Die daggaboer
Jean-Pierre de Kock
Human & Rousseau
ISBN: 9780798177467
’n Resensie deur Danie Botha in Fine Music Radio se Boekkeuse. Uitgesaai op 16 Januarie 2019.
Jean-Pierre de Kock debuteer met die roman Die daggaboer by Human & Rousseau.
Dis die verhaal van ’n alleenstaande, Lennet Loots. ‘n Vertelling in die derde persoon, maar ’n mens ervaar dit eintlik as ’n ek-vertelling. Want die leser ervaar soveel van sy gedagtes, emosies, en ontdek sy lewensbeskouing. Daar is ook iets anders wat dit ’n uitsonderlike roman maak. Daar’s hoofgebeure wat die intrige laat voortstu, maar tussendeur kry ons ook beskrywings en dialoog wat nie beklemtoon word nie, en eers heelwat later duik iets op wat herinner aan daardie toneel of terloopse vermelding. Dit groei dan uit tot ’n verrassende onthulling. Verrassend? Daarom waag ek dit nie om voorbeelde te gee nie.
Lennet boer in die Baardskeerdersbos-omgewing op Tierdrif met groente, vrugte en ook met dagga. Hy woon in ’n karavaan en hou ’n gastehuis in stand.
Hy het telkens botsings met mense, byvoorbeeld sy broer Konrad. Teenoor hom verdedig Lennet sy belangrike besluit om hier in afsondering ’n bestaan te maak: “Ek het vir sewe jaar probeer aanpas in die regte wêreld. Die verkeer soggens Epping toe, die werk wat ek haat. Die huis en motor wat ek nie werklik kon bekostig nie. Ek het alles gedoen wat die samelewing van ’n mens verwag. Ek het belasting betaal, ek het gestem vir politiek wat ek nie verstaan nie of oor omgee nie. Ek het toegelaat dat bemarkers my keuses beïnvloed” (67). Hy keur die vertrapping van mense, papier en plastiek wat oral rondlê af. Ook die vloekery en geskel.
Hy wens hy hoef nie alles te oordink nie. Wens hy’s soos die mense wat handel met sekerheid, al is hul aksies nie berekend nie. Dat hy nie so troosteloos bekommerd raak oor ander mense se betrokkenheid by sy lewe nie. Dat hy nie so oor alles hoef te tob nie (122).
Vir Konrad sê hy: “Jy leer om net te wees, verstaan? Nie te wonder oor eendag nie. Geluk hier is om bloot te leef” (51).
Vroëer was Cecilia in sy lewe. Sy kon hom altyd rustig maak. Perspektief gee as hy so angstig raak (123).
Op ble 126 tot 128 beskrywe hy hoe hy dagga kweek in die tonnel, hoeveel ure ’n mens moet bestee om die verskeidenheid produkte te maak. En dan noem mense dit onkruid?
As hy by die bejaarde oom Loeser gaan kuier, is daar ‘n ongeskrewe reël met die verversings. Oom Loeser bedien selfgestookte witblits. Wanneer oom Loeser by hom kom kuier, moet Lennet die koekieblik onder die wasbak uithaal met koffietyd. Die oom verslind die een koekie na die ander. Lennet moet later keer, want oom Loeser is duidelik onbewus van hoe sterk die brousel is. Ag, toe besef ek eers watter soort koekie dit is! (106).
Van die begin van die roman af is daar ’n karakter wat ’n bedreiging vir Lennet inhou: Everest die dagga dealer. Is hy vriend of vyand? Kan hy vertrou word? De Kock skep oortuigende dialoog vir Everest: “Lat ek gan, Lennie. Jy het sieke dinge om te doen, ek oek. Dink net oo wat ek gesêrit. Hoe sê dai ANC-logo? Together we can do more” (21).
Lennet het ook ‘n problematiese verhouding met sy pa wat op Kleinmond vir Alzheimer versorg word. “Pa het ’n pasaangeër, pille om die water uit sy longe te hou, bloedverdunners, gehoorstukke. Maar wat is die nut as hy nie eers kan onthou dat hy getroud was nie? As hy nie eers weet wie sy kinders is nie.
“Lennet is in ’n mate dankbaar oor die verslegting van die ou man se geheue. Sy pa was laas aansienlik meer tegemoetkomend omdat hy hom nie herken het nie. Dis op die dae wat hy hom wel herken het dat die vloekery en verwyte begin. Die frustrasie en teleurstelling wat hom soms fisiek aggressief kan maak” (61).
Lennet se oorlede ma het ernstige musiek aan hom bekendgestel (27, 29). Telkens sal ’n stemming of klanke hom herinner aan ’n uitvoering van ’n klassieke komposisie, bv Mozart se klavierkonsert nommer 21, tweede beweging “in ’n genotvolle F-majeur. Dis ’n opkikkering. Eenvoudig dog melancholies” (206). Sy gunsteling is Dvorak se Die Nuwe Wêreld-simfonie: die largo. “Die kort inleiding, langsaam, opeenvolging van blaser-akkoorde. Fluweel. ’n Groot, outydse seilskip wat vanuit dik mis aangedryf kom” (89).
Daar is paar sterk erotiese tonele in die roman. Mens kan alles so sien en bewonder.
Wat my die allereerste in die roman beïndruk het, is dat jy op feitlik elke bladsy besonderse beelde, beskrywings of stelwyses kan bewonder. Ek gee ’n paar voorbeelde.
Bl 12: Op die stoep staan wyn- en koeldrankglase dof en leeg in ’n klein bende bymekaar op die tafel, met ’n paar verstotelinge hier en daar op die lae stoepmuurtjie, en nog een eenkant op ’n wit plastiekstoel.
Bl 215: Die son voel warm teen sy vel. Gewoonlik ’n lekkerte, maar nou oorskadu deur vrees. ’n Koue angstigheid vir die onbekende. Die onbeheerbare.
Bl 205: En hy hou van hulle. Dit voel soos sy tipe mense. Ongekompliseerd en rustig. Paddas van sy poel.
Bl 212: Al die veld is vrolik. Met ’n doukombers oor elke tak en blaar.
Ten slotte Lennet se leuse op bl 187: Om vry te bly, moet jy verandering verwerp.
Kommentaar
Weereens 'n treffende resensie, Danie! Ek kan nie wag om die boek te lees nie!