Die boek in krisis: 'n Reaksie op ''Die onsigbare voet van marksensuur'' deur Laurens van Krevelen

  • 0
Laurens van Krevelen het op 18 Desember 2010 die jaarlikse Nederlandse PEN-lesing by De Balie in Amsterdam gehou (http://www.debalie.nl). Lees Francis Galloway se Afrikaanse verwerking van die lesing hier. Ons hoop dat die plasing van hierdie lesing ’n gesprek sal stimuleer oor die stand van die (Afrikaanse) boekbedryf. Is daar ook hier by ons tekens van die wêreldwye impak van winsbejag en marksensuur? Is daar ’n afname in die verskeidenheid en geskakeerdheid van die boek-aanbod? Watter teenvoeters vir hierdie tendens is besig om te ontwikkel (of nie)?  

 

Kort nadat ek ’n versoek ontvang het om ’n bydrae te lewer tot die gesprek oor die Van Krevelen-lesing, het ’n eksemplaar van Merchants of Culture: The Publishing Business in the Twenty-First Century van John B Thompson (Polity Press, 2010) op my lessenaar beland.

Ek het aanvanklik nie enige planne gehad om by die gesprek betrokke te raak nie. Daar is ’n hele klomp dinge waaraan ek eerder my aandag wou gee. My jongste dogtertjie het vyf jaar oud geword, ons moes partytjie hou, en ons het boonop as een van die verjaardaggeskenke ’n baie oulike basterbrakkie gekry wat net heeldag wou speel. Ek moes ’n interessante boek oor die Anglo-Boereoorlog resenseer. Ek is ook besig met navorsing oor die Dorslandtrekkers wie se epiese tog 130 jaar gelede deur die woestyn interessanter is as die meeste dinge wat van dag tot dag om my gebeur. In my besigheid is dit die besigste tyd van die jaar en ek moet harder werk as in enige ander tyd van die jaar. En eintlik is dit vir my die lekkerste om saans met ’n glas rooiwyn te ontspan en na musiek te luister. Daar is ook my liewe, wonderlike vrou aan wie ek moes aandag gee. Ek sou boonop een van die groot atlete van die eeu kon word as ek net die tyd daarvoor kon vind. Ek sou selfs ’n digbundel kon publiseer! En ek weet nou al dat die ouens van Versindaba gaan kla as ek vir LitNet ’n bydrae gee en vir Versindaba, ten spyte van verskeie beloftes, niks nie.

Toe die boek op my lessenaar beland, het ek onmiddellik geweet dis een van daardie vriende waarmee ek kennis gemaak het en met wie ek my hele lewe lank vriende gaan bly.

Ek het onmiddellik van die titel gehou. Ek het myself nooit as ’n boekhandelaar of uitgewer beskou nie, eerder as ’n beroepsleser of, as dit dan nou moet, ’n handelaar in kennis. Ek het nou besef dat ek eintlik ’n handelaar in kultuur is.

Die flapteks was so oortuigend dat as ek nie reeds die boek in my hande gehad het nie, ek dit beslis onmiddellik sou gaan koop het.

Die voorwoord was net so interessant.

Soos almal weet, beleef die boekbedryf onstuimige tye. Hoewel die metode waarop boeke gepubliseer word, oor vyf eeue basies dieselfde gebly het, word die bedryf tans gekonfronteer met die grootste uitdagings sedert die ontdekking van die drukkuns deur ’n Duitse goudsmid in die vyftiende eeu. Die uitdagings is van tweërlei aard: aan die een kant is daar tegnologiese uitdagings en aan die ander kant is daar ekonomiese druk.

Die digitale era het uitdagings gebring wat vyf jaar gelede ondenkbaar was.

Aan die ander kant was ekonomiese druk nog altyd deel van die bedryf. Gutenberg was die eerste slagoffer daarvan toe hy sy drukpers aan die Fuggers moes oorhandig omdat hy nie sy finansiële verpligtinge kon nakom nie.

Thompson se boek word in die flapteks bestempel as die eerste belangrike studie van “trade publishing” in meer as dertig jaar. Hy gee ’n gedetailleerde verslag van hoe die wêreld van “trade publishing” regtig werk en kyk na die rol van uitgewers, agente en boekhandelaars. Hy kyk na hoe “trade publishing” oor die afgelope halfeeu in Brittanje en die VSA verander het. Hy werp nuwe lig op die manier waarop topverkopers gemaak word en die vraag hoekom duisende boeke en outeurs gestrand word in ’n bedryf wat toenemend fokus op korttermyngroei en wins. Hy gee ook aandag aan die impak van die digitale revolusie wat die wêreld van uitgewers tans herskep.

Thompson skop af deur te sê dat die boekbedryf een van die bedrywe is waarvan ons die heel minste weet, hoewel dit al baie lank met ons is.

In die koerante en media geniet boeke baie aandag en daar gaan skaars ’n week verby sonder dat een of ander slim joernalis aankondig dat, met die koms van die digitale era, die einde van die boekbedryf aangebreek het. Eintlik is daar min bedrywe waarvan die dood al meer dikwels aangekondig is as dié van die boekbedryf.

Thompson het die bedryf oor ’n tydperk van vyf jaar bestudeer soos wat ’n antropoloog ’n stam mensvreters op een of ander verafgeleë eiland in die Suidsee (of Stille Oseaan, of hoe?) sou bestudeer.

Eintlik is daar nog baie meer.

Maar nou moet julle my verskoon: ek wil die boek nou gaan lees! As die boek interessant is, gaan julle vir ’n lang tyd nie van my hoor nie. As die boek my verveel, sal ek uit Calvinistiese pligsgevoel en Rooms-Katolieke boetedoening enkele gedagtes met julle deel … en ook net as die LitNet-redaksie ’n paar aanmanings aan my in hierdie verband gerig het (en ook net as dit nogal intimiderend is en met dreigemente van fisieke geweld gepaardgaan).

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top