Die Broederbond-sitkamer bied meer as 'n gesellige kuier

  • 1

Die Kaapste kunstenaar Pierre le Riche se Broederbond-uitstalling is ’n kleurfees wat jou reg tussen die oë sal tref. En al lyk dit na ’n speelse stuk gay aktivisme, pak Pierre die breër onderwerp van Afrikaner-manlikheid by die horings. Sy ondersoek na die geskiedenis van Afrikaner-manlike oorheersing vergestalt in ’n uitnodiging om die Broederbond-sitkamer binne te gaan.

Hallo Pierre. Die Broederbond-uitstalling kyk na die verhouding tussen Afrikaner-manlikheid en homoseksualiteit. Hoe het jy op die hierdie tema besluit?

Ek was nog altyd geïnteresseerd in sosiologie, veral die verhouding tussen 'n mens se opvoeding en grootword-omstandighede en hoe dit mens se karakter as volwassene beïnvloed. Ek voel alle goeie kuns kom uit jare se lewenslesse, so die ondersoek na die verwantskap tussen Afrikaner-manlikheid en seksuele identiteit is eintlik ’n vorm van introspeksie.

Verduidelik asseblief vir ons die idee agter die Broederbond-uitstalling se ontwerp.

Die ontwerp beeld ’n tradisionele Afrikaner-voorkamer uit tydens die 1995-Wêreldrugbybeker-eindstryd op televisie. Die mure is in ’n reënboogspektrum van kleur gemaak uit garing, die meubels oorgetrek in pienk breiwerk. Uit die plafon hang daar 150 oorgetrekte rugbyballe. In konserwatiewe Afrikanerhuise is onderwerpe soos seksualiteit taboe – maar in my woonkamer word die idee op sy rug gedraai. Die televisiestel se klank is afgedraai en wie ook al binne-in die kamer is, kan gesels waaroor hulle wil.

Watter soort sosiale kommentaar wil jy deur middel van die Broederbond-uitstalling lewer?

Deur na Afrikaner-manlikheid te kyk verken ek die beginsels van manwees in die Afrikanerkultuur en postapartheid-Suid-Afrika. Broederbond streef nie na konfrontasie of aktivisme nie, maar eerder die bevordering van dialoog en aanvaarding. Die uiteindelike doel is om interkulturele aanvaarding en ’n nuwe soort broederskap in Suid-Afrika te bewerkstellig.

 Die uitvoerende kunstenaar Steven Cohen se werk het ’n sterk invloed gehad op jou. Hoe pas Broederbond hierby in?

Steven Cohen – ’n uitvoerende kunstenaar, soos jy sê – is bekend vir sy openbare inmenging en sy konsepte van seksuele identiteit binne queer­- en Joodse subkulture, en het ’n besonderse invloed gehad op hierdie versameling werke. In sy werk Ugly girl at the rugby daag hy tydens ’n rugbywedstryd by Loftus Versfeld op, in drag. Hy “other”die rugbymal Afrikaners speels deur homself in hulle grondgebied te plaas en maak die taak om ’n kaartjie te koop meer konfronterend. Sy uitspattige queer-kostuum dra by tot die drama en lok die ondersteuners uit deur te speel op hul onderbewuste ongemak jeens homoseksualiteit: hy is dadelik onwelkom.

Alhoewel my onderwerp verband hou met dié van Cohen, is my bedoelings anders: my teenwoordigheid in die installasie gee die kyker die kans om sy of haar lewenservarings rakende homoseksualiteit in die Afrikanerkultuur te bespreek. Dit stel ten doel om die stilte wat gay mans in die Afrikanerkultuur ervaar te verbreek, maar bemagtig ook vir my as kunstenaar: my kuns skep 'n dialoog tussen my en die kyker, waardeur hy of sy herinner word dat dit moontlik is om ’n nuwe identiteit te vind buite die norme van die samelewing.

Hoe het jou persoonlike ervaringe as Afrikaner-man jou werk beïnvloed?

Ek het Calvinisties-Afrikaans grootgeword, so het nog altyd ’n goeie begrip gehad van die verwagtinge van wat ’n man moet wees in die Afrikanerkultuur. My eie ervaringe was egter net deel van die inspirasie agter my kuns. Alle standpunte wat ek inneem, insluitend dié oor Afrikaner-manlikheid, is streng akademies nagevors. Die geskiedenis van die Afrikanerkultuur dui aan dat die Afrikaner-Broederbond ’n sterk invloed gehad het op die beginsels van man-wees in die Afrikanerkultuur. Die Broederbond het streng reëls neergelê vir die patriargale raamwerk wat nie afwykings soos homoseksualiteit geduld het nie.

Hoeveel en watter materiale het jy gebruik?

Die uitstalling bestaan meestal uit rugbyballe en akriel-garing. Daar is omtrent 150 balle en omtrent 18 km gare gebruik.

Hoekom juis rugbyballe en kleurvolle garing?

Na die Nasionale Party se nederlaag in 1994 het Afrikaner-oorheersing hom uitgedruk in rugby, wat ’n politieke spel uit eie reg geword het. Die Springbokke se oorwinning oor Nieu-Seeland tydens die 1995-Wêreldrugbybeker-eindstryd was ’n beduidende oomblik vir die Afrikaner-man. Baie interpreteer dit as die bewys van manlike meerderwaardigheid: die potensiaal van die Afrikanerman as ’n “superras”. 

Tydens die yarn bombing-proses gebruik ek gare in die kleure van die Gay Pride-vlag om ’n verwantskap te soek in die skynbare teenstelling van homoseksualiteit en Afrikaner-manlike oorheersing.

Verduidelik asseblief vir ons wat yarn bombing is en hoekom jy juis hierdie medium gekies het.

Ek het yarn bombing juis gekies omdat ek die idee van Afrikaner-manlikheid ’n nuwe baadjie wil gee. Juis omdat dit ’n konsep is wat nog altyd onveranderbaar was.

Yarn bombing het ’n paar jaar terug bekend geword in Engeland as ’n tipe graffiti. Die grootste verskil tussen die intensies van graffiti-kunstenaars en yarn bombers is dat  graffiti ’n doelbewuste beskadiging van eiendom is om ’n punt te bewys of konsep te illustreer, terwyl yarn bombing ’n niepermanente manier is om koue, steriele spasies of voorwerpe te herwin en meer aanloklik te maak.

Was die breiproses net so belangrik as die eindproduk? Jy moes ure aaneen brei! Hoe het die ervaring die eindproduk beïnvloed?

Daar is altyd estetika in kuns betrokke, maar die filosofie daaragter is belangriker. Die breiproses het op die ou end baie tyd vir selfondersoek gelaat, wat die konsep van die werk versterk het.

Waar het jy leer brei en geniet jy dit?

YouTube! Ja, dit is baie terapeuties.

Jy het ook mense genooi om saam met jou te kom brei. Wat was die publiek se reaksie?

Ja, enigiemand kan saam met my kom sit en brei by die galery tydens die uitstalling. Ek twiet ook elke nou en dan (en sal beslis weer in die toekoms) ’n plek waar die publiek saam met my kan kom brei soos byvoorbeeld die Kompanjietuine in die Kaap. Voor die uitstalling was die meeste mense maar huiwerig, maar die reaksie raak al hoe meer positief soos die uitstalling verloop.

As ek dink aan brei, kom ’n prentjie van ’n groep tannies na vore wat saam sit en brei en gesels. Ek probeer hierdie konsep, saam met die idees van yarn bombing, laat voortleef tydens die uitstalling. Enigiets wat taboe verklaar was in die verlede, soos seksuele identiteit, kan nou openlik oor gesels word.

Hoekom het jy besluit om die publiek hierby te betrek?

As ek alleen gesit en brei het, sou ek die idee projekteer dat hierdie probleem net vir my as individu raak. Dit is egter iets wat die hele Suid-Afrika raak, so hoekom nie hulle almal nooi om daaroor te kom gesels nie?

Vertel my meer van jouself ... Waar woon jy?

Ek het grootgeword in Bellville en woon nou in Dieprivier. My ateljee is in die kreatiewe hub van die Kaap – Woodstock!

Wat is jou persoonlike filosofie as dit by kuns kom?

Less is more, maar in die kunswêreld is dit nie altyd hoe dinge uitwerk nie. Die Broederbond-uitstalling is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Was die uitstalling ’n persoonlike bevrydingsoefening? Hoe ervaar jy Afrikaner-manlikheid?

Die projek is ’n weerspieëling van my kinder- en tienerjare as Afrikanerseun (wat geweier het om ’n rugbybal op te tel), maar ook my eie soektog na wat “man-wees” rêrig beteken in postapartheid-Suid-Afrika.

Wat was die reaksie teenoor jou werk sover?

Ek het gedink ek sou teen dié tyd al baie diskriminerende kommentaar van die publiek af ontvang het, maar ek is trots om te sê dat almal nog baie ondersteunend was. Baie mense kan identifiseer met die kommentaar wat ek lewer.

Buite die uitstalling hang daar ’n interessante selfportret. Vertel my meer daarvan?

Die hars-portret is ’n baie persoonlike werk, omdat dit ’n jonger, meer naïewe ek uitbeeld. Die portret bestaan uit hars en ryspapier wat in ’n rugbybal-vorm in lae gegiet is. Ek het dit Through the looking glass genoem, omdat dit kyk na die type-casting wat ek al ervaar het in my lewe, maar ook verwys na my wat uitkyk op die Afrikanerkultuur en ’n identiteit wat ek net moes aanvaar het. Ek het hierdie portret doelbewus buite my voorkamer geplaas as ’n tipe shrine – ’n herinnering aan my ou, meer naïewe bewustheid van myself, maar ook my nuutgevonde identiteit buite die verwagtinge van my kultuur.

Besoek die Broederbond-uitstalling by die Lovell-galery in Woodstock, Kaapstad.
www.pierreleriche.co.za

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top