Sterflikheid vergestalt in ’n paar spykerhakke

  • 0

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Steven Cohen se film Golgotha (2007-9) bevraagteken wat dit is om mens te wees in ons huidige Westerse samelewing. Golgotha is ’n introspektiewe film wat ’n diep indruk op die kyker maak. Die film is saamgestel uit dokumentêre beeldmateriaal van Cohen se opvoering in die strate van New York. Die film is by die Pompidou-sentrum in Parys vertoon as deel van die Festival d’Automne in November 2009. Die film is ook vanaf 21 Januarie tot 6 Maart 2010 by die Michael Stevenson-galery in Kaapstad vertoon as deel van die kunstenaar se eerste solo-uitstalling in tien jaar in Suid-Afrika, getiteld Life is Shot, Art is Long.

Cohen, ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar van Joodse afkoms, woon en werk tans in Frankryk. Hy is bekend vir sy uitdagende vertonings wat hy in galerye, teaters en publieke ruimtes opvoer. Sy ingrypende optredes werp lig op opderwerpe wat gewoontlik deur die samelewing verwerp word. Met sy vorige optredes, wat hy sedert die laat 1980’s uitvoer, gebruik Cohen sy identiteit as ’n homoseksuele Joodse man as uitgangspunt. Golgotha weerspieël egter nie hierdie ingebore kwessie op ’n buitensporige en kru manier soos sy vorige optredes nie. ’n Voorbeeld van een van sy optredes wat beide sy Joodse afkoms en sy homoseksualiteit uitbeeld, is Cleaning Time (Vienna) … a shame and disgrace (2007). Met hierdie optrede skrop hy die plaveisel van die Heldenplatz in Wene spottenderwys met rooi platformskoene en ’n massiewe tandeborsel. Dit is ’n verwysing na die slagting van die Tweede Wêreld Oorlog– Joodse gevangenes is deur die Nazi’s gedwing om Heldenplatz met tandeborsels te skrop. Om vernedering nog verder te uit te beeld, dra hy ’n Joodse ster teen sy bors, ’n horing op sy kop en ’n groot diamant wat by sy anus uitsteek. Alhoewel die teatrale gevoel nog steeds in Golgotha teenwoordig is, is dit, in kontras met sy vorige werk, eerder ’n meer subtiele refleksie op die gedaantes van Westerse samelewing wat hy afstootlik vind.

Golgotha is Cohen se eerste kunswerk wat sterflikheid in die gesig staar. Met die aanvang van die film word die gehoor bewus gemaak van die kunstenaar se wit, manlike en verouderende liggaam. Die openingstoneel speel af in ’n helder wit ateljee waar Cohen in die middel van die area staan met ’n borstrok in barokstyl versier, met troukrone, fluweel en spieëls. Sy gesig is gemasker met swaar glinstergrimering en skoenlappervlerke. “Hope There is Someone”, ’n hartseer lied deur Anthony and the Johnsons, speel terwyl Cohen stadig op die maat daarvan dans. Dit is ’n lied oor die dood, en die lirieke lees onder andere: “Hope there is someone who’ll take care of me, when I die, will I go." Nabye beelde onthul sy liggaam se veroudering en laat dit weerloos voorkom. Die film verteenwoordig die kunstenaar se strewe na die verwerking van die trauma wat gepaard gaan met die dood.


Steven Cohen, Golgotha – Portrait #1, 2007, C-print. Foto: Marianne Greber/VBK Wien

Hierdie toneel word gevolg deur video-insetsels van Cohen se opvoering in New York. Hy vertel dat die inspirasie vir die kunswerk by hom opgekom het nadat hy mensskedels te koop gevind het in ’n kuriositeitswinkel in New York se Soho-distrik. Ook bekend vir sy merkwaardige kunsvaardigheid, het Cohen die twee skedels in ’n paar baie hoë spykerhakskoene omskep (hy noem sy skepping skullettos). Geklee in ’n besigheidspak en met sy blink skoenlapper-grimering en die skedelhakke skop Cohen sy staptog af in Wall Street, die kern van Westerse ekonomiese imperialisme. Hy ondermyn die konvensie van die besigheidspak deur die skedelhakke in kombinasie daarmee te dra. Hy loop dan tydsaam en versigtig verby Trinity Church, deur Times Square en eindig by Ground Zero – die ligging van die gebombardeerde World Trade Center. Sy staptog vanaf Wall Street na Ground Zero herinner aan die Stasies van die Kruisweg – die pelgrimstog na Golgota, die plek van Jesus se kruisiging.

Steven Cohen, Golgotha – Portrait #2, 2007, C-print, Foto: Marianne Greber/VBK Wien

Dit is duidelik dat die staptog op die skedelhakke ’n uitdagende taak is, nie net oor die vuil kyke of opgewekte aandag wat hy van omliggende toeskouers ontvang nie, maar omdat dit moeilik is om balans te hou op dié paar ongemaklike skoene. Vreemd genoeg is daar egter heelwat mense wat voorkom asof hulle nie geïnteresseerd is in die kunstenaar se optog nie. Anders as Cohen se vorige optredes, onder andere die berugte Chandelier (2001), sien die kunstenaar die werk as ’n videoproduksie eerder as ’n lewende opvoering vir ’n onmiddellike gehoor. Met Chandelier het Cohen ’n kristal-kandelaar as ’n tutu aangetrek en ongenooid in ’n informele nedersetting in Johannesburg met sy tutu, platformskoene, uitspattige grimering en naakte agterstewe rondgetrippel. Die interaksie met die inwoners was deel van die produksie, en sodoende het dit bygedra tot beklemtoning van die opvallende klasse-ongelykheid in ons land. Sy bedoeling met Golgotha is egter nie om vir die toeskouers in die strate van New York op te tree nie, maar eerder vir die area en vir die kamera wat sy optrede/ingryping te midde van hierdie spesifieke liggings dokumenteer. In hierdie opsig is sy optrede in Golgotha ook baie meer persoonlik en introspektief as sy vorige werk.

Cohen se staptog op die skedelhakke herinner aan uitbeeldings van die groteske liggaam. Die 20ste-eeuse Russiese skrywer Mikhael Bakhtin skryf oor groteske realisme in sy boek Rabelais and His World. In hierdie boek word die groteske liggaam beskryf as ’n liggaam wat karikatuuragtig, afstootlik en onvoltooid is. Degradasie is die essensiële element van groteske realisme, en ’n mate van degradasie of vernedering kan in Golgotha gelees word. Deur skedels in skoene te verander degradeer Cohen die objek. Die skedelhakke verlaag letterlik dit wat hoog, geestelik en ideëel is tot die materiële vlak waar die liggaamlike en die aardse een word. Ek voel dit is gepas om Golgotha te ondersoek as ’n kunswerk wat die groteske uitbeeld om die moontlikheid van herskepping, wat met oordadige degradasie parallel loop, te illustreer. Die samesmelting van geboorte en dood en die tema van die dood as hernuwing is ’n herhalende tema in Bakhtin se beskrywing van die groteske. Die idee van die dood as hernuwing kan ook in Golgotha bespeur word. Groteske beelde is teenstrydig/dubbelsinnig omdat dit ’n noue verwantskap met die siklus van geboorte-lewe-dood het. Die groteske liggaam is dus ’n liggaam wat aanhoudend in wording (in becoming) is. Cohen se gebruik van die skedelskoene verlaag letterlik dit waarmee die menslikheid en intellek van ’n persoon geassosieer word (die hoof van ’n persoon) en verneder dit deur dit met die aarde, of die grond, te verenig. Bakhtin sien degradasie as ’n positiewe, oftewel hernuwende, element. Hy verduidelik: “To degrade is to bury, to sow, and to kill simultaneously, in order to bring forth something more and better.” Daarom kan gevalle van degradasie, soos Cohen se skedelhakke, as positief gesien word, omdat hernuwing/herskepping ’n resultaat van absolute degradasie is.

Die beeldmateriaal van Cohen se opvoering in die strate van New York word onderbreek deur ’n reeks onderstebo danspassies met die skedelhakke steeds aan sy voete. Die spelerige koggeldans word opgevoer op die maat van swaar operamusiek, en die kyker sien slegs Cohen se bene en voete in die lug met die Empire State-gebou in die agtergrond. Die skedelhakke-dans word gevolg deur beeldmateriaal van die effektebeurs-telegraafstrook wat naas mekaar gestel word met beelde van Evolution, die winkel in Soho waar Cohen die skedels teen ongeveer $800 elk gekoop het. Evolution is geleë in die omgewing van winkels
soos Dolce & Gabbana en DKNY – dit is dus ’n plek waar van die wêreld se rykstes ongewone eksotiese items, insluitend mensbeendere, kan aanskaf. Hierdie verwysings na die effektebeurs en verbruikerskultuur maak dit duidelik dat Cohen die skouspel van Westerse kapitalistiese oordaad kritiseer.

Hierdie verwysings na materialisme, tesame met die uitbeelding van skedels en skoenlappers, herinner aan die tradisie van die vanitas-simboliek in Westerse kunsgeskiedenis. Vanitas is Latyns vir (rofweg vertaal) leemte en verwys na die
verganklikheid van die materiële lewe. Die tradisie in skilderkuns word geassosieer met die 16de- en 17de-eeuse stillewes van Vlaandere en Nederland. Vanitas-skilderye is gewoontlik voorstellings van mensskedels, wat herinner aan die dood, in kombinasie met items soos skoenlappers of verrotte vrugte of blomme, wat verwys na verval en die kortstondigheid van die lewe; of horlosies en uurglase, wat verwys na die onvoorspelbaarheid van die dood. Cohen se gebruik van die skedelskoene kan ook interpreteer word as ’n memento mori- verwysing: die Middeleeuse idee dat die uitbeelding van ’n skedel ’n herinnering aan die teenwoordigheid van die dood is.

Steven Cohen, Golgotha – Dead Man Dancing #1, 2007, C-print. Foto: Marianne Greber/VBK Wien

Cohen se kontemporêre memento mori-verwysing ontlok ’n melankoliese gevoel in die kyker. Die instrospektiewe ondertoon van Cohen se optrede in Golgotha was veral vir my, as ’n kyker wat bewus was van sy vorige werk, opvallend. Die deernis en integriteit waarmee Cohen sy groteske reis aanpak, is boeiend, juis omdat dit moeilik is om te besluit of sy optrede moreel aanvaarbaar is of nie.

Teen die tyd dat Cohen Times Square bereik, is dit donker. “Glory, glory hallelujah” speel op die klankbaan terwyl hy sy haglike reis voortsit. Sy liggaam vertoon dwergagtig teenoor die enorme advertensies en flitsende ligte van die verbruikerskultuur. By sy bestemming aangekom, doen hy in die donker ’n privaat dans op die marmerbasis wat by Ground Zero opgerig is ter herdenking van die die slagoffers van die 11/09/2001-terreuraanvalle. Cohen se pelgrimstog vanaf Wall Street tot by Ground Zero herinner ons aan die VSA (en in die algemeen die Weste) se kapitalistiese mag, en as gevolg daarvan, hul kwesbaarheid. Op ’n meer persoonlike vlak herinner dit aan die mens se verganklikheid in die algemeen.

Steven Cohen, Golgotha – Ground Zero #1, 2009, C-print. Foto: Marianne Greber/VBK Wien

Met sy aankoms by Ground Zero verander die klankbaan na ’n dramatiese herhaling van die uitdrukking Rest in peace”.Die kunstenaar se droewige dans met die skedelhakke wat op die marmer weerkaats, kan gelees word as beide ’n persoonlike en ’n openbareklaaglied. Sy ongemaklike en eensame dans gee gestalte aan die spanning tussen persoonlike identiteit en die ervaring daarvan in die publieke ruimte – daar kan dus gesê word dit ’n samesmelting van private en publieke pyn verteenwoordig. Cohen se publieke opvoering kan daarom as ’n persoonlike ondersoek na die dood gesien word. Dit is veral sy dans op die marmerplatform wat my die meeste raak. Dit is daardie oomblik wat die makabere gebaar van sy skedelhakke reis verander in ’n melankoliese treurmars.

Skielik wil dit voorkom asof ek skynheilig sal wees as ek Cohen veroordeel vir sy degradasie van die dood. Inteendeel, ek vind die poëtiese manier waarop hy leed vir die dood betoon, meer treffend as ander vorme van publieke rouklag. ’n Oormaat van die dood word beklemtoon met sy aankoms by Ground Zero, en dit is juis hierdie oormaat wat die kyker se gemoed aanraak.

Golgotha is a work made on feelings rather than convictions,” verduidelik Cohen in ’n onderhoud met Ivor Powel in die publikasie Steven Cohen: Life is Shot, Art is Long (2010). Cohen erken dat hy aanvanklik ontsteld was oor die feit dat mensskedels te koop aangebied word, maar deur die loop van die skeppingsproses het sy bekommernis verander in ’n ondersoek van wat dit beteken om jou menswees te behou. In Cohen se woorde: “It became about trauma and loss and grieving rituals and how to stay human.” Dit is juis hierdie ondersoek wat op ’n subtiele wyse in die kyker se gedagtes vastrakplek vind. Dit is die vraag wat woordeloos by my gespook het nadat ek die eerste keer die film aanskou het, en dit is die vraag waarmee ek self met my eie kunspraktyk worstel. Uitbeeldings van die liggaam in groteske vorme is gepas vir hierdie tipe ondersoek, juis omdat dit ons menswees bevraagteken.

Reaksies op die uitbeeldings van die groteske word opgewek deur ’n dryfkrag wat beide aantrekking en afsku op die kyker uitoefen. George Bataille, ’n 20ste-eeuse Franse teoretikus skryf: “Men are swayed by two simultaneous emotions: they are driven away by terror and drawn in by an awed fascination.” Golgotha versinnebeeld hierdie uitdrukking in die manier waarop kykers sy skokkende gebaar beide boeiend en afstootlik vind. Bataille verduidelik dat daar ’n mate van plesier daarin is om te aanskou hoe taboes verbreek word. Golgotha verteenwoordig ’n fenomeen van oordadigheid of oorbodigheid wat te siene is in kunsskeppings vandag. Dit wil amper voorkom asof ons huidige Westerse samelewing dit wat afstootlik is, graag omhels in ’n onversadigde behoefte om ontwrigtende vorme van beelde te ervaar. ’n Voorbeeld van ’n kontemporêre kunswerk wat ook ondermyndend is, maar in kontras tot Golgotha staan, is die berugte Britse kunstenaar Damien Hirst se beeld For the Love of God (2007). Die beeld bestaan uit ’n platinum-afbeelding van ’n mensskedel met 8 600 diamante ingeset. Hierdie beeld kommunikeer ’n ander tipe oordaad as Golgotha. Waar Cohen se skedelhakke kapitalisme kritiseer en die dood betreur, wil dit voorkom asof Hirst se beeld eerder kapitalistiese mag verheerlik en die uitbeelding van die skedel as ’n herinnering aan die dood afstomp tot ’n oppervlakkige en betekenislose objek.

Soos wat Golgotha die kyker gelyktydig aantrek en afstoot, verteenwoordig die kunswerk nog ’n verskeidenheid van teenstrydighede. Dit dui tegelykertyd op die mag en kwesbaarheid van die Weste, dit vereenselwig private en publieke pyn, dit gee verligting terwyl dit ou wonde oopkrap, en dit balanseer die kyker se gevoelens tussen hoop en wanhoop.

Golgotha eindig met Cohen wat, met die skedelhakke steeds aan sy voete, kruisbeen sit. Met deernis wieg hy heen en weer terwyl hy met ongemak die skoene in sy arms koester.


Bibliografie

Bakhtin, Mikhail. 1984. Rabelais and His World. Bloomington: Indiana University Press

Bataille, George. 1986. Eroticism: Death and Sensuality. San Francisco: City Lights Books

Powel, Ivor. 2010. Interview with Steven Cohen. In Steven Cohen: Life is Shot, Art is Long. Kaapstad: Michael Stevenson Publication

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top