
Foto: Canva
Die boerbok in die kombuis
In haar gunsteling-gemakstoel, in die wintersonnetjie, sit die boervrou. Sy brei ’n paar turkoois bedsokkies vir haarself. Die wol gly sag oor haar vingers. Die geklik-klak van die breipenne – die ritme – klink soos ’n slaapliedjie in haar kop. Sy verbeel haar hoe lekker warm en snoesig haar voete vanaand in die bed gaan voel. Haar man sal nie ’n paar kry nie – die ou knook. Sy voete moet maar koud kry.
Sy hoor die kombuisdeur oopgaan. Sy sit haar breiwerk op die teetafel neer. Haar skoene eggo deur die groot huis. Sy stap deur die spens die kombuis binne. Die doring in haar vlees staan met sy rug na haar. Hy vryf sy koue hande oor ’n warm plaat van die Aga. Hy draai om.
“Sjoe, maar dis koud buite.”
“Môre.”
Sy stap terug sonkamer toe en hervat die breiwerk.
Die boer gaan na die melkkamer in die buitegebou en kom sit ’n emmer vol vars koeimelk op die spenstafel neer.
’n Groot, bruin boerbokram kom van buite ingeloop. Sy pote trappel teen die houtvloer. Dit weerklink deur die huis. Hy flap sy slap ore en knip geeloog vir die boer.
“Ek is dors. Ek wil melk hê,” sê die bok. Hy wys met ’n voorpoot na die emmer.
“Nou maar goed.” Die boer haal ’n diep, groen sopbord uit die spenskas, sit dit op die vloer neer en vul dit met melk. Die bok slurp die melk op. Die boer gooi die bord vol.
Hy gaan na sy vrou toe. “ ’n Groot boerbokram het nou net by die kombuisdeur ingekom, vrou, en vir melk gevra. Ek het daarvan vir hom in ’n sopbord gegee.”
Die boer se vrou kyk hom aan met geligte wenkbroue. “Is jy orraait? Ek bedoel – wat se twak praat jy?”
“Ek praat die waarheid, vrou.”
“ ’n Bok wat kan praat? Kan jy nou meer!”
Die boer draai om en gaan spens toe.
Die bok lek sy lippe af. “Nog melk,” beveel hy bars en draai sy kop na die emmer.
Die boer vul die bord. “Is dit nou genoeg?”
Die bok gryns.
“Vrou, ek moes die bok nóg melk gee. Hy’s baie kwaai.”
“Jy’s mal, man, skoon koekoes. Ek gaan dadelik die dokter bel.” Die vrou vlieg op uit haar stoel en haas haar telefoon toe.
Die boerbok wag die boer in. Stamp sy pote teen die vloer. “Ek is honger. Laat ek sien of daar kaas in die yskas is.”
Die boer sit ’n homp kaas voor die dier neer. Die bok slaan sy tande in die kaas en vreet dit op dat die sop spat.
Die boer staan op die agterstoep en stop sy pyp. Hy maak die twak brand en trek sy longe vol rook. Sy vrou se dreigement pla hom niks. Inteendeel, hy wil graag met die dokter gesels.
“Iets baie ernstigs is fout met my man, dokter. Ek dink hy het sy verstand verloor.”
Sowat twintig minute verloop voor die dokter se swierige kar in ’n stofwolk op die werf stilhou.
Intussen hervat die vrou haar breiwerk. Sy oordink wat haar man gesê het. Sy is nuuskierig. Loop kombuis toe. Sy deins vervaard terug wanneer sy die boerbok sien wat op sy agterpote teen die muur aanleun.
Die boerbok laat sy kop sak. Met brute krag stamp hy die vrou met sy massiewe horings teen die bors. Sy val soos ’n lappop neer.
Die boer hoor van buite ’n harde doef, gevolg deur wat klink soos ’n sak vol aartappels.
Die bok loop ewe rustig die kombuis uit. Hy loop by die boer verby. Hy vryf oor sy baard en kyk terug oor sy skouer na die boer. Hy verlaat die agterplaas.
Die boer druk sy pyp dood en sit dit in sy baadjiesak. Hy gaan ondersoek instel na die oorsaak van die geluide wat hy gehoor het. Hy struikel byna oor sy vrou se liggaam.
Die voordeurklokkie lui.
Die boer nooi die dokter binne. Hulle groet mekaar. In die kombuis buig die dokter oor die vrou en voel met sy vingers teen haar nekslagaar vir ’n polsslag. Geen hartklop nie. Hy druk sy stetoskoop teen haar bors.
“Sy’s oorlede, oom. Wat het met haar gebeur?”
“Ek weet nie. Seker ’n hartaanval of beroerte. Ek het haar hier gekry lê.”
’n Ambulans uit die dorp hou langs die dokter se kar stil. Twee ambulansmanne tel die vrou se lyk op ’n draagbaar en stoot dit die ambulans binne.
Die boer het daarna nog baie jare lank alleen en gelukkig in sy huis gewoon en met sy skape en beeste geboer.


Kommentaar
Geluk Nato Zondagh met 'n besonderse skrywe!