
Fotobron: Canva
Aan alle lede en deelnemers aan die jaarlikse nasionale BSV-skryfwedstryd 2020 geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat en SUNMeDIA, Bloemfontein, wat op 11 Mei 2020 sou gesluit het:
Na versigtige oorweging en gegewe die COVID-19- en inperkingsbeperkingsfeite wat op die oomblik op die tafel is op nasionale sowel as internasionale vlak wat RSA se proses ’n bietjie tydsgewys vooruit is, het die bestuur van die BSV van 2020 en vanjaar se twee dinamiese Slypskoolaanbieders, Hans du Plessis en Bernard Odendaal, besluit om die BSV-Skryfwedstryd 2020 se voorheen gepubliseerde sluitingsdatum van 11 Mei 2020, sowel as die Slypskooldatum van 22 Augustus 2020, onbepaald uit te stel (nie af te stel nie) – die COVID-19-landsituasie sal leer tot wanneer. Ons wil nie datumvoorspellings waag en dit dan telkens weer moet aanpas nie. Dié besluit is geneem weens die feit dat gewone pos- en koerierdienste weke gelede reeds gestaak is, die inskrywings landwyd ongesorteerd lê en wag vir sortering in die sisteem en ons nog glad nie eers begin bereik het nie, en die poskantore en koeriers op die oomblik net medies-verwante pos mag hanteer. Ook die nasionale BSV-Slypskool wat in Augustus sou plaasvind, sal vermoedelik onbepaald uitgestel word na ’n tyd wanneer dit weer veilig is vir almal, aangesien dit lyk of die ergste COVID-19-statistiek eers heelwat later in die jaar verwag word en beweging tussen provinsies moontlik dan nog (weer) onwettig mag wees. (Bernard Odendaal sê dat ook hul ATKV-Skryfskoolbedrywighede, net soos in die BSV se geval, alles onbepaald uitgestel is.)
Wees dus rustig en hou voorlopig u inskrywings – dit mag dalk die weninskrywing wees! – veilig by u op ys (so ook die skole s’n by die onderwysers) as u dit nog nie gestuur het nie. Stuur dit gerus eers sodra die poswese en koeriers in aksie kom en NALN weer oop is. Moet asb nie u inskrywings per e-pos stuur nie, aangesien dit nie ’n digitale kompetisie is nie, omdat skole meestal ons onderwerpe in hul sillabusse inskryf en in klaskamers skryf om internetplagiaat te minimaliseer en omdat ons ons NALN-(pos-)vennootskap van meer as vier dekades koester weens outomatiese bekendstelling van NALN aan skole en individue.
Ons sal oorgenoeg tyd laat vir die posagterstand se stertkant om ons te bereik, maar wil nie ’n vaste datum daaraan koppel nie, omdat niemand regtig weet wat die toekoms inhou, wanneer die pos weer mag begin funksioneer en wat die nuwe regulasies en fases gaan behels nie. Die feite wat ons in die agterkop moet hou, is dat NALN, wat die skryfwedstrydpos al vir dekades ontvang, en Noorderbloem, waar ons vergaderings en slypskool gewoonlik plaasvind, ook steeds onbepaald toe is.
Baie dankie aan Roline Brits, wat saam met my ontelbare navrae die afgelope tyd hanteer het.
Maak gerus met ons kontak by bloemsv@gmail.com vir enige navrae. Ons sal hierdie besluite ook op die BSV-webwerf, Facebook, en Twitter plaas en die mediavrystelling oor die besluit aan Netwerk24 en LitNet stuur.
Baie dankie vir u begrip – ons is almal in dieselfde COVID-19-bootjie.
Veilig bly en skryf sommer nog ’n storie of gedig terwyl u geduldig wag vir die virus om te wyk. Die onderwerpe en reëls in die wedstrydpamflet is steeds saam met die inskrywingsvorms in PDF-formaat op ons webwerf by bloemsv.wordpress.com beskikbaar.
Lekker skryf tydens die inperkingsperiode! Daar is nog genoeg tyd.


Kommentaar
Baie dankie, prof. Etienne van Heerden en sy LitNet-span, dat ons altyd op jul kan reken om 'n boodskap landwyd by skrywers en digters uit te kry!
Groot waardering!
CS
(namens die BSV)