In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
"Daar is in hierdie saak betoogshoofde van 60 bladsye ingedien en vir byna 'n dag lank geargumenteer oor die betekenis in 'n testament van die woorde 'die balans van alle kontant.'" Só begin regter Viljoen sy uitspraak in die saak van Coetzee teen die Meester & Andere1 – 'n saak wat op 27 Augustus 1981 voor dié Vrystaatse regter gedien het.
Wyle mnr John George Fraser is 'n tydjie vantevore oorlede en hy het drie erfgename gehad. Hulle was 'n sekere mev Coetzee en haar broer, Louis Fourie, wat die susterskinders was van die oorledene, mnr Fraser. Die ander erfgenaam was ene mnr Dawid Fourie, wat weer 'n broerskind was van die eersgenoemde twee erfgename, mev Coetzee en mnr Louis Fourie. Is jy nou lekker deurmekaar? Dit maak nie regtig saak nie, maar wat wel saak maak, is dat elkeen van hulle 'n gedeelte van mnr Fraser se boedel sou erf.
Volgens die testament sou die broerskind, Dawid Fourie, sy vaste eiendom te Sasolburg erf. Mev Coetzee sou die "balans van alle kontant na betaling van alle administrasiekostes en laste van die boedel" erf, en mnr Louis Fourie sou die restant van die boedel erf – met ander woorde, alles wat sou oorbly ná die vaste eiendom en kontant in die boedel verdeel is.
Die twis in die hof het gegaan oor die betekenis van die woorde "balans van alle kontant" – mev Coetzee se gedeelte van die erfenis. Volgens die eksekuteur se rekening het mnr Dawid Fourie die vaste eiendom in Sasolburg ten bedrae van R6 250 geërf. Dit was in orde – dáároor is nie getwis nie. Maar die eksekuteur se rekening het verder bepaal dat mev Coetzee slegs R872,28 sou ontvang, wat die netto opbrengs was ná aftrekking van die boedellaste en die administrasiekoste van twee spaarrekenings by 'n bank, asook 'n bietjie kontantgeld.
Die knoop het gelê by mev Coetzee se broer, Louis Johannes Fourie, wat volgens die testament die restant van die boedel sou erf. Volgens die eksekuteur het die restant bestaan uit 'n vaste deposito by 'n bank plus opgeloopte rente wat altesaam R12 802,04 beloop het.
Mev Coetzee was van mening dat hierdie vaste deposito van R12 800 eintlik vir háár bestem was, want die testament het dan duidelik bepaal dat sy die “balans van alle kontant” na aftrekking van laste en die administrasiekoste moes ontvang. Dit is waaroor sy en haar broer, Louis, gestry het: Word 'n vaste deposito by 'n bank beskou as “kontant”, of is dit iets anders?
Mev Coetzee, wat haar lippe afgelek het vir die R12 800 op vaste deposito, het vir die hof toestemming gevra om getuienis oor die oorledene voor te lê. Sy wou aantoon dat wyle mnr Fraser 'n ongeletterde persoon was en dat die hof eintlik moes besluit of sy intellektuele vermoëns en sy begrip van finansiële aangeleenthede sodanig was dat hy sou kon onderskei tussen “kontant” (in die eng betekenis van dié begrip); “beleggings op spaarrekenings” en beleggings by wyse van “vaste deposito’s”. Mev Coetzee het aangevoer dat die hof ná die aanhoor van sulke getuienis dalk in 'n beter posisie sou wees om die oorledene se testament te vertolk.
Die regter het egter – tereg – beslis dat dit nie nodig was om sulke getuienis aan te hoor nie, want testamente word in ons reg in die eerste instansie vertolk aan die hand van die erflater se bedoeling, soos uitgedruk in die skriftelike dokument. Daarom moes die bedoeling van die gewone betekenis van die woorde wat mnr Fraser in sy testament gebruik het, vasgestel word.
Die regter het gaan kyk na die omskrywing van die woord "kontant" in verskillende woordeboeke. Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) omskryf “kontant” as "onmiddellik beskikbare geld; klinkende munt" en die Verklarende Afrikaanse Woordeboek praat van kontant as "klinkende munt; geld wat byderhand is". Die Concise Oxford Dictionary omskryf "cash" as "ready money; actual coins; notes; etc". Die hof het ook gekyk na regspraak oor die betekenis van die woord "kontant" of "kontantgeld" en het tot die gevolgtrekking gekom dat die gewone betekenis van die woorde "alle kontant" in mnr Fraser se testament nie geld wat op vaste deposito belê is, ingesluit het nie. Sulke geld wat vir 'n vaste termyn belê is, is nie in die gewone loop van sake op aanvraag opeisbaar nie.
Daar was dus niks in die testament wat aangedui het dat die woorde "alle kontant" enige ander betekenis as die gewone moes hê nie. Die regter het gevolglik beslis dat daar nie enige grondslag was vir 'n bevel waarvolgens die saak verwys moes word vir mondelinge getuienis soos deur mev Coetzee aangevra nie, en haar aansoek is met koste van die hand gewys.
Al dié gestoei en getwis oor 'n enkele sinsnede in 'n testament. Maar vir mev Coetzee en haar broer, Louis, was die uitslag baie belangrik, want die R12 800 op vaste belegging waaroor hulle gestry het, was destyds baie geld. (Vandag moet dit al ver meer R100 000 bedra.)
Is daar in jou testament dalk woorde of bepalings waaroor daar ná jou dood gestry kan word? Indien daar by jou enige twyfel is, gaan spreek jou prokureur dat hy jou testament deeglik onder oë neem. Die laaste ding wat 'n mens wil hê is dat daar na jou dood hofsake tussen jou erfgename moet wees. 'n Testament is bowenal nie iets wat 'n mens deur onkundige persone moet laat opstel nie.


Kommentaar
Goeie dag, ek het ’n vraag om te vra. Kan u my ASB sê, ek en my vrou het geskei, maar saam ’n testament opgestel nadat ons geskei is. Die testament is so opgestel, daar is twee huise, een huis is haar huis end die ander is 50/50 verdeel. Die huis wat hare is, erf die twee seuns, die 50/50 huis erf ek, haar x-man. Ons het so ooreengekom net die skei-skikking ook. As ek voor haar sou doodgaan sou dit nou net omgedraai wees. Die restante erf die twee seuns ook. Die huis wat 50/50 is het woonstelle op wat uitverhuur word, en daar word inkomste daaruit verdien wat verdeel was. Daar was geen gelde oor van haar in ’n bankrekening of bates nie. Daar is inkomste wat nou inkom na haar afsterwe wat ek in ’n trustrekening moet betaal. Aangesien ek die eiendom erf waarvan die inkomste verdien word, moet ek dit kry, of is dit ’n restant wat na die twee seuns wat nie minderjarig is nie moet gaan?
Soos ek dit verstaan, kan 'n praktiserende prokureur wat as eksekuteur van 'n boedel optree, sy/haar trustrekening aanwend om die oorledene se boedelfondse te administreer. My vraag is: Wat word van die rente wat verdien word op boedelfondse wat in so 'n trustrekening lê?