2 Oktober 1974: Die dag toe boetie sy ouers ’n groot kopseer gegee het

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

’n Sekere mnr Pretorius van Windhoek se omgewing in die destydse Suidwes-Afrika het groot geskrik toe sy vrou hom op ’n aand kom meedeel dat hulle tweejarige seuntjie so pas omtrent ’n hele pakkie pynpille opgeëet het. Die knapie was vroeër die dag olik en sy ma het vir hom een van die bekende pynstillers, wat ook deesdae gebruik word om ’n mens se bloed dun te hou, gegee. Skynbaar het die outjie nogal gehou van die smaak van die pil, want later die dag, toe sy ma nie kyk nie, het hy die pakkie oopgemaak en nog nege van die pilletjies geëet. Mev Pretorius het haar bevange geskrik toe sy agtergekom wat gebeur het en sy het vir manlief opgekommandeer om hulle hospitaal toe te neem.

Op pad Windhoek toe is mnr Pretorius deur ’n snelstrik teen ’n spoed van 116,8 km/h. Dit was in die tyd van brandstofbesparing en die algemene spoedbeperking was 80km/h. Die Pretorius-spruit is in die Windhoekse hospitaal opgeneem en hoewel sy magie die volgende dag taamlik omgekrap was, was hy perdfris en kon hy ontslaan word.

Mnr Pretorius is gedagvaar om voor die hof in Windhoek te verskyn. Hy het skuldig gepleit maar tog darem verduidelik onder watter omstandighede hy so vinnig gejaag het. Hy het ook ’n sertifikaat van ’n dokter aan die hof voorgelê wat bevestig het dat die kind op die betrokke aand van die spoedoortreding in die hospitaal behandel is.

Die landdros het mnr Pretorius skuldig bevind aan die oortreding, maar gesê dat hy ook maar, as dit sy kind was, sou geskrik het indien hy moes agterkom dat die kind nege pynpille ingekry het. Hy het egter vir mnr en mev Pretorius geroskam oor die feit dat hulle "hierdie tipe van goed", soos hy dit gestel het, in hulle huis laat rondlê het dat ’n kind van twee jaar dit in die hande kon kry. Mnr Pretorius is uiteindelik ’n boete van R175 (ongeveer R3 000 in vandag se geld) of 75 dae gevangenisstraf opgelê. Dit was ’n stywe boete en daarom is die saak op outomatiese hersiening geneem deur twee regters van die hooggeregshof in Windhoek.

Regter Le Grange, wat die hof se uitspraak[1] op 2 Oktober 1974 gelewer het, was glad nie tevrede dat die Staat bewys het dat mnr Pretorius skuldig was nie, selfs al het hy skuldig gepleit. Die hof het beslis dat daar ’n moontlikheid was dat mnr Pretorius in ’n noodtoestand opgetree het.

As iemand in ’n egte noodtoestand optree, dan tree hy nie onregmatig op nie. ’n Noodtoestand is dus ’n sogenaamde regverdigingsgrond wat veroorsaak word deur omstandighede buite ’n mens se beheer, soos byvoorbeeld ’n natuurkrag, of die optrede van ’n ander persoon, of selfs die welsyn van iemand anders – in hierdie geval die onskuldige tweejarige seuntjie wat die spul pynpille loop eet het.

Die regter het die vereistes vir ’n noodtoestand ondersoek. Die eerste is dat die regsbelange van die beskuldigde in gevaar gestel moes gewees het. Sonder twyfel was daar vir mnr Pretorius en sy vrou ’n dreigende onheil, naamlik die gesondheidstoestand van hulle kind. Dit het op hulle ’n plig geplaas om op te tree.

Die tweede vereiste vir ’n noodtoestand is dat die bedreiging reeds moes begin het of sterk dreigend moes gewees het. Ook wat hierdie vereiste betref, het regter Le Grange beslis dat die gevaar vir die Pretoriusse dreigend en voor die deur was. Die feit dat die kind eers die volgende dag simptome getoon het toe sy maag omgekrap was, het geen afbreuk gedoen aan die toestand wat geheers het toe hy die pille ingekry het nie.

Die derde vereiste vir ’n noodtoestand is dat die toestand nie deur die beskuldigde se eie toedoen moes ontstaan het nie. Nou, u sal onthou dat die landdros bevind het dat mnr Pretorius en sy vrou uiters nalatig was om die pille in die huis te laat rondlê. Regter Le Grange was egter nie met hierdie bevinding tevrede nie, want daar was geen getuienis oor die presiese omstandighede waaronder die kind die pille in die hande gekry het nie.

Nog ’n vereiste vir ’n noodtoestand is dat dit vir die beskuldigde nodig was om die dreigende gevaar die hoof te bied. In dié verband het die regter beslis dat dit waarskynlik was dat ernstige onheil die kind sou getref het indien hy nie gou na ’n hospitaal geneem is nie.

Die laaste vereiste is dat die metodes wat die beskuldigde aangewend het om die bedreiging die hoof te bied onder die omstandighede redelik moes gewees het. Mnr Pretorius se jaagtog na Windhoek se hospitaal het plaasgevind te midde van ’n internasionale oliekrisis en ’n toegespitste poging deur die destydse owerhede om brandstof te bespaar. Daarom dat die algemene spoedgrens so laag soos 80 km/h was. Regter Le Grange was baie skepties oor die staatsadvokaat se opmerking dat mnr Pretorius petrol moes bespaar het deur stadiger te ry.

Uiteindelik het die hof beslis dat die staat nie daarin geslaag het om te bewys dat mnr Pretorius nie in ’n noodtoestand opgetree het nie. Gevolglik is sy skuldigbevinding en vonnis deur die hof ter syde gestel.

Maar nou ja, hierdie uitspraak is nie ’n paspoort vir mense om te loop jaag op ons paaie nie. Vir die jong manne: dit sal nie help as jy deur ’n snelstrik gejaag het om vir jou meisie of vroutjie te sê om ’n trui of ’n kussing voor by haar rok in te druk sodat sy hoog swanger lyk nie. Jou verskoning sal dan seker wees dat julle op pad kraaminrigting toe is. Een van die redes hoekom mnr Pretorius en sy vrou los gekom het, is dat hulle darem agterna ’n sertifikaat van die dokter kon voorlê waarin bewys is dat hulle tweejarige spruit deur die ongevalle-afdeling van die Windhoek se hospitaal behandel is.


[1]  Vgl S v Pretorius 1975(2) SA 85 (SWA)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top