net jy.”
“Joe, asseblief...”
“Omdat ek lief is vir jou, néé.”

Daardie aand was soveel jare gelede. So baie, baie jare gelede.

Dat een song nou so spul herinneringe kan kom opdelwe!

Sy gee die hotelstoepluidspreker ’n verwytende kyk en vat aspris sommer ’n dubbelteug van haar G&T wat meer soos vrugteslaai as ’n drinkdingetjie lyk.

Waar is die tienerdae, ook saam met Joe, van Kahlúa uit die bottel drink? Bloot om te bewys hoe roekeloos hulle is.

Elbé klap die romanza wat sy besig is om te lees, toe; skuif die boek oor die blad van die tafeltjie. Om vir die see te sit en kyk is in elk geval seker beter as om haar neus in ’n boek te hê. Die skrywer kan egter maar eerder vir háár kom vra oor regte tevergeefse liefde – nie die soort van ’n ou meisietjie wat op die vooraand van haar troue haar byna-bruidegom saam met haar niggie betrap nie. O nee, dié meisietjie kan dalk nog die – onnosel – besluit neem om haar verloofde te vergewe en dan het hul ’n – skrale – kans op geluk.

Maar as jou hart homself aan die voete gewerp het van iemand wat nooit, ooit jou liefde kan beantwoord nie, dan is jy die materiaal vir ’n tragiese Alexander Pushkin-roman. Al weet jy van beter en al het jy ’n liefdevolle man en jy is so gelukkig soos wat jy kan wees, bly die idee van daardie “groot” liefde jou by en elke nou en dan – soos vandag – is die herinneringe so helder asof byna veertig jaar nie reeds verloop het nie.

“Jy weet hy’s gay, nè? As gay as Paris in the springtime!” wou haar klasmaat Nico weet nadat sy sy uitnodiging na die matriekafskeid van die hand gewys het.

“En? Wat is jou punt? Ek gaan saam met hom, want dis ’n spesiale aand wat ek met iemand spesiaal wil deel. Wat het die feit dat Joe gay is daarmee te doen?”

Sy was slaggereed met haar antwoord, want sy moes dit al vir haar ma gee, vir haar beste vriendin, vir álmal wat gedink het hulle openbaar nou ’n groot geheim aan haar. Ag, liewe aarde, sy het al in standerd vyf geweet Joe is gay. Nogtans was dit hý wat haar laat uitsien het na skool, na pouse vir gesels oor nuwe musiek, oor flieks, oor hoe sexy Bruce Willis in Moonlighting is.

En in die hoërskool was dit Joe wat haar hart vinniger laat klop het elke keer dat hy naby was. “Hope” is the thing with feathers…

Ná skool het hulle min kontak gehad. Hy het drama gaan swot op Kovsies, sy onderwys by die Pukke.

Soms was hulle dieselfde naweke by die huis en dan het hulle gekuier en gesels asof die maande tussenin nie bestaan het nie.

Een Septemberaand, naby die einde van haar honneursjaar, bel hy uit die bloute. 

“Ek is hier in jou dorp. Wil jy iets gaan eet?”

Natuurlik wou sy.

Later daardie aand stap hulle verby ’n plek waar die musiek jou nooi om te kom dans. Sy het sy hand gegryp en hom onseremonieel dansvloer toe gesleep.

Dit was asof sy nog nooit uit sy arms was nie, asof sy vir die eerste keer in maande makliker kon asemhaal, al het haar hart in haar ore geklop.

“Ek dink daaraan om Engeland toe te gaan wanneer ek klaar geswot het,” het hy gesê toe hulle by een van die tafeltjies gaan sit. Meteens was sy benoud, Hoop se vlerke het midvlug versteen, tollend aarde toe geval. Sy het haar oë neergeslaan en hy het sy hand oor hare op die tafel gesit.

“Elbé, onthou jy toe ek daar in standerd agt in die voorligtingklas gesê het ek wil oorsee gaan en op die verhoog van ’n regte teater staan, hoe meneer Cromhout gelag het? Ek skuld dit aan myself om te bewys dat ek dit kan doen. En ek wil vir hom ’n blerrie foto stuur.” Hy het sy Joe-laggie gegee en sy het skuldig gevoel oor hoe selfsugtig sy is. Toe begin Feargal Sharkey sing en dis Joe se beurt om háár dansbaan toe te vat.

Daarna het sy hom net een keer weer gesien voordat hy die volgende jaar Engeland toe is.

“Joe het vir hom ’n regte aristokraat in Engeland losgeslaan, Arthur iets. Moerse townhouse in Kensington.”

Sy het met lou belangstelling na die nuus geluister.

Sy het net begin skoolhou toe die telefoon een Saterdagaand laat in haar klein woonstelletjie in Pretoria lui. Sy was nie lus om te antwoord nie, maar miskien was dit haar ma.

“Elbé? Ek het jou nommer by jou ma gekry.” Joe se stem was vreemd, leeg.

“Joe! Wat is fout?”

In die stilte kon sy sy asemhaling hoor – swaar, asof hy gesukkel het om sy longe vol te kry.

“Joe?”

“Ek weet dis laat, maar kan ek na jou toe kom?” Dit het geklink asof hy klaar spyt is dat hy gevra het.

“Is jy in Pretoria? Natuurlik kan jy kom, hoekom vra jy nog!”

“Om jou adres te kry.” Met verbeelding was daar ’n sprankie van Joe se humor in die antwoord te bespeur.

Terwyl sy gewag het dat hy kom, het sy ’n vars T-hemp aangetrek, haar hare gekam en maskara aangesit.

Behalwe vir die moddergroen oë, was die man vir wie sy die deur veertig minute later oopgemaak het byna ’n vreemdeling – die skouers van die maer mens het gehang, sy vel skurf en gelerig in die onvleiende buislig van die gang. Sy hele houding was waaksaam.

“Joe?” Hartseer het haar keel laat brand, dit het toegetrek sodat sy gesukkel het om sy naam te sê. Sy het haar arms vir hom oopgemaak. “Is jy seker?” het sy oë haar gevra en sy het vorentoe getree en hom teen haar vasgetrek, gevoel hoe snaarstyf sy liggaam in haar omhelsing was.

“Kom in, kom sit.”

In die piepklein sitkamertjie het hy bly staan, net na haar gekyk.

“Sit,” het sy herhaal en hom aan die hand gevat, hom op die rusbank langs haar neergetrek.

Hy het van Arthur vertel. Van die partytjies – Londen, Parys, Amsterdam.

“Ek weet nie hoe dit gebeur het nie. Ons was altyd versigtig.” Hy het vertel dat Arthur in ’n eksklusiewe kliniek behandel word. “Sy suster en broer het die townhouse kom oppak. Ek moes ander blyplek kry. In plaas daarvan om daar op my eie te wees, het ek besluit om huis toe te kom. My pa is nie dik van die lag nie.” Sy poging tot ’n ligter oomblik het in ’n siniese laggie geëindig.

Die Maandagoggend toe hulle groet, het hy haar lank vasgehou, soene op die kroontjie van haar kop gedruk.

“A good heart these days is hard to find,” het hy gesê, haar op die voorkop gesoen en soos ’n baie ou man weggestap.

Drie weke later het haar ma haar gebel.

“Joe is dood. Hulle sê hy het self...” Haar ma kon nie die sin klaarmaak nie.

“Hope” is the thing with feathers – that flew into a bloody electric fence!

Sy was kwaad, woedend, stukkend. Vir lank. Amper té lank.

Selfs toe haar pad met dié van Leon gekruis het, het sy teen die prikkels geskop. Sy kan mos nie Joe se nagedagtenis verloën nie! Boonop, Leon sal nooit Joe se skoene kon volstaan nie.

“Joe kon nooit eers Joe se skoene volstaan nie! Jy het hom op ’n troontjie gesit, blind vir sy foute en tekortkominge. En belangrikste van alles: Joe is dood; jy lewe. Dis tyd dat jy opstaan.” Haar ma se geduld was op die nippertjie van op wees. “Jy sit hier en kwyn op die dorpie waar jy grootgeword het, tevrede om vir laerskoolkindertjies gediggies te leer en spelling in hul koppe te probeer kry. Alles gaan by jou verby! Jy trek vanaand mooi aan, doen bietjie vir ’n slag moeite met jou grimering en gaan dans. Jy sal gaan, al sleep ek vir jou,” het haar ma kwansuis gedreig. Maar die bekommernis het vlak in haar oë gelê.

Al was dit die laaste ding waarvoor sy lus was, het sy gedoen wat haar ma wou hê – net om die flippen vrede te bewaar.

“Luister, dit lyk my jy dink jý doen my ’n guns om saam met my te kom dans. News flash, ek moes keer of jou ma betáál my om jou uit te neem! So, of ons geniet die aand – of maak ten minste of ons dit geniet, want ek sweer sy het spioene hier om ons dop te hou – of ek en jy gaan bly geteister word. Kom ons gaan ’n paar keer uit en dan kan ons mos sê ons het probeer, maar dit werk nie, oukei? Oukei!”

Hy het haar aan die hand gegryp en sy, steeds uit die veld geslaan, het hom dansbaan toe gevolg. Dit was asof selfs die heelal haar ’n punt wou bewys.

Look around your world, pretty baby
Is it everything you hoped it’d be?
The wrong guy, the wrong situation
The right time to roll to me…
het Del Amitri gesing.

Meteens was dit of maande en maande se spanning uit haar wyk. Haar bene het lam gevoel en sy het stywer aan Leon vasgehou, gevoel hoe ook sy arms fermer om haar sluit. Sy het opgekyk in sy bruin-bruin oë, sy skewe glimlag het iets aan haar hart gedoen...

So, if you want to talk the night through
Guess who will be there?

En hy wás daar.

Vir die laaste vier en dertig jaar.

Elbé leun nou agteroor in die gemaklike stoel, strek haar bene voor haar uit en teug weer, dié keer behaaglik, aan haar G&T.

Sy hou die man wat oor die stoep aangestap kom, dop. Bietjie meer grys as lank gelede, maar die vonkel in sy bruin oë is steeds daar wanneer hy haar kyk op hom betrap.

“Ek het nou met die kinders gepraat. Hulle gaan eers môre hier wees.”

Leon kom sit, leun oor die tafeltjie en vat Elbé se hande. “So, vanaand is dit net ek en jy, ou vrou.

Lank na die kelner hul borde weggevat het, teug hulle nog aan die laaste van hul rooiwyn.

Die restaurant is klein, nie regtig plek vir dans nie, maar toe Bob Dylan se stem uit die klanksisteem opklink, skuif Leon sy stoel agteruit, hou sy hand uit, dieselfde seunsagtige glimlag om sy mond as toe sy die kerkpaadjie na hom toe gestap het terwyl dié liedjie speel.

Elbé stap in haar man se arms in, sing baie sag saam met Bob.

I’d go hungry, I'd go black and blue
I’d go crawling down the avenue
No, there’s nothing that I wouldn’t do
To make you feel my love...

Daar is liefde, dink sy, en dan is daar líéfde. Terwyl sy nog heimlik oor Joe gerou het, baie kere die sê-nou-maar-speletjie in haar kop gespeel het, was dit Leon wat haar liefde veilig gehou het, opgepas het tot sy kon besef dat hy maar eintlik nog al die tyd haar good heart is.

  • 6

Kommentaar

  • Die liefde verskaf 'n innerlike vreugde, nie waar nie. 'n Genotvolle verhaal. Ja, tydsberekening speel altoos 'n groot rol.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top