Die daggaboer deur Jean-Pierre de Kock: ’n resensie

  • 0

Die daggaboer
Jean-Pierre de Kock
Human & Rousseau
ISBN: 9780798177467

Jean-Pierre de Kock is in sy vroeë 30’s en het musiek studeer, maar werk in die houtbedryf. Hoewel ’n kortverhaal en rubrieke reeds onder sy naam verskyn het, is Die daggaboer sy debuutroman.

Die storie gaan oor Lennet Loots, ’n sensitiewe siel wat die rotresies in die stad agterlaat om alleen naby Baardskeerdersbos in die Wes-Kaap op ’n ruie plot te gaan woon. Hy roep sy formele werk as ’n rekenmeester vaarwel, asook tegnologie en die wrede stadsverkeer. Off the grid, "waar jou wêreld deur jouself bepaal word," hoewel hy ’n selfoon en soms toegang tot e-pos het. Hy dra ’n hippie-kaftan en lewe eenvoudig, maar moet tog ’n geldjie verdien om sy basiese behoeftes te bevredig, en daarom kweek hy jaarliks ’n stuk of 60 daggaplante in ’n tonnel. (Vir hierdie leser, wat self vier daggaplantjies in die agterplaas koester, was die grootste vrees: Gaan Lennet se oes gesteel word voor hy dit kan verkoop?)

Lennet lei ’n pastorale lewe in ’n karavaan plus ’n aangetimmerde vertrek, en is bekommerd oor ’n teerpad wat in die omgewing aangelê word en hom kan blootstel aan mense. Hy praat met homself en sy plante, wat heelwat tipes groente en vrugte insluit. Daar is ook ’n gastehuis op die plot wat soms deur toeriste beset word en vir ekstra inkomste sorg; hulle irriteer Lennet, want hulle is luidrugtig en morsig. Hy is grootliks selfversorgend maar het ’n ou, vuilwit Mercedes-Benz waarmee hy soms dorp toe ry vir inkopies.

Sy "immer peinsende brein", sy nadenkendheid, word sekerlik aangehelp deur sy eie dagga wat hy gebruik in die vorm van kanna-olie. Daar is baie eksistensiële vrae en besinning oor sterflikheid en bewussyn, byvoorbeeld oor sy eens indrukwekkende pa wat minder as ’n uur se ry daarvandaan in ’n ouetehuis woon en aan Alzheimer se siekte ly. Lennet besoek hom selde, en wonder of daar ’n nut is om aan te hou leef as ’n vegetable. Hy wroeg ook op ’n kol oor sy onbetrokkenheid by die wyer gemeenskap.

Dvořák se Negende Simfonie is sy groot gunsteling en word telkens treffend bygehaal. Hy hoef die musiek nie fisies te speel nie want dis noot vir noot in sy kop vasgelê.

Lennet en oom Loeser kuier soms vlugtig by mekaar en ruil groente uit. Daar is ook die huishulp Sêra en die daggahandelaar Everest. Hulle praat Afrikaaps met Lennet; die dialoog is ’n vars bries.

Lennet kan egter nie van sy verlede ontsnap nie. Sy ouer broer Konrad, ’n mediese dokter wat nou in Kanada met sy gesin woon, kom kuier by hom. Hoewel Lennet uitgesien het na die besoek, ontaard dit in konflik en verwyte en Konrad maak gouer spore as wat die plan was.

Lennet het intense herinneringe aan sy voormalige geliefde in die stad, Cecilia. Dit verryk die storie en werp lig op Lennet se verliese en hunkeringe. Ander geheueflitse en staaltjies uit sy jeug word ook vernuftig ingeweef.

Daar is ’n slang in Lennet se paradys. Omdat hy alleen woon, voel hy blootgestel aan gevaar. Hy word gespanne wanneer hy besef hy word dopgehou. Die intrige word verskerp wanneer hy telkens ’n sinistere swart BMW met getinte ruite in die pad sien verbykom, en boonop hou dit soms naby die plot se ingang stil.

Lennet se besoek aan Gansbaai is ’n hoogtepunt in die boek. Die aksie en spanning word puik beskryf. Later wonder die leser of die besoek wel plaasgevind het – was dit net ’n hallusinasie?

Daar is ’n dramatiese, onverwagse kinkel kort voor die einde van die verhaal. Alles goed en wel, maar is die ontknoping dalk ’n tikkie ongeloofwaardig? Hoekom reageer Lennet nie histeries nie? Daar lê ’n flippen lyk op die plot, maar Lennet lê op sy rug na die plafon en staar en bepeins dinge. Toegegee, moontlik help die dagga hom om kalm te bly.

Iemand het van Kurt Vonnegut gesê dat hy so moeiteloos geskryf het soos wat Mozart gekomponeer het. Dieselfde kan van De Kock gesê word; sy prosa is vlot, gemaklik en soms poëties, en daar is heelwat woordfondse en ’n unieke manier van dinge stel, byvoorbeeld "losklos" vir nakend, en ’n piesangskil wat "oopgevlek blom".

Op bladsy 31: "… die deurtrekker in die voue van die sitkamerbank – pure cliché wat hy met ’n braaivurk en skuinsgetrekte lip daar uittrek." Op bladsy 50: "Met die glas se neersit dans die twee ysblokkies eensaam op die bodem." Op bladsy 81: "Deur ’n opening in die blareplafon sweef wolksketse verby." Elders: "Hy probeer die domino-lopie van gebeure herroep." Op bladsy 190: " … as sy gedagtes vry loop en dan struikel."

Ook gebruik De Kock soms rare woorde soos "krakeel" (luide woordetwis) wat hierdie leser moes gaan naslaan (geen probleem daarmee nie). Wel ’n paar taalfoutjies raakgesien: agter, onder die skrywer se erkennings, is daar "oospronklike" pleks van "oorspronklike", en op bladsy 219 "die laaste paar tree" in plaas van "treë". Iewers is daar "checkup" pleks van "check-up".

Dan lees mens op bladsy 188 dat die kombuishorlosie gaan staan het, maar op bladsy 204 hoor Lennet die tik-tik-tik, sonder enige aanduiding dat hy (te midde van krisisse wat al sy aandag eis) sedertdien ’n nuwe batterytjie ingesit het. Dalk nog ’n hallusinasie? Deurgaans word "wragtag" gebruik, en op een plek "wragtig" (dis ’n wisselvorm, maar mens verlang konsekwentheid, dan nie?). Nou kloof ek hare; die boek is goed geredigeer en lees feitlik soomloos.

Twee skywe soos duime in die lug vir Die daggaboer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top