Titel: Die boek van Ester
Skrywer: Wilna Adriaanse
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624046837
Bladsye: 512
Prys: R153
Klik hier en koop Die boek van Ester nou by Kalahari.net!
Met titels soos Rebecca en Met ander woorde reeds agter haar naam, spog Wilna Adriaanse hierdie feesseisoen met ’n splinternuwe toevoeging tot die liefdesroman-genre. Die boek van Ester vertel die verhaal van Ester Green, ’n politieke fotojoernalis, wat ná die koelbloedige moord op haar ouers Afrika en sy probleme die rug keer. Sy gaan soek haar heil as modefotograaf in Londen, maar na twee jaar bevind sy haar, half teensinnig, weer terug op Suid-Afrikaanse bodem, dié keer om ’n mode-shoot te doen op 'n Laeveldse wildsplaas, Bulweni.
Hierdie besoek aan Suid-Afrika is dan ook die eerste keer dat sy en haar broer, Ira Green, mekaar ná hul ouers se begrafnis weer van aangesig tot aangesig sien en dis gou duidelik dat niks tussen hulle verander het nie. Ira verwyt steeds sy suster dat sy nie vinnig genoeg uit die land kon padgee ná haar ouers se begrafnis nie omdat sy nooit met hulle dood vrede gemaak het nie. Ester, aan die ander kant, voel Ira moes lankal sy naïewe optimisme laat staan deur die misdaadrealiteit van die land ernstig te begin opneem en te besef dat hier nie ’n toekoms vir hom in Afrika is nie. Beide broer en suster is hardkoppig en eiesinnig, en vanweë die joernalistiek wat hulle so te sê saam met hul moedersmelk ingekry het (hul pa was die redakteur van ’n bekende dagblad), weet nie een van die twee wanneer om tou op te gooi nie.
Ira is egter nie die enigste een met wie Ester koppe stamp nie. Samuel Mcgreggor, eienaar van Bulweni en ’n wêreldbekende ekoloog, laat sommer van hul eerste kennismaking die vuur in Ester behoorlik opkook. Sy kan dit nie hanteer dat iemand so naïef en blind is vir die realiteite van Afrika nie, en om alles te vererger, eet al wat ’n mens is, én die media, elke woord uit sy mond soos soetkoek op. Samuel, aan die ander kant, beskryf Ester as “Mad, bad en dangerous to know” (177), maar voel tog terselfdertyd ook jammer vir haar. Hy kan sien sy hou ’n front voor deur haar verbitterdheid en bewapen haarself daarom met ’n arsenaal vol bitsige argumente, gereed om enigeen wat haar oor haar probleme uitvra, ‘n vinnige les in Ester Green-logika te gee.
Ester en Samuel het egter meer gemeen as wat hulle dink: beide het hul ouers aan die dood afgestaan deur moord en al twee voer ’n alleenbestaan in die wêreld. En so laat die “Messias van die omgewing” haar tog wel tuis gaan in sy boomhuis gedurende die shoot en is dit die begin van ’n passievolle en onkonvensionele langtermyn-verhouding tussen hulle, alhoewel nie een van die twee aanvanklik sal erken dat hulle gevoelens vir mekaar het nie.
Na afloop van die mode-shoot besluit Ester dat dit tyd is om terug te keer Engeland toe en vir ’n ruk lyk dit of daar niks verder van die verhouding gaan kom nie. Samuel kom besoek haar egter onverwags wel eenmaal in Londen, maar dit is omtrent hoe ver hul kontak strek. As Ester later ernstig beseer word tydens ’n werksopdrag in Beiroet, begin daar ’n merkbare wending in haar en Samuel se verhouding na vore tree. Samuel besluit om Ester ’n aanbod te maak om foto’s te neem van wilde diere vir ’n boek wat hy besig is om te skryf, terwyl sy op sy plaas herstel, en sy aanvaar die aanbod na 'n aanvanklike huiwering.
Hierdie meisie, van gemengde Afrikaner en Joodse afkoms, laat haar, net soos haar Bybelse eweknie, nie maklik deur die lewe onderkry nie, en in die middel van die Afrika-bosveld begin Ester fisies en emosioneel te herstel. Ten einde word sy met die keuse gelaat of sy die man “wat die son in sy lyf dra” wil agter laat en weer vlug en of sy dié keer eerder gaan ophou weghardloop van haar probleme en haar spoke trompop konfronteer. Samuel sit egter ook met probleme van sy eie waaraan hy moet aandag gee. ’n Nuwe internasionale wildsindikaat, groter en beter georganiseerd is as enige een vorige pogings, is besig om sy weg na Bulweni te vind en gaan die lewe vir Samuel en sy personeel baie moeilik maak in die dae wat kom.
In oënskou kan daar gesê word dat Die boek van Ester die klassieke ondertone van ’n tipiese liefdesroman bevat. Daar is die uitbeelding van die held wat sy damsel in distress moet red van die gruwelikhede van die wêreld. Hul intense, emosiebelaaide liefde-haat-verhouding sorg plek-plek vir passievolle oomblikke, soos op bl 433, maar dreig ook om uitgerek en vervelig te raak. Net so is daar ook elemente wat getuig van ’n meer ernstige aanslag in Adriaanse se werk en wat verdien om genoem te word. Die eerste hiervan is ’n deurlopende vrouetema, wat veral na vore kom in die tradisionele dans wat die vroue uitvoer (263). Ester voel ’n magiese aangetrokkenheid tot hierdie ritueel en vir die eerste keer sedert haar ouers se dood voel sy dat sy weer êrens behoort.
Die verhaal speel ook af teen die breër agtergrond van die bewarings- en ekologiese vraagstuk en dit sorg vir ’n interessante en relevante aanslag tot die storielyn deur die klem wat dit op aktuele sake, soos natuurbewaring en misdaad, plaas. Nog ’n belangrike gegewe in die boek is die simboliese waarde wat daar deurgaans aan voëls geheg word. Hierdie tema maak die deur oop vir verdere interessante interpretasies van die verhaal deur die lesers.
Die boek van Ester sou nie afgerond gewees het sonder sy Bybelse intertekste nie. Verrassend genoeg is daar egter geen sprake van die Bybelse Ester-figuur in enige van hulle nie, maar tog slaag hulle in hul doel. Ook die paar filosofiese invoegings, veral dié deur die karakters van Samuel en Robert en Ira, gee inhoudelike struktuur aan die verhaal.
Al hierdie elemente val mooi in plek in die konteks van die verhaal en dit lyk of Adriaanse met dié verhaal weer haar slag gewys het met die pen. Dit bly egter ’n liefdesroman en ongeag die (bogenoemde) ernstiger aspekte rondom die boek moet lesers van ernstige leesstof en fiksie nie veel meer verwag nie. Dit gesê, voel ek is Die boek van Ester sy plek werd op vanjaar se The List van Exclusive Books, juis omdat dit, soos Adriaanse se ander werke, 512 bladsye van pure vakansieleesgenot bied vir die hopeless romantics onder ons.