Die Bosma-geval lyk na oordrewe verontskuldiging

  • 0

Die verontwaardiging oor Martin Bosma se besoek was boeiend. Nie omdat daar genoegsame rede teen sy besoek geopper is nie – die bewyslas rus immers op diegene wat teen sy ontvangs hier gekant is – maar vanweë die intense distansiëring deur beswaardes.

Die intense distansiëring is om veral drie redes merkwaardig: die kulturele-boikot-element, die gebrek aan perspektief en die selektiwiteit.

Idee-isolasie

Vir ’n aantal jaar voor 1990 was dit in Nederland uit om met wit Suid-Afrikaners te praat, veral as hulle Afrikaans was. Om hulle te ontvang– so verstaan ek van diegene wat in daardie tyd aan hierdie uitsluiting blootgestel was – sou ’n hewige, distansiërende reaksie uitlok soortgelyk aan die kritiek wat sommige Afrikaanse koerante onlangs in hoofartikels teen die FAK uitgespreek het oor hul ontvangs van Bosma.

Dié idee-isolasie – waarvolgens mense wat met apartheid in verband gebring is, uitgesluit is van intellektuele verruiming – het na alle waarskynlikheid bygedra tot die vertraging van politieke hervormings, eerder as om dit aan te help. Dat in Afrikaanse intellektuele/akademiese kringe die ooreenkomste met hierdie vorige uitsluitingstragedie nie nou, in die hantering van Bosma, herken is nie, is jammer.

Perspektief

Te oordeel aan hoe hy in Nederland behandel word, is Martin Bosma ’n belangrike politikus. Hy is ’n ondervoorsitter van die Nederlandse Tweede Kamer, vir die Partij voor de Vrijheid, ’n party wat in terme van ’n samewerkingsooreenkoms met die regerende koalisie die Nederlandse staat beheer. Sy party trek beduidende steun (15% van Tweede Kamer-setels, 13% van Eerste Kamer-setels).

Bosma is verder voorsitter van die Interparlementêre Kommissie van die Nederlandse Taalunie – ’n organisasie met ’n waardevolle belangstelling in Afrikaans en instrumenteel om Afrikaanse taalbelange te bevorder. Bosma is deur verteenwoordigers van verskillende lande tot hierdie posisie verkies.

Verder konsulteer Bosma blykbaar, ampshalwe, byna weekliks met die Nederlandse minister-president, Marc Rutte.

Hierdie is die einste Bosma met wie dit in Suid-Afrika kwansuis só verskriklik is om te praat dat toe dit blyk dat die FAK hom met advies en koördinering van sy plaaslike besoeke help, Beeld en Die Burger albei hoofartikels dra met die strekking dat die FAK “verstommend kortsigtig” is.

Die teendeel lyk eerder meer waarskynlik: dit sou verstommend kortsigtig wees om Bosma nié te ontvang nie.

Gelukkig dat die FAK dit nie was nie, en so ook nie die ATR en verskeie ander organisasies wat wél met Bosma gesprek gevoer het nie. Soos Wannie Carstens onlangs skryf: “Wat ek wel weet, is dat ek die geleenthede moet benut wat na my kant toe kom en my saak oor taal (ook Afrikaans) stel daar waar ek gehoor kan word.”

Selektiwiteit

Hoe oop staan die deur van Afrikaanse organisasies vir ánder omstrede funksionarisse? Ek dink byvoorbeeld aan die minister van kuns en kultuur, Paul Mashatile, met wie daar graag gepraat word oor ’n nasionale talewet. Einste Mashatile is terselfdertyd ook ’n hooggeplaaste ANC-aanstelling en leidende lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP).

Maar die ANC is ’n party wat rasseklassifikasie deur die staat op Suid-Afrikaners afdwing; wat wette maak wat bepaal hoe hierdie “rasse” dan verskillend hanteer moet word (dit word sonder om te blik of te bloos “nierassig” genoem); wie se verteenwoordigers “Skiet die Boer” sing; wat Afrikaans op vele vlakke ondermyn. Die SAKP vier jaarliks “Rooi Oktober”, die ramp-revolusie waarmee Lenin aan bewind gekom het, in die naspel waarvan miljoene mense dood is; en droom in wese, soos ander kommunistiese partye regoor die wêreld, oor regeringsdwang in plaas van vryheid.

Ek hoor niemand verontwaardigd vrees dat ’n gesprek met Paul Mashatile sou beteken dat ’n Afrikaanse organisasie met Mashatile se partybeleide saamstem nie. Die Bosma-geval lyk na oordrewe verontskuldiging – doe even normaal, zeg.

Terug na webseminaar-indeksblad

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top