Die boek in krisis: 'n Reaksie op ''Die onsigbare voet van marksensuur'' deur Laurens van Krevelen

  • 0
Laurens van Krevelen het op 18 Desember 2010 die jaarlikse Nederlandse PEN-lesing by De Balie in Amsterdam gehou (http://www.debalie.nl). Lees Francis Galloway se Afrikaanse verwerking van die lesing hier. Ons hoop dat die plasing van hierdie lesing ’n gesprek sal stimuleer oor die stand van die (Afrikaanse) boekbedryf. Is daar ook hier by ons tekens van die wêreldwye impak van winsbejag en marksensuur? Is daar ’n afname in die verskeidenheid en geskakeerdheid van die boek-aanbod? Watter teenvoeters vir hierdie tendens is besig om te ontwikkel (of nie)?  

 

Wanneer dinge in ’n bedryf soos dié van boeke skeefloop, moet mens soms in plaas van te dink dat iets verkeerd geloop het, dit sien as iets wat onverwags baie goed uitgewerk het – jy weet nog net nie wat “goed” behels nie.

Die internasionale én plaaslike boekebedryf staan in die wurggreep van die ekonomiese insinking. Weliswaar had die boekebedryf nié die oordaad onder lede wat die film- en televisiebedrywe die afgelope klompie dekades getipeer het nie, en daarom is sy sparteling nie so in die oog lopend as daardie bedrywe s’n nie. Enigiemand wat die afgelope Desember iets nuuts op DStv gesoek het om na te kyk, sal weet hoe die sparteling lyk.

Laurens van Krevelen se betoog dui die kern aan van wat die “verkeerd loop” behels: uitgewers se welslae word nie gemeet aan wat hulle publiseer nie, maar aan hoeveel daardie produkte inbring. Die maatstawwe is omset, wins en kontantvloei, en nie meer gehalte, sielsverruiming en kulturele bydrae nie.

Om terug te verlang na die tye toe ’n winsmarge van twee persent aanvaarbaar was, is om te hunker na die gemoedsrus wat omvangryke patronaatskap bring. Dit is helaas nie meer moontlik nie: die borgskappe gaan sport toe. En “vir die saak” was nog nooit kwantifiseerbaar in enige moderne sakeplan nie.

Tye het inderdaad verander. Marshall McLuhan se stelreël, “the medium is the message”, was nog nooit so toepaslik as nou nie. Die rolprent, CD’s en televisie steier voor die aanslag van die internet. Jy koop nie jou vermaak op laserskyf, in bioskope of op die klein kassie nie. Jy laai alles van die internet af, gekoop of gratis. Jy lees jou koerant op jou rekenaar of iPad.

Hoe gaan die boekebedryf aanpas by die eise van die jongste medium? Die maklike antwoord sou wees: Met geduld. Bedrukte papier as draer van vermaak en inligting het die aanslag van talle media oorleef: koerante, tydskrifte, rolprente, televisie, fonogramme, kassetbande, oudioboeke en DVD’s. Gaan e-boeke by hierdie falanks mededingers om die publiek se aandag aansluit, of gaan dit net ’n alternatiewe medium word waardeur die skrywer sy publiek gaan bereik?

Die grootste fout wat mens tans kan maak, is om te dink dat die e-boek die papierboek oral sal vervang. Die e-boek sal waarskynlik die konsep van herdrukke ’n ander aangesig gee, maar terwyl armoede nog ’n groot faktor in só baie lande bly, sal e-boeke ’n eerstewêreldse bloeityd hê.

Omdat ons boekebedryf nog so nou skakel met die eerstewêreldse gebruike en ontwikkelings, gaan e-boeke onvermydelik deel word van die boekebedryf. Daar ís groeipotensiaal. E-boeke los die groot probleem waarmee uitgewers in die verlede geworstel het: hoe om die ouer fondslys beskikbaar te hou – met min beslommering op. Dit gaan ook groot eise aan die tradisionele opvoedkundige uitgewerye stel.

Die bedryf het gelukkig nog nie die enorme insetkostes van die rolprent- of televisiebedryf nie. Dit het nie die advertensie-albatros wat koerante en tydskrifte het nie. En die leesbare woord, anders as die hoorbare woord, is steeds die belangrikste inligtingsmedium in die opvoedkunde.

Die boekebedryf se groot probleem sal eers kom wanneer mense heeltemal nut verloor vir die geskrewe woord. Die afgelope dekade het mens gevra: Wat lees jy? Met die koms van die internet en die e-boek word dit: Waar lees jy? En, of mens dit wil aanvaar of nie, die vraag word al hoe meer: Léés jy?

Dit is die een aspek wat Laurens van Krevelen nie vermeld nie: Hoe gemaak met ’n publiek wat nie wíl lees nie? Wat nie kán lees nie? Daar is ’n les te leer uit die blitsverkoper-fenomeen. Daarsonder sou die boekebedryf lankal die emmer geskop het.

Ek is bevrees die marksensuur waarteen Van Krevelen dit het, is die given, die gegewe van die moderne publikasiewese. Tensy daar ’n wonderwerk gebeur, is die era van patronaatskap vir goed verby. Uitgewers wat nog van subsidies afhanklik is, sal vind dat dit ’n kanker is wat nie te bestraal is nie. Kyk maar hoe skouspelagtig koerante en tydskrifte aan die hakskeen beetgekry is deur die advertensie-komponent van hul balansstaat.

Uiteindelik gaan dit vir die boekebedryf om vraag en aanbod. As dít wat jy publiseer, geen kopers vind nie, ongeag die medium, is dit tyd om jou heil elders te soek. Dit is 2011 en die klok kan nie teruggedraai word nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top