Die bospaadjie

  • 4

Foto: Canva

Die bospaadjie

Dis nou wragtag al wat hy nodig het! ’n Juffrou wat op ’n Maandagoggend wil karring oor die hemel en die hel. Hy weet nie van die hemel nie, maar hy wat Solly is, ken die hel baie goed. Hy kyk in Mary se rigting. Sy ook. Sy weet dalk nog beter hoe lyk die hel van binne.

“Sien julle hierdie pragtige prentjie. Dit is ’n uitbeelding van die breë weg en die smal weg. Die breë weg is die pad waarop die duiwel se kinders wandel. Hulle gaan almal hel toe.”

“Die smal weg is die paadjie wat ons almal moet stap om in die hemel te kom.”

“Kom ons begin vanoggend en dan praat ons eers oor die ou duiwel se paadjie. Ek wil hê julle moet almal saamgesels.”

“Kom ons begin hier by die leningsbank. ’n Mens mag eintlik nie baie skuld hê nie. Veral nie onnodige skuld nie, want dan kan mens byvoorbeeld nie vir jou gesin mooi sorg nie. Of wat dink julle?”

“Pieta?”

“Juffrou, my pa sê furniture-skuld is nie skuld nie. Slegte skuld is daai skuld wat jy maak om perde te speel. Juffrou, my pa sê daai mense het nie genade nie. Hulle sal sommer jou knieskyf met ’n mes uitsny as jy nie vir hulle betaal nie.”

“Dankie, Pieta, ek hoop nie ek hoor ooit dat so wrede iets regtig gebeur nie.”

“Gerty?”

“Juffrou, my ma sê as dit nie vir die stokvel was wat sy by haar werk het nie, was ons al lankal toe onder die skuld.”

Solly kyk vir Mary. Hy weet wat sy dink. Haar pa gebruik haar naweke om sy tavern-skuld en seker nog ander skuld ook af te betaal. Hy het al naweke daar by haar huis verbygeloop. Altyd ’n spul mans wat lag en vieslik is. Al gehoor hoe roep een. “Meraaitjie, Meraaitjie, jy is die lekkerste n ...”

Hy weet nie waar is Mary se ma nie. Van altyd af was dit net Mary en haar pa.

“Oor die prentjie van die bordeel wil ek nie vandag praat nie. Dit moet eers oorstaan tot julle in die hoërskool is. Sien julle, hier is die prentjie van die kroeg en die dobbelhuis.”

Die ou wat hierdie prentjie geteken het, het seker nie geweet wat die eintlike sonde op die duiwel se pad is nie. Pouse sal hy gou inglip en dit kom inteken op Juffrou se prentjie. Daar moet ’n tikhuis ook op die pad wees. Tik maak almal mal en vol sonde. Sy ma kan hoofmeisie wees van die tikhuis.

’n Ma wat die hele tyd met ’n skril stem loop en kerm, partykere rondkruip. Kort-kort histeries raak oor die spinnekoppe wat haar oral op haar lyf byt, of liewer “hap”, soos sy dit noem.

“Hulle hap my, help, help! Hulle hap my, hul krap my, hulle kak op my!”

Skool is nie lekker nie. Ten minste is hier nie ’n tikkop in die klas nie. Juffrou is gaaf en ruik lekker. Al het sy nie ’n idee wat by hierdie kinders se huise aangaan nie.

“Julle sien maats, ’n kroeg is nie ’n goeie plek nie. Drankmisbruik is ’n vreeslike sonde en het altyd weer ander sondes tot gevolg, soos ’n bakleiery, byvoorbeeld.”

“Juffrou, is ’n kroeg en ’n tavern dieselfde ding?”

“Dit is, en party mense praat ook van ’n pub.”

“Juffrou, my ouma praat van ’n poeb. Sy sê nie pub nie.”

Solly lag lekker. Hy ken Dawid se ouma baie goed. Hy is eintlik baie lief vir haar. Sy het al ’n paar keer vir hom ’n toebroodjie gemaak as sy maag brand, omdat sy ma al hulle geld geblaas en hy by haar gaan lafenis soek het. Die meeste van die tyd laat sy hom ook sy hande en gesig was en sy hare kam.

“Die ander groot sonde is dobbel.”

“Juffrou, is dit sonde om die Lotto te speel?”

“Klaas, ek dink dis sonde as mens geld gebruik waarmee jy eerder kos en klere moes koop, en jy koop, byvoorbeeld, ’n Lotto-kaartjie.”

“En die perde, Juffrou? Is perde-speel ’n sonde? Ek hoop nie so nie, Juffrou. My pa het nou drie naweke na mekaar ’n lekker geldjie gemaak. Sy cousin het elke keer vir hom ’n hot tip deurgebel.”

“Dieselfde reël geld ook vir perde-speel. Mens moet eers seker maak jou mense het genoeg om van te leef en is goed versorg, alvorens mens geld op dobbel uitgee.”

“Wag, kom ons praat van die mooi goed. Kom ons kyk bietjie na die prentjies op die smal weg. Die paadjie waarop ons moet loop om in die hemel te kom.”

“Sien julle die prentjie van die kerk? Dit is belangrik dat mens gereeld kerk toe gaan en ook Sondagskool bywoon.”

“Juffrou, ek verstaan niks wat ou eerwaarde Williams elke Sondag met sy bewestem praat nie. Hy bid ook baie lank. Ek is al vaal van die honger teen die tyd dat hy klaar is. As dit nie was dat my pa ’n ouderling was nie, het ek beslis nie elke Sondag daar gaan sit nie.” Die juffrou glimlag.

“Nee man, Andrew, jy moet net verby die bewestem luister. Ek is seker die eerwaarde bring elke Sondag ’n goeie boodskap vir jou.”

Ouderling se gat! Hy wat Solly is, het al vir Andrew se pa ’n paar keer daar by Mary se huis gewaar. Dit was beslis nie vir kerkpraatjies nie.

“Kyk hier. Om in die hemel te kom moet ’n mens arm mense versorg en vir hulle kos en klere gee. Mens moet nie net na jouself kyk nie, maar ook na diegene wat om jou woon.” Juffrou gaan sit skuins op die voorste oop lessenaar. Haar voet swaai heen en weer.

In hulle neighbourhood is daar dan net een mens wat hemel toe sal gaan, en dit is Dawid se ouma. Die res sal enige ding in hulle huise verruil, solank hulle net nie uit die drank of dwelms hardloop nie.

“Mary, jy sit so en droom? Vertel bietjie vir ons wat jy dink van vrygewigheid en om ander mense te versorg.”

Solly wens hy het die antwoord geken. Die lewe het al vir Mary so geklap, hy dink nie sy sal die regte antwoord ken nie.

Regs agter gaan ’n seun se hand op. Hy skree voordat Mary ’n woord kan sê. “Juffrou, my pa sê altyd mens het nog niks vir jou medemens gegee as jy nie van jouself vir ander gegee het nie. Kos en klere kan almal gee, maar jouself kan net jy gee.”

Solly sien hoe die trane agter Mary se oë brand. Hy wens die ewige matsittery wil nou klaarkry. Dit voel vir hom of sy ma se spinnekoppe ook nou hier in sy kuite kriewel.

“Slim. Weet jy, ek het nog nooit so daaroor gedink nie.”

As juffrou maar net weet. Duidelik het sy weer die kat aan die gat beet.

“As mens op hierdie paadjie loop, dan doen mens altyd diens van barmhartigheid. Mens versorg die armes en die behoeftiges. Mens besoek die bejaardes en ook die siek mense wat in hospitale is.”

“Juffrou, daar waar my ouma in die home is, kan jy nie gaan kuier nie. Jy kan nie daar lewe van die pisreuk nie!”

“Stadig nou maar, Pieter. Die personeel het ook maar hulle hande vol. Dalk moet mens juis meer gereeld daarheen gaan. Dalk kan jy die personeel help deur party bejaardes te help voer. Of deur vir hulle te lees en geselsies aan te knoop.”

Solly weet nie wat het van sy oupa en ouma geword nie. Dalk is dit maar soos baie ander dinge in die lewe. Hy het net nie ’n oupa en ouma gekry nie. Hy het ook nog nooit ’n onderbroek of ’n tandeborsel gekry nie. Nog nooit nie. Die lewe gaan aan. Hy het ook nie verstand gekry vir woorde en somme nie. Hy kan met sy hande alles doen. Hy kan baie mooi teken. Nee, nie mooi nie, fokken mooi! So wie worry dan oor ’n tandeborsel en ’n onderbroek?

“Dit is ook belangrik dat mens die siekes in die hospitale gaan besoek.”

“Juffrou, my ma sê die hospitaal is die plek waar jy sal vrek sonder siekte. Sy was daar toe my ouma die groot stroke gehad het. Die mense lê sommer so op die kaal matrasse, sonder ’n laken of iets. Ander lê nie eens op ’n bed nie. Nee, party lê onder mekaar se beddens of in die gange. My ma sê jy kan bly wees as jy met al jou tone, vingers en ore weer daar uitkom. Die rotte en kokkerotte vat niemand se kak in daai plek nie.”

Juffrou frons. “Jitte, Grace, ja, dit is nogal ’n ding. Ek weet darem nie of dit so erg is nie. Die belangrikste ding wat ons moet onthou, is dat ons altyd dankbaar moet wees vir ons gesondheid. Ons moet ook dink aan hulle wat nie gesond is nie en altyd help waar ons kan.”

Juffrou staan op van die bank, streel oor die swart Bybel op haar lessenaar.

“Kom ons praat vandag nog net oor een dingetjie wat ons moet doen om op die hemelse pad te stap. Dit is Bybellees. Dit is so belangrik om moeite te doen om Bybel te lees. Deur dit te doen, leer ons die Here beter ken en leer ons van al sy liefde vir ons en ook hoe ons, ons naaste moet liefhê.”

Een van die meisies vee oor haar neus en steek dan haar hand op. Juffrou knik. “Juffrou, my ma het die naweek vir my ouboet vreeslik geskel. Hy het altyd ’n girl waarvoor hy vreeslik lief word. Dan tattoo hy haar naam hier oor sy bors. Daar is nie minder as tien girls se name al nie. Charlotte, sy huidige girl, wil nou hê hy moet al die ander name gaan afhaal. Hy wil nie, hy sê as sy sal betaal, sal hy deur elke naam ’n strepie laat tattoo, dat net haar naam daar staan, sonder ’n strepie. Sy sal haar moet gedra en katvoet loop of sy kry ook ’n strepie deur haar naam, waarvoor hý sal betaal.”

Almal lag.

Juffrou lig haar hand en die gelag bedaar. “Ons sal later meer oor die liefde praat. Kom ons praat nog oor Bybellees. Wie van julle het nie ’n Bybel by die huis nie?”

Solly het gewag vir hierdie vraag. Hy sal wragtag nie sy hand opsteek nie. Hy het nog nooit daar by sy huis ’n Bybel gesien nie. Eendag moes hy kwansuis stillees doen in die klas en toe gee Juffrou vir hom ’n Bybel om uit te lees. Dis nie ’n maklike boek om te lees nie. Die mense het vreemde name en daar is baie moeilike woorde in. Mary het hom al vertel van ’n Kinderbybel wat makliker is en mooi prentjies in het, maar hy het nog nooit so iets gesien nie. Hy kyk om hom rond. Hier is sowaar vyf eerlikes wat erken hulle het nie ’n Bybel nie. Wat wil Klein-Dirk met ’n Bybel maak? Hy lees en skryf nog slegter as wat hy wat Solly is, doen.

“Nou kyk, Juffrou belowe vir julle vyfies, voor die einde van hierdie week sal ek sorg dat julle elkeen jul eie Bybel het.”

“Kom ons sluit af. Ons het nou mooi gesien hoe lyk die breë pad wat na die hel toe gaan en hoe lyk die smal pad wat na die hemel toe gaan. Solly, kom ons begin by jou, watter pad sal jy verkies?”

Die groot benoudheid kom maak nes op sy bors. Sy kop spin en sy mond is droog. Mary wat haarself moet gee en Andrew se pa wat nie ’n ouderling se gat is nie. Die tik en die drank. Dawid se ouma is die enigste mens wat hy ken wat sal hemel toe gaan. Dan het hy ook al gehoor van die hel wat op jou wag as jou ouers ’n fokkop is. Tot in die derde en die vierde geslag. Toe weet hy wat sy antwoord moet wees.

“Nee, Juffrou, nie een van daai twee paaie nie. Ek fok sommer hier deur die bos!”

  • 4

Kommentaar

  • Nico Schamrel

    Elsabé Fouché - ek is so trots op jou. Jy is waarlik 'n talentvolle skrywer wat nog ver gaan kom. Moenie ophou skryf nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top