Die Bybel het nog nooit voorgegee om ’n letterkundige werk te wees nie. Nog nooit. Ook nie nou nie.
Vroeër jare was gelowiges in beheer van die vertaling van die Bybels – die vertalings het vir een doel geskied en een doel alleen – om die outentieke Woord uit te dra aan alle nasies ooreenkomstig die opdrag van die HERE (Mattheus 28:19) maar beslis nié vir letterkundige doeleindes nie. Dit is “moeilike” vertalings, maar gelowiges het weens Godgegewe insig nog nooit probleme gehad om hul geloof daarmee te beoefen nie. Die Bybel is gereedskap in die evangelis en die algemene gelowige se hand. Die Bybel neem die plek in van massas evangeliste en alleman se huis. Dit Bybel is nie ’n geskiedenishandboek nie, alhoewel daar baie geskiedenis in opgeteken is, relevant tot die Spirituele boodskap daarvan. Die Bybel is ook nie ’n wetenskaplike of biologiese handboek nie, alhoewel daar baie dergelike gegewens in opgeteken staan, weereens relevant tot die Spirituele boodskap daarvan. Die Bybel stel hom ten doel om die mensdom omtrent God en Sy Heerlikheid in te lig en daarin het die Bybel oor die eeue heen, nadat dit uit die hande van Katolieke opportuniste geruk is, mildelik en skouspelagtig geslaag – moeilike taalgebruik en al. Want dit het nog nóóit oor die taal in die Bybel gegaan nie, maar oor die Gees in die Woord, soos in talle tale bruikbaar gemaak vir die mens. Só het die Woord deur die Bybel oor die wêreld versprei soos ’n goeie wolk en Spirituele Lewe ondersteun soos niks anders en geen ander boek nog óóit dit kon nadoen nie.
Niks daarvan het nog verander nie. Ten spyte van die verbete teëstand en verdagmakery, oor báie eeue heen, het die Woord versprei van sterkte na sterkte … Dit is vandag nog só en sal só voortgaan tot die HERE kom.
Die verfoeilikhede wat die agnostikus en ketter daarmee probeer aanvang, doen daar geen afbreuk aan nie. Dit is vir daardie rede dat gelowiges oor die vertalings van die Bybel gewaak het, om seker te maak die Gees van die teks bly behoue. Daar is miljoene der miljoene Woordgetroue Bybels oraloor in die wêreld – daar is haas nie ’n huishouding sonder een nie – verál blykbaar nie agnostiese huishoudings nie!
Wonderlik!
Sedert die middel-tagtigs en veral die negentigs, het dinge met die vertaalwerk begin verander. Sekularici skaai die proses … Vandag maak dit nie saak of die vertalers gelowiges is nie – en omdat hulle nie gelowiges is nie, volg hulle sekulêre riglyne. Soveel só, dat agnostici hul begin verlekker in wat daar in die nuwe bybels te vinde is, veral die sekulêre redaksionele kommentare. Heelwat teoloë, wat nie gelowiges is nie, word betrek en die wrang vrug word gesien.
Maar, dié nuwe Bybels sal nie lank die lig sien nie – hulle sal kom en gaan. Die ou vertalings sal weer oorneem. Hier gedurende die middel negentigs, was daar omtrent nie ’n ou vertaling van die Woord nuut op die rakke te vinde nie. Maar, weens enorme druk van die massiewe korps van gelowiges, is die ou vertalings weer vandag volop.
Agnostici kan hulle maar verlekker in die nuwe pogings – wat seker poog om literêre werke te wees, want Gods Woord is dit altemit nie werklik meer nie. Laat hulle maar tekere gaan, maar die integriteit van die ware Woord, soos opgeteken in die Bybels met die nodige integriteit bly absoluut ongeskonde.
Let op, dit is net die Godloënaars wat hier en elders ketter en kekkel oor die Bybel se sogenaamde literêr status en behandeling as sekulêre literêre bron – en dit is net hulle wat vir dié snert, wat in die eerste plek deur hulle self uitgedink is, val – maat let op – die arme stommerike is rééds gevalle en rééds verward en rééds mislei – en deur hul optrede gaan die misleiding vir hulle maar net ’n nuwe diepte-dimensie binne. Dit is soos ’n verminkte mens wat sy sinne verloor en homself doelbewus nog méér vermink, terwyl biljoene ander normale mense kopskuddend toekyk en met hul lewens voortgaan – ongestoord!
Arme spiritueel gebroke en domonnosel agnostici, waarmee gaan julle jul volgende tentoonstel vir die insigloses wat julle is?
Kobus de Klerk


Kommentaar
Ha,ha! Hoe lekker lag ek nou!
Dit maak regtig nie saak vir Christene watter Bybel-vertalings hulle Sondae saam met hulle sleep kerk toe nie. Bybelse ongeletterdheid was seker nog nooit so hoog as in die huidige era van charismatiese en fundementele kerke nie. WWJD ('what would Jesus do') literatuur word uitgestal in Christen boekwinkels reg by die deur, terwyl die Bybels gestapel is in die agterste hoek. Soos wafferse Dr Phils en Oprah Winfreys skitter die tande van suksesvolle en gelukkige agente vir God van die voorblaaie van die 'best seller' rak af. Vir elke kwaal is daar 'n outeur wat jou sal verlos van jou geld.
'n Paar eenvoudige vragies aan jou gemiddelde Christen sal jou gou oortuig dat hulle kennis van hulle eie geloof uiters oppervlakkig is. Enige poging tot 'n ernstige gesprek word begroet met, 'but Jesus loves you...', asof dit wat in die res van die Bybel staan onbelangrik is. As dit nie op 'n bumper sticker inpas nie is dit te lank. Dit, Kobus, is wat geloof is vir meeste Christene. Dit is hoekom mense soos jy wat 'n groter kennis het van die Bybel in julle gemeenskappe toegelaat word om die res aan te vul met kreasionisme en pseudo-historiese of pseudo-wetenskaplike snert. Gelowiges wil vry wees om te praat in tonge, met oe styf toegeknyp te staan om, met handpalms na vore gedraai, wat bo die kop rondswaai, 'halleluja' te prewel.
As hierdie uitspattige self-help-geloof uiteindelik sy gat sien, en dit sal sekerlik gebeur, sal die Bybel sy regmatige plek inneem langs die letterkundige bundels van die mensdom. Net so min as wat ons vandag die Griekse gode oorweeg vir aanbidding sal dit oorweeg word om die god(e) van hierdie boek te aanbid. Jy sien, Kobus, jou 'dumbing down' van jou geloof verhaas hierdie proses. Die biljoene wat aan niks anders glo as die liefde van Jesus gaan niks he om op terug te val as die wereld eers goed opgefok is en die einde het nie gekom nie. Dit sal seker eers dan wees dat die mensdom die nutteloosheid van geloof insien. Soos die alkoholis wat eers in die gutter moet wees voordat hy ophou suip.
Chris,
Jy bespot in jou vooroordeel, onkunde en ongeronde maar diepliggende argwaan en antagonisme die dat Christene mense soos julle gedurig attent maak op dié feit – naamlik “but Jesus loves you...”
Dit is na alles die kruks, die spilpunt, van die Christelike Godsdiens – en van die HERE van daardie Godsdiens – Jesus Christus die HERE.
As jy dit tog maar net kon regkry om jou antagonisme en vooroordeel effens opsy te skuif en vir jouself die eerlike vraag te vra, waarom ontstel dié stelling jou so baie? Waarom wil jy neersien daarop? Hoekom maak dit jou ontsteld en kwaad en venynig as iemand vir jou sê dat jy liefgehê word deur Iemand vir Wie jý nie ken, nie, maar wel vir jóú ken? Is daar ’n rasionele verklaring vir jou vreemde reaksie? Is jy bereid om eerlik daaroor na te dink? Want jy sien, as die ontvangs van nie-erotiese liefde (omgee liefde) en liefdebetuiging negatiewe reaksie by ’n mens uitlok, veral komende van ’n “Vreemde” – dan is dit tyd dat daardie mens introspeksie moet hou… en as jy dít nie kan insien nie, dan is daar mos groot fout by jou?
Ek sal iets meer volledig oor jou kommentaar skrywe.
Groete,
Kobus de Klerk