Die DA en Mmusi Maimane

  • 0

Die DA is met Mmusi Maimane op dieselfde plek as wat die Britse Arbeidersparty in 2010 met Ed Miliband was – tussen die duiwel en die diepblou see.

Hy is koersloos sonder enige werkbare idees om antwoorde vir die komplekse politieke, maatskaplike en ekonomiese uitdagings na apartheid te bied.

Die wêreldwye ekonomiese inploffing van 2008 het die Arbeiders met sy broek op die knieë gevang. Dié ekonomiese sorge het ’n paradigmaskuif van links na regs in die Europese politiek gebring.

In die Europese konteks is die "regses" diegene wat die vryemarkstelsel aanhang, teenoor die linkses, die sosialiste en kommuniste.

Dit is hoekom die sosialistiese Arbeiders in 2010 uitgestem is ten gunste van die Tories van David Cameron as teenvoeter vir die sosialistiese en middellinksgesinde groeperinge. Die Tories wen stemme, soos ook in verlede week se Britse algemene verkiesing, met hul uitgangspunt dat hulle die verdere “ekonomiese” verval in Europa wil stuit.

Uit die “klassieke linkse” oogpunt, soos verwoord in Karl Marx en Frederick Engels se Kommunistiese Manifes (1848), sou die Tories vandag as ’n klomp nikswerd “regses” beskou kon word.

Die wêreldorde na die Tweede Wêreldoorlog (1945) en die val van die Berlynse Muur (1989) het egter vinnig verander. Vandag het die oorwegend konserwatiewe Britse bevolking niks tyd vir die linkses nie en stem oorgewend vir die Tories.

"Regs" is cool en "links" word gevolglik verwerp.

Tony Blair, eertydse Britse eerste minister, is blykbaar die laaste Arbeider-leier wat die politieke en ekonomiese aptyt van die Britse kiesers kon opsom en dit prakties kon verwoord.

In 1997 kon Blair met sy “middellinksprojek” – New Labour – die geskiedenisboeke herskryf deur die Tories van John Major – wat toe nog op die ekonomiese suksesse van hul ikoniese Margaret Thatcher geroem het – oortuigend by die stembus klop.

Blair het suksesvol die Arbeiders na die middelpunt van die politiek gemoderniseer, ’n paradigmaskuif wat aanvaarbaar was vir die rykes, middelklas en werkersklas. Gevolglik het dit die Arbeiders se aansien van ’n sosialiste party wat met die vakbonde in die bed is, gesuiwer.

Toe kom 2008 se ekonomiese inploffing met Gordon Brown as eerste minister en Arbeider-leier. Hy het wel goed gevaar deur die krisis in die banksektor goed te bestuur, maar het bly roem op die toe reeds uitgediende New Labour-projek. Gevolglik het die Arbeiders die verkiesing in 2010 verloor.

Brown het bedank en die jonge (toe 39) en onervare Miliband is as leier gekies. Dit was ’n groot fout, omdat hy nie die strategiese vermoëns en visie gehad het nie. In plaas van “regs” het Miliband “links” gedraai. 

Gevolglik is die Arbeiders in verlede week se Britse algemene verkiesing deur die Tories in Engeland (na regs) en die Skotse Nasionale Party in Skotland (na links) amper uitgewis.

Miliband het roemloos as leier die aftog geblaas.

Waarom die DA die onervare en jonge Maimane (34) as leier verkies het, weet net Helen Zille. Die enigste rede is blykbaar om meer swart stemme te trek. Dit is nie net kortsigtig nie, maar ook onintellektueel en rassisties.

Verder onderskat die DA die intellektuele vermoëns van swart mense deur te dink hulle gaan bloot vir ’n swart gesig stem.

Maimane het teen Wilmot James gewen omdat hy swart is en nie omdat hy ’n strategiese visie vir die DA en Suid-Afrika het nie.

Is Maimane vir of teen die doodstraf? Ons weet nie presies nie.

Hy klink soos ’n populistiese leë blik met ’n beperkte kennis van die Grondwet en die Menseregtehandves wat nie logies kan dink nie. Selfs Julius Malema kom intellektueel en visionêr beter oor as hy.

Is Maimane ’n “bruikbare idioot” vir die “werklike” wit DA-leierskap bestaande uit Athol Trollip en James Selfe?

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top