Die dag toe Willemien die tekskompetisie gewen het

  • 1

Willemien Brümmer is as die eerste wenner van die ABSA KKNK en die Dagbreektrust se tekskompetisie aangewys. Naomi Meyer het haar hieroor uitgevra.

Willemien, baie geluk met die bekroning van jou dramateks Aandlied deur die ABSA KKNK en Dagbreektrust se tekskompetisie. Jy is bekroonde joernalis en skrywer van die bundel Die dag toe ek my hare losgemaak het. Wat skryf jy nog alles en wat skryf jy die graagste?

Dankie Naomi. Net eerstens: dit was ’n teksvoorleggingskompetisie, so uhem... die teks is nog nie geskryf nie. Daar’s ’n uitgebreide idee en ‘n baie tentatiewe eerste bedryf, wat nog baie gepanelbeat moet word, maar dít is in dié stadium al.

Sedert die skryf van Die dag toe ek my hare losgemaak het, wat in 2008 by Human & Rousseau verskyn het, het ek dié deel van my wat fiksie skryf, in ’n laai gebêre. Die rede hiervoor is kompleks, maar dis grootliks omdat ek probeer om baie van myself, my derms en my kreatiwiteit, in my joernalistieke werk by By te stort. As jy heeltyd besig is om die werklikheid na te vors en om dit hopelik op nuwe maniere aan lesers op te dis, het jy bloot dikwels nie die tyd en die energie om saans dinge uit jou duim te suig nie.

En die ou cliché bly waar: die werklikheid ís vreemder as fiksie.

Hierdie jaar is ek egter deur Media24 gesekondeer om as die Rykie van Reenen-genoot voltyds vir die BPhil-joernalistiekstudente klas te gee, en skielik verander jou koplandskap. Ek’s steeds besig met feite, maar nie met die neerpen daarvan nie, en toe, sonder dat ek dit verwag, het die muse weer hard kom klop. Of nee, sy’t gespring en geskree soos ‘n maniese merrie.

Drama is my eerste liefde (ek het lank, lank gelede drama geswot op Stellenbosch), en toe ek in die vroegwinter vanjaar hoor van die KKNK se teksprys, het ek gewéét hier is my kans.

Wat skryf ek die graagste? Vir my is daar nie so ‘n groot verskil tussen koerantskryf en dit wat ek elders skryf nie. In enige skryfwerk moet jy soos die outydse alchemiste die ruwe metaal wat ons “werklikheid” noem, verwerk tot iets meer – ’n storie met ’n begin, ‘n middel en ‘n einde. Dis vir my heerlik om dit vir die koerant te doen, of vir die teater, of as deel van ‘n kortverhaal. In sommige soorte skryfwerk moet jy daardie werklikheid net verder omvorm. Dit word ’n transformasieproses soortgelyk aan droom – en ek skat daardie diepdroom is die lekkerste.

Kom ek vra jou die vraag wat almal jou altyd vra: Het jou oorgrootjie (is dit jou waarheidsgetroue verwantskap met Langenhoven?) enigiets te doen met die feit dat jy skryf? Het jy nog altyd geweet dis in jou gene? Of is dit in jou geval ‘n kwessie van skryf is jou werk en daarom raak jy nog meer geslyp en later kan jy nie meer anders nie en jy skryf nog en ... Wie is jy, binne die konteks van jou familie en al sy wortels die verlede in?

Ja, Langenhoven is my regte-egte oupagrootjie (my pa, Guillaume Brümmer, is sy enigste kleinkind).

Ek het beslis met Langenhoven in my agterkop grootgeword. Op ons familieplaas op Ladismith, wat in ’n stadium aan hom behoort het (al het hy nooit daar gewoon nie), het ek my nog altyd verbeel ek kon hom “voel”. Die ou plaashuis het ’n bedonnerde, dronkerige, dog sprankelende geaardheid, een wat soos ’n pendulum swaai tussen lig en donker.

Vir my was dit die ideale broeiplek vir stories. Van kleins af het ons saans ná ete om die vuur gesit en Langenhoven-spookstories lees, en in die Klein Karoo kan jy hóór hoe my oupagrootjie se ewige gebergtes antwoord gee.

My pa is ‘n uitstekende storieverteller, en die staaltjies en kopstories wat hy kleintyd vir ons vertel het, was in ’n groot mate die inspirasie vir my bundel kortverhale. Miskien het ek nog altyd gedink ek moet klaarmaak wat hy begin het. Hy’s ‘n wiskundige en het nie noodwendig die tyd vir skryf nie, maar sy woorde het so ‘n lewe van hul eie aangeneem dat hulle iewers ‘n tuiste móés vind. So ja ... dalk is ek steeds net ‘n skriba vir my pa en vir my ander voorsate. Ek skryf dít neer waarvoor hulle nie die tyd gehad het nie.

“Hierdie kortverhale beeld op treffende en insiggewende wyse Mia Ragel Albertyn se grootwordervarings uit – in Kaapstad en op die familieplaas buite Ladismith, van twaalfjarige kind tot ’n jong moeder. Voorop staan telkens die komplekse verhoudings binne die familie: met haar ma, haar pa, en, soos sy ouer word, met mans.” Só word in ‘n akademiese artikel geskryf oor jou Die dag toe ek my hare losgemaak het geskryf. So die tema met betrekking tot familie loop al ‘n entjie saam met jou. Of hoe? Waaroor handel Die dag toe ek my hare losgemaak het vir jou?

Sien antwoord hier bo.

Van familie gepraat, hierdie is presies die tema wat die koerant in Aandlied uitwys: al die familiepolitiek en landspolitiek wat saamkom in ‘n land wat bloots gery word deur geweld. Dink jy dis die land? Wat van die individu, in ‘n ander land met ‘n ander konteks, soos sê nou maar Anders Breivik in Noorweë? Waarom hier? Wát van jou karakters in hierdie land veroorsaak vir jou die plofbaarheid van hulle situasie?

Ek wil in hierdie stadium nie te veel uitwei oor die karakters in Aandlied nie, want heelwat kan nog verander, en as ek vir jou sê waaroor dit gaan, dan gee ek die einde en die verrassing weg. Maar ek het al baie gewonder wat sou gebeur as jy ’n Anders Breivik na Suid-Afrika sou verplaas – of as ’n boek soos die uitstekende We Need to Talk about Kevin deur Lionel Shriver in Suid-Afrika sou afspeel. Sou daar selfs meer slagoffers gewees het? Watter rol sou die geskiedenis van ons wye, droewe land gespeel het? Of kan alles verklaar word net deur die psigopatologie van een individu?

Vir my is die individu en die samelewing voortdurend in gesprek. In ’n uiters gewelddadige samelewing soos ons s’n praat die spoke uit die verlede die heeltyd saam. In Suid-Afrika is die geskiedenis opgelos in elke druppel bloed, in elke hedendaagse argument. Soos William Faulkner gesê het: “The past is never dead. It’s not even past.”

Plaasmoord van Karen Brynard het baie Suid-Afrikaners ook in fiksie met hierdie tema gekonfronteer. As sulke tekste ‘n soort narratief word vir die land, en dit word gelykgestel aan sielkundige narratiewe terapie, kan dit ‘n tema wees wat ooit genormaliseer word?

Plaasmoorde is één van die temas in Aandlied, en geografies is daar ooreenkomste met Brynard se Plaasmoord, maar in my toneelstuk-in-wording is dit nie die belangrikste tema nie. Dis dus moelik vir my om die twee tekste te vergelyk, hoewel ek destyds Plaasmoord gelees en baie geniet het.

En nee, helaas dink ek dit gaan baie meer as narratiewe terapie of stories verg om wat skeef is in ons samelewing weer heel te maak. As skrywers kan en móét ons probeer om die land weer stukkie vir stukkie aanmekaar te skryf, juis deur die stories te vertel wat diep in ons gewelddadige binnekamers toegesluit word, maar kom ons wees eerlik: ’n skrywer is geen Messias nie.

Room van Emma Donogue, geskryf uit die oogpunt van ‘n vyfjarige seuntjie wat verwek is deur die ontvoerder van ‘n jong vrou wat vir jare in ‘n tuinhuisie aangehou is, is ook losweg gebaseer op iets soos die waarheid. Jy het oor Aandlied te kenne gegee dat onlangse nuusgebeure as inspirasie gedien het. Mense reageer heftig op hierdie sake. Dit sny diep. Is enige onderwerp vir jou taboe of te heilig of onaantasbaar vir doeleindes van skryfwerk?

Nee. Maar ek sal altyd probeer om dié mense vir wie ek lief is, te beskerm teen die angel in my pen.

Eintlik beantwoord jy reeds my vraag in ‘n aanhaling uit jou bydrae in Die Afrikaanse Skryfgids: “Let wel, diepte-artikels hoef nie gebaseer te wees op nuusgebeure nie. Jy kan stories skryf oor enigiets wat jy deur jou karvenster kan sien, mits jy bereid is om genoeg tyd af te staan aan die onderwerp.” Watter storie het vandag jou oog gevang – en gaan daardie storie vleis en bene kry? En hier’s nog ‘n moeilike een: Wanneer weet jy om ‘n storie wat jy deur jou motorvenster sien, net mooi daar buite te laat en verby te ry na ‘n ander een?

Ek het vandag deelgeneem aan ’n vorm van guerrilla-teater saam met die tweedejaar-dramastudente aan die Universiteit Stellenbosch. Dit wat ek waargeneem het, sou ’n interessante komedie kon word. Maar nee, dit gaan nie vleis en bene kry nie ... Aandlied moet eerste gebeur.

Op jou tweede vraag: Enigiets kan ’n storie word. Dit hang net af hoeveel tyd jy het.

  • 1

Kommentaar

  • Marlene van Nieuwenhuizen

    Ek is 'n student verbonde aan Unisa, ek is dringend op soek na u boek die dag toe ek my hare los gemaak het. Ek woon in Westonaria te Jhb. Dankie vir u tyd, as u my net kan laat weet waar ek u boek kan kry! Baie dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top