Só gebeur dit dat Maggie Nagel, wat met die bemarking van die Blues Broers gemoeid is, een middag op ’n stoep in die Boland ’n CD aan my vrou verkoop. Ons kon nie dadelik daaraan aandag gee nie, omdat omtrent tagtig mense eers moes huis toe gaan, maar het dit ná die tyd geluister terwyl ons ’n magdom skottelgoed was. Die takie is op aangename wyse agter die rug gekry.
Out of the blue is die Blues Broers se sesde CD, veertien jaar ná die vorige een. Die liedjies is almal oorspronklik.
Die groep het hulle eerste gig in 1990 in die Café Royal in Kaapstad gespeel. Hulle dra swart pakke en donkerbril wanneer hulle optree, maar enige ooreenkoms met die Blues Brothers van die bekende rolprent is toeval, vertel Rob Nagel. “Alhoewel die Blues Broers in 1990 vir die eerste keer opgetree het, en die fliek Blues Brothers in 1980 vrygestel is, is die naam nie wetens deur [laasgenoemde] beïnvloed nie. Ek glo nie ek het destyds van die fliek kennis gedra nie, alhoewel dit vandag een van my gunstelings is. (Bru was destyds maar 'n aanspreekvorm wat die Engelsmanne tussen pelle gebruik het.)”
Hy moes die naam vinnig uitdink. “Vernon Matsopolos van die Cape Times het my gebel in verband met die publisiteit vir hierdie gig. Ons het nog nie ’n naam gehad nie, en ek moes vinnig dink, want hy moes onmiddellik ’n naam hê voor sy deadline. Dit het spontaan by my ontstaan as Die Blues Broers. Ek hou van woordspeling en dit het vir my goed geklink, en goeie assosiasies gehad.”
Rob is “die enigste oorblywende stigterslid. Die eerste line-up was ek op bas en harmonica, Johnny Frick op kitaar en sang, Alistair Musson op kitaar, en Graham Newman op dromme – letterlik vir vyf gigs. Daarna het Simon Orange (keyboard) bygekom, en 'n kort tydjie daarna Frank Frost. Albert (Frost) het in 1994 aangesluit. Alhoewel die lede ietwat gewissel het oor die jare, is die kernlede (ek, Albert en Simon) amper 20 jaar saam.”
Frank Frost is in 1999 oorlede. In 2003 het die groep ’n vaarwel-gig in Stellenbosch gehou en die lede het elk sy eie ding gaan doen. Maar nou, agt jaar later, is die manne weer aan die gang en hulle nuwe CD is Out of the blue.
Die liedjies is van ’n groot verskeidenheid, hoewel feitlik almal ’n rustige inslag het. As ’n mens na metafore moet loop soek, is die album op die ou end eerder ’n paar glase rooiwyn of konjak as ’n handvol shooters. Jy sit vir jou tyd eenkant om hierna te luister, en gebruik die CD nie as ’n agtergrondvuller nie. Daarvoor is daar oorgenoeg kompilasie-pop-albums.
Die langste nommer op die CD is “De Aar”. Dis ’n instrumentele nommer wat, met sy mondfluitjie, Ennio Morricone se temamusiek vir die fliek The Good, The Bad and The Ugly by ’n mens oproep. Dis die eensaamste stukkie werk wat ek in ’n lang tyd gehoor het, en tog ook komies met sy kerkklok, sweepklappe, beesbulke en trein wat instoom. Ek moes wonder of ’n inwoner van ’n Karoodorpie die liedjie sou kon geskep het. Dalk moes dit aan ’n stedeling oorgelaat word om só ’n woordlose portret van eindelose afwagting te teken.
“The mountains and the seas/ Surround us you and me/ And someday when I die/ This is where/ I will lie,” hoor ’n mens op die swaarste en aggressiefste liedjie. Dis so reg in ’n Kapenaar se kraal, hierdie een. Of in elke ou s’n wat laatnag sweer sy lewe gaan nie net nog ’n lewe wees nie, nie solank daar musiek op aarde is nie.
En op “Coal Train” val verwondering jou op: “She thunders through the night/ There’s something right/ About a train.” ’n Mens kry byna insae in die nag waarop die liedjie waarskynlik ontstaan het.
“Everybody knows” spook by jou: “Through the darkness of the night I’m flying to you/ This aeroplane is coming home/ All the way through the sky/ Towards the dawn/ Everybody knows, everybody knows/ But it hit me right out of the blue/ The moment I knew.” Dis regtig ’n uitstekende liedjie. Die kitaarplukke vat ’n mens se verstand raak.
“Over My Head” bevat die woorde “I was short-changed by those who knew me/ I was cut down by people who cared.” Die kitaarspel laat die woorde so mooi in plek val dat jy saam met die sanger voel.
“Stoned Cold Sober” is ’n komiese kyk na middelverbruik: “I’m sitting here thinking/ I’m through with drinking/ I’m rolling my troubles away/ No more running to the bottle store/ I’m stoned cold sober today.” Die liedjie het ’n ritme wat dit ’n lughartige anthem kan maak vir al wat ’n partytjieganger is.
Behalwe die goeie kitaarspel is daar die klawerbord, wat veral op “It’s on me” ’n mooi orrelklank voortbring. Daar is ook blaasinstrumente en Rob Nagel se mondfluitjie wat die blues-klank ondersteun.
In sy geheel is die CD ’n lekkerluister, met in liedjies soos “Everybody knows”, “Coal Train” en “De Aar” ’n diepte wat ’n mens se verstand prikkel. Jy wil bly luister, jy wil agterkom hoe presies verwoord en vermusiek die mense dan jou luim. Hoewel die temas deurgaans bluesy bly, is dit nie ’n konsepplaat nie, waarmee ek bedoel: elke liedjie kom op sy eie tot sy reg.
Jannie “Hanepoot” van Tonder, Ian Smith, Vaughan Tromp en Melissa van der Spuy het bygedra. Roger Kelsey was met produksie gemoeid.
Maar die manne, die Blues Broers self, is Albert Frost op ’n verskeidenheid kitare, Simon Orange by die keyboard, Rob Nagel met bas, mondfluitjie en tea chest, en Tim Rankin agter die tromme.
Maggie Nagel behartig die admin en organisasie en kan by maggie@ct.stormnet.co.za gekontak word.

