Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging word 50

  • 0

Foto: Canva

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging het Vrydag 50 jaar oud geword!

Ons het dit Donderdagaand met verjaarsdagkoek saam met ons vennoot van meer as vier dekades, NALN, in die historiese NALN-ouditorium gevier. Twee van die BSV-voorsitters (die langste in die tuig) was teenwoordig. Stoffel Cilliers (81), wat vir 35 jaar die leisels gehou het tot sy uittrede in 2007 nadat Volksblad se skryfwedstrydborgskap verval het, en Corlietha Swart, wat sedert November 2008 vanjaar vir die 12de jaar die leisels hou as voorsitter. Die volledige bestuur van 2020 was ook teenwoordig. Die nasionale skryfwedstryd wat sedert 1979 plaasvind, vanjaar vir die 12de jaar geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat en vanjaar ook deur SUNMeDIA: Bloemfontein, gaan steeds van krag tot krag as een van die grootste skryfwedstryde van sy soort in die land in Afrikaans met ongeveer ’n duisend inskrywings jaarliks (moedertaal, sowel as niemoedertaalinskrywings vir hoërskoolleerders, studente en volwassenes). Hoërskool DF Malan, Bellville, stuur gereeld die meeste skoolinskrywings. Die jaarlikse BSV-Slypskool bemagtig daardie jaar se wenners, en lede van die publiek woon ook graag die slypskool van tussen 80 en 100 mense by.

AfriForum dek die uitgawes van die aanbieder jaarliks gedeeltelik met ’n skenking.

Vanjaar bied Hans du Plessis en Bernard Odendaal die BSV-Eeufeesslypskool op 22 Augustus 2020 aan in Noorderbloemsaal, wat voorafgegaan gaan word deur ons BSV-50-dinee Vrydagaand 21 Augustus 2020. Wat ’n voorreg om hulle twee as dinamiese oud- en huidige ATKV-Skryfskooldirekteure in ons midde te verwelkom. Bernard Odendaal is ook die BSV-beskermheer sedert die oorlye van Gerhard J Beukes in die negentigerjare.

Ons volbetaalde lede, ongeveer 200, kom van regoor die land en kan gewoonlik nie die agt plaaslike byeenkomste bywoon nie, maar hulle ontvang hul agt nuusbriewe met skryfgeleenthede en stuur soms iets vir voorlesing, of neem deel aan die kompetisie of slypskool. Ons het egter ongeveer 7 000 BSV Facebook- en Page-vriende (wat, terloops, oor ons verjaarsdag van lyn af was – en die Page is blykbaar steeds van lyn af) en ons het duisende ouddeelnemers of slypskoolgangers wat op verskeie maniere kontak hou.

Daar is jaarliks twee publikasies wat onder redakteurskap van Corlietha Swart by SUNMeDIA: Bloemfontein verskyn, naamlik Inkvars en Bloemskryfsels. Eersgenoemde bevat die jaarlikse weninskrywings met die vier beoordelaarsverslae en word gereeld deur stelwerkonderwysers gebruik, en die publikasie word al vir dekades geborg deur ons gewaardeerde Nederlandse borg, die Stichting tot Bevordering van Kulturele Betrekkingen Nederland Zuid-Afrika.

Die skrywer Annerlé Barnard het Donderdagaand tydens die plaaslike groep se viering by ons as gas kom kuier, en Leana Lategan, hoof- vakkundige beampte van NALN, het vir haar vrae opgestel. Wyno Simes, die kurator van NALN, het die BSV gelukgewens, die vennootskap van vier dekades olv wyle Otto Liebenberg, oudkurator van NALN, en sy span en die BSV onderstreep, en die BSV opnuut in die NALN-geledere verwelkom.

Mag die BSV in die toekoms die wegspringblok bly vir net soveel latere gerekende en bekroonde skrywers as wat die vereniging die afgelope halfeeu op nasionale vlak opgelewer het met die hulp van vier bekwame onafhanklike beoordelaars. Dankie, Fanie Viljoen, ons het gesien jy gee weer vir die BSV krediet tydens jou gelukwensing die naweek. Ons is trots op wat die niewinsgewende BSV, onbetaald bedryf deur vrywilligers in hul vrye tyd, as trotse uitvoerproduk van Bloemfontein die afgelope halfeeu reggekry het. Dankie aan Volksblad, Bloemnuus, LitNet, Radio Rosestad en NALN vir dekking. Wenners en debuterendes kom soms selfs van oorsee en landwyd na ons slypskole, en wedstrydpos stroom in van oor die hele land en soms van oorsee.

Mag die BSV van krag tot krag gaan en nog vele drome van potensiële skrywers bewaarheid.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top