Die besoeker deur Antje Damm: ’n resensie

  • 0

Die besoeker
Antje Damm

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307792

Antje Damm se Elise van Die besoeker is ’n gaan-haal-die-bobbejaan-agter-die-bult-mens. Sy is bang vir alles. Sy hou alles toe en skoon om haarself te beveilig teen spinnekoppe, selfs bome en ander onbekendhede, maar sy is allesbehalwe gelukkig en geborge. Haar swaar gemoed is, sonder enige verduidelikende teks, duidelik in haar gekromde collagefiguurtjie en gesigsuitdrukkings, en sy word teen ’n donker en grys agtergrond aan ons voorgestel. Dis duidelik dat die leser hier die teks sowel as die illustrasies moet lees, en dit lewer dus 'n belangrike bydrae tot die ontwikkeling van visuele geletterdheid.

Dis op ’n skoonmaakdag wanneer ’n venster vir vars lug oop is dat kleur saam met ’n blou papiervliegtuigie Elise se grys huisie binnekom en dinge begin verander.  Dié vreemde voorwerpie veroorsaak groot ontsteltenis by Elise en selfs nadat sy dit verbrand het, maak sy daardie nag nie ’n oog toe nie. Die volgende oggend vroeg is die jong Emile, in heldergeel en rooi, voor haar deur, en bo en behalwe die feit dat hy die badkamer dringend moet gebruik, eis hy met die intrapslag sy eiendom terug. Met die wind uit Elise se seile, is Emile trap-op na die badkamer.

Met sy terugkoms word Elise tipies met vrae oor dinge in haar huis gepeper, word daar gelees en gespeel en is dit asof haar gesigsuitdrukking versag. Die kleur wat saam met Emile die huis ingekom het, neem met elke dubbelblad en interaksie tussen die twee toe tot met die kombuistoneel waar Elise se grys huis in ’n helder en bont huis verander het.

Wanneer Emile laatmiddag by die voordeur sy handjie in ’n groet lig, mag die leser wonder of Elise se huis met die omblaaislag weer in grys gehul sou wees. Hoewel dit buite donker word, bly Elise se huis egter lig en kleurvol en word haar collagefiguurtjie en gesigsuitdrukking nou energiek en vergenoegd voorgestel. Die storie eindig met ’n toe-oë en glimlaggende Elise by haar kombuistafel, heeltemal voorbereid op nog ’n moontlike besoek van haar nuwe vriendjie.

Die oudargitek Antje Damm het hierdie verhaal ontwerp en gebou voordat sy dit geskryf het. Sy het ’n kartondoos op sy sy gedraai en in papierpopspeelstyl vir Elise ’n huisie gebou, kompleet met uit-karton-gesnyde meubels, ’n ketel en potplante. Elise en Emile se collagefiguurtjies is inderwaarheid uitgesnyde plat figuurtjies binne ’n ten volle driedimensionele toneel. ’n Mens sou Damm se boutegnieke tot ’n mate met wipboekontwerp kon vergelyk. Met elke dubbelblad is die figuurtjies rondgeskuif, sekere gedeeltes geverf en vanuit ’n gat in die kartondoos bo-aan die kartongevoude trap belig en dan gefotografeer. Minimale digitale manipulasie is eers heel aan die einde gebruik om merke van byvoorbeeld die draadjies waaraan die vlieërs tydens Elise se nagmerrie gehang het, uit te vee.

Die produk van dié noukeurige proses is Damm se eenvoudige, dog treffende illustrasies wat ewe hard as die minimale teks aan die verhaal vertel. Met die dubbelblad-wegkruipertjiespeeltoneel is die enigste teks “Toe wil hy speel”. Geen verdere beskrywings is nodig nie, want die jong leser sien Elise op die vloer kruip in die rigting van Emile se voete, wat onder by ’n kas uitsteek. Elise se gesigsuitdrukkings spreek verder boekdele – sy word van grootoog, bang en ongelukkig na rooiwang en glimlaggend transformeer.  Haar veranderende luim en daarmee gepaardgaande herontwaking tot ’n voller lewe word hoofsaaklik deur die slim gebruik van kleur wat haar grys huisie infiltreer, weergegee.

Die besoeker is ’n verhaal wat spontaan kan lei tot ’n gesprek oor temas waarmee kinders dikwels worstel, soos alleenheid en vrese. Die meeste kinders wil op ’n stadium niks met enigiemand anders te doen hê nie. Waar ’n mens egter sou verwag dat dit die ouer karakter is wat ’n jonger karakter help om emosionele uitdagings te oorwin, is die jong Emile, heeltemal onbewus van Elise se voorbehoude en vrese, hier die “sterk” karakter. Deur net sy eerlike en kinderlik-naïewe self te wees, verdryf hy Elise se spoke en vul hy haar saai en grys lewe met opwindende kleure.

My leeservaring van Die besoeker het my herinner aan ’n woordlose prenteboek, Footpath flowers van Jon Arno Lawson, geïllustreer deur Sydney Smith. In hierdie boek stap ’n dogtertjie saam met haar pa, besig op sy foon, deur die dorp. Hulle stap deur grys tonele en die dogtertjie pluk oral blomme, wat dan die tonele verkleur soos wat sy dit onwillekeurig aan diere en mense uitdeel. Haar “geskenkies” word nie altyd opgemerk of waardeer nie, maar verander wel die landskappe waardeur hulle stap – ’n sterk boodskap wat betref die belangrikheid van klein gebare en die waarde van gee – en sonder enige verduidelikende of moraliserende teks.

Abstrakte emosies soos vrees, eensaamheid, vreugde en vriendskap is moeilik om in teks weer te gee sonder om in moraliseringslaggate te trap. Daar word dikwels eerder van beeldspraak of herhaling gebruik gemaak. Hier gebruik Antje Damm egter haar illustrasies, en veral kleur, of die afwesigheid daarvan, om emosies uit te beeld, en dis dalk juis die gebrek aan verduidelikende narratief wat tot meer effektiewe voorstelling van emosies kan lei. Gevoelens is wel moeilik om te beskryf – dit word gevóél – en in Antje Damm se Die besoeker word dit veral gesien, visueel oorgedra. Die illustrasies word gelees, 'n stap in die rigting van visuele geletterdheid.

Die “lees” van ’n goeie prenteboek, ongeag of dit oënskynlik oor gevoelens gaan of nie, is altyd ’n emosionele ervaring. ’n Goeie prenteboek, soos ’n goeie kunswerk, ontbloot wat emosioneel relevant is aan die kind deur sy belangstelling of verbeelding aan te gryp. Kinders is geneig om die irrelevante te ignoreer en te fokus op waarin hulle belangstel of wat op daardie stadium vir hulle saak maak. Die lees van Die besoeker is ’n emosionele ervaring.

Miskien is Die besoeker dan nie ’n kinderboek uitsluitlik nie; miskien is dit ’n prenteboek wat deur almal gelees moet word. Miskien moet almal gereeld daaraan herinner word dat daar altyd meer as een perspektief is waarvoor uitgekyk moet word. Miskien moet hierdie prenteboek soos Emile se papiervliegtuigie by meer mense se donker huise ingevlieg word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top