Blou Bulle?
My gewoonlike onbetroubare bron het my vertroulik meegedeel dat die Blou Bulle eersdaags deur Glam Guru geborg gaan word.
Daar is reeds met die BB-bestuur ooreengekom dat die doelpale en die sitplekke in die voorsitter se losie, pienk geverf sal word. Hannon Bothma oftewel, Glam Guru, sal persoonlik voor die aanvang van wedstryde, Wynand Olivier, Jacques Potgieter, Odwa en Zane se kapsels versorg. Hy sal ook rustyd beskikbaar wees om hulle hare weer netjies te kry voordat hulle vir die tweede helfte opdraf. Daar is ook ooreengekom dat die produkte van Glam Guru voor en na wedstryde op die grootskerm vertoon sal word.
Verder is daar ooreengekom dat die meisies wat voor en gedurende die wedstryd optree, ook deur Hannon versorg sal word versover as dit hulle hare en grimering betref. Hulle sal ook geklee wees in pienk onder- en boklere. Wynie Strydom, die span se bestuurder, sal ook in pienk geklee word.
Hannon was nie gelukikig oor die verskillende kleure stewels wat die spelers gebruik nie en hy het daarop aangedring dat die spelers 'n eenvormige kleur stewel gebruik ten einde by te dra tot die ooreengekome beeld van die span en dat daar by die kleurskema gehou word. Die bestuur het saamgestem en daar is besluit dat al die spelers voortaan ligblou stewels moet gebruik met die woorde "Glam Guru" in madeliefierooi aan die buitekant van albei stewels.
Hannon het ook sterk gevoel oor die bestaande naam van die span, nl Blou Bulle. Hy het aangevoer dat so 'n naam 'n bespotting maak van die beeld van die span en ook die kleurskema geweld aandoen. Hy het voorgestel dat die span as Jakaranda Bloeisels [in kort Bloeisels] moet bekend staan. Dis nie net mooi nie, maar dui ook 'n verbintenis aan met die Jakarandastad. Daar sal later oor hierdie aspek besluit word.
Daar is ook besluit dat "die man van die wedstryd" voortaan met 'n ruiker vol Glam Guru-produkte beloon sal word.
Enjee


Kommentaar
Enjee — Lyk my jy soek 'n geskikte naam vir die pienk gedoente. Ek hoor daar word deesdae na die Northern Queens verwys. Die pienk stewels sal nog gaan mits hulle nie hoëhakke het nie.
Bloubulgroete
Panda
Mmh, ek het gehoor hulle cutex word van Swede ingevoer. Blykbaar word dit die "Tinkerbull-collection" genoem. Dis ook polities korrek want dit is colourless.
Maya