Die bruin mense is weer in 'n politieke wildernis

  • 2

Roy du Pré (bron: Republikein)

Die bruin mense is weer in ’n politieke wildernis. Daarvoor kan hulle hulself deels blameer.

Die verwikkelinge op die onlangse Wes-Kaapse DA-kongres en Helen Zille se onverwagse aankondiging dat sy as DA-leier gaan uittree, het die land weer op bruin mense se politieke dilemma aandagtig gemaak.

In die 1980’s, toe die driekamerparlement in volle gang was, het Roy du Pré ’n genuanseerde artikel oor die problematiek van die destydse bruin politiek geskryf.

Du Pré het ontledend geskryf oor die gebrek aan ’n intellektuele klas onder bruines wat op ’n wetenskaplike en strategiese manier rigtinggewend aan die politiek behoort deel te neem. Hy skryf die min bruin intellektuele (toe ondersteuners van die swartbewussynbeweging) is vervreem oor die bruin werkersklas se rasgedrewe politiek. Die meerderheid bruines se politieke keuses is uitgeoefen op grond van ras eerder as die beleidsdokumente van ’n politieke party.

Vandag, dekades na dié publikasie van die artikel, is dit veilig om te sê die situasie onder sommige bruines het niks verander nie.

Bruin politieke deelname word in die meeste gevalle deur selfopgelegde vrees, min selfvertroue, ’n minderwaardigheidskompleks en die volgende persoon se ras of etniese afkoms beïnvloed.

Wit mense word altyd verhef tot meerdere status en swart mense gereduseer tot bruines en wittes se ondergeskiktes.

Dit was nogal interessant om op TV te sien en by andere te hoor die Wes-Kaapse DA-kongres is gelaai met “ou” en konserwatiewe bruin afgevaardigdes van die destydse driekamerpolitiek.

Hulle het destyds van die Arbeidersparty (AP) weggehardloop het toe dié party aangesluit het by die destydse Patriotiese Front – die ANC, SAKP, Azapo en PAC.

Hulle wat van die NNP weggehardloop het toe dié party in die ANC versmelt het. Dis hulle wat niks gesê het toe Nelson Mandela destyds op die Kaapse Vlakte die k-woord toegesnou is nie. Dis hulle wat destyds hul rug op Allan Boesak en die nuwe Suid-Afrika gekeer en vir die apartheidsminister Hernus Kriel as Wes-Kaapse premier gestem het. Dis hulle wat die Wes-Kaap as die bruin mense se tuiste beskou en wat deur wittes regeer mag word, maar net nie deur swart mense nie.

Die DA, wat deur talle bruines as ’n skuilingplek teen swartes beskou word, het skielik met Zille se uittrede tot ’n stilstand geknars. Dié party met sy Engelse liberale, konserwatiewe wit en bruin steun het in sy huidige formaat die einde bereik. Die toekoms behels dus ’n DA met ’n swart leier wat swart meerderheidsbelange oftewel kenmerke van ’n welsynstaat vooropstel. Die huidige politieke en ekonomiese klimaat (realpolitiek) verg dat die DA sosiaal-demokratiese waardes nastreef pleks van die uitgediende klassieke liberale waardes.

Sommige bruines wat nes swart mense slagoffers van apartheid is, is so naïef, hulle besef nie ’n welsynstaat kan hulle ekonomies bevoordeel nie. Vir hulle gaan dit meer oor om onder ’n wit-beheerde politieke party te dien as oor die beleid van die party.

Op die Wes-Kaapse DA-kongres het hulle liewer vir Patricia de Lille gestem omdat sy steeds glo “die Wes-Kaap is die bakermat van die DA”. Dit sê sy nog nadat dié party in 2014 se verkiesing die meeste stemme in Gauteng getrek het.

Zille se gedwonge uittrede bewys die DA wil ’n groter rol as swart party speel. Dit bewys ook dat die huidige wit en bruin ondersteuners die DA nie in ’n toekomstige regerende party kan omskep nie.

Die vraag is nou: Gaan konserwatiewe bruin DA-kiesers bereid wees om in ’n nuwe DA onder ’n swart leier te dien?

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Quinton Jacobs

    Dit val 'n mens nogal op hoe die werklikheid van swart nasionalisme telkens geïgnoreer word, wanneer mense oor politiek in Suid-Afrika praat.
    Die gevoel onder bruinmense is dat swartmense net so rassisties is soos witmense gedurende apartheid was.
    Hierdie beskouing van swartmense word ondersteun deur onlangse voorbeelde van blatante rassisme teen bruinmense. Dat ons die DA sien as 'n party wat ons regte kan beskerm is dus logies. Die aspek in die DA se beginsels wat ons op reken, is hul idee van 'n nie-rassige Suid-Afrika.
    Die welsynstaat is wel deur die ANC begin, maar dit is sekerlik met ons, maak nie saak wie die regering is nie.
    Vir my is daar net twee opsies voor die bruin gemeenskap: neem deel en maak die DA ten volle nie-rassig, of wend onsself tot 'n nasionalistiese formasie, vir beskerming teen swart nasionalisme.
    Het ons 'n obsessie oor swart nasionalisme? Miskien. Maar nasionalisme is DIE groot ideologie wanneer dit by geweld en onderdrukking kom.

  • Quinton

    Enigiets gebasseer op velkleur of voorkoms, is nie nasionalisme nie, wel rassisme.

    Nietemin, in die konteks hoe jy "nasionalisme" wil lees, hoe sal dit die lot van die bruinmense beter bevorder en hoe gaan dit as 'n teenvoeter vir swart "nasionalisme" dien ten behoewe van die bruinmense?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top