
Foto: Unsplash
Waarop dui hierdie tussenwerpsel? Wat beleef ons wanneer ons dink of sê “Genoeg is genoeg”?
Die tussenwerpsel “genoeg is genoeg” is baie bekend en word dikwels gebruik. Tog het die uitdrukking my die afgelope tyd getref. Ek hoor dit in talle gesprekke, sien dit op plakkate en lees dit in verskeie tydskrif- en koerantartikels. Dieselfde tussenwerpsel word ook in ander tale, soos Nederlands en Duits, gebruik. In Frans is dit “trop c’est trop”. Xhosasprekendes sê “konele konele” en in Zoeloe is dit “sakwanele”
Ek is geïnteresseerd in die proses wat ’n mens beleef voordat en tot ons dink of hardop sê “Genoeg is genoeg.” Daar is eindelose voorbeelde in talle kontekste. Hier is drie.
- ’n Nuwe nuusberig wat nog ’n geval van bedrog en korrupsie beskryf. Dan dink of sê die leser of hoorder: “Dié diefstal van ons belastinggeld moet nou einde kry. Genoeg is genoeg.”
- In ’n privaat gesprek sê sy: “Hy het al weer Vrydagaand dronk by die huis aangekom. Dan skreeu hy op my: “Is dit al wat ek kry – elke keer net spaghetti en kaas!” Sy verbale misbruik eskaleer soms tot fisieke geweld. Soms probeer sy hom kalmeer en vermy en slaap in ’n ander kamer. Later, die volgende dag, vra hy om verskoning en belowe hy sal dit nie weer doen nie. Om verskeie redes is sy nog steeds lief vir hom, of sy is afhanklik van hom, en aanvaar sy die apologie. Maar, soos in so baie gevalle, hou hy nie by sy belofte nie en die patroon van alkohol gevolg deur teistering herhaal hom. Dan iewers, na ’n hele aantal sulke pynlike ervaringe, dink sy by haarself: “Genoeg is genoeg.”
- Dit is haar taak om die gesin se maandeliks begroting te bestuur. Die afgelope tyd, en meer as een keer, vra sy hom vir meer geld. “Alles is duurder. Ek kan nie uitkom met wat jy my gee nie.” Omdat hy besorg is oor haar en sy gesin, hoe moeilik ook al, help hy haar met nog ’n paar rand. Met verloop van tyd raak hy suspisieus en wonder of sy vrou die waarheid praat. Dan bars die bom. ’n Familievriend sê op ’n keer: “Ek het jou vrou nou die ander dag by die casino gesien.” Hy skrik en konfronteer haar. Sy ontken dit. Later, met verdere getuienis, konfronteer hy haar weer. “Genoeg is genoeg. Jy dobbel die gesin se geld weg! Het jy ’n probleem? Is jy verslaaf aan dobbel?”
Waarop dui hierdie tussenwerpsel? Wat beleef ons wanneer ons dink of sê “Genoeg is genoeg”?
Genoeg, vol, versadig, te veel. “Genoeg is genoeg” is geanker in ons emosies en word met ’n verskeidenheid emosies geassosieer: woede, teleurstelling, vernedering, minagting en selfs walging. Verder ook gemoedstoestande soos wantroue, verraad, uitdaging, miskenning en misnoeë.
........
Genoeg is genoeg is ’n stopteken, of dalk beter, ’n toegeeteken, waar ek paradoksaal tegelyk versadig en leeg voel.
........
Genoeg is genoeg is die produk van ’n mens se malende oorwegings van feite en selfs die vraag of ek my verbeel of oordryf, wat dan spontaan uitbars. Genoeg is genoeg is ’n plek van oorskryding, of oortreding. ’n Drumpelverskynsel. Dit is my reaksie op ’n mag oor my, ’n wanbalans van wat aan my gedoen is wat my gesag om te doen verminder. Genoeg is genoeg kan nie gekwantifiseer word nie. Nog beter, die punt of plek van genoeg is genoeg kan nie gemeet word nie.
“Genoeg is genoeg” is ’n uitdrukking van die innerlike stem van ons morele sin. Hierdie stem word soms verdrink deur ons emosies wat ontlok word deur ons afhanklikheid van ander. Genoeg is genoeg is die eerste teken voor ’n mens voel dat jy jou greep op ’n situasie verloor. Die eerste teken van die oorweging van of poging tot uitvoering van regverdigheid en geregtigheid – my behoefte om dit wat verkeerd is, reg te stel. Ek probeer selfgeldende die houvas van ander se las op my te verbreek. Genoeg is genoeg beteuel die punt van versadiging voor een of ander loslating.
Genoeg is genoeg is ’n stopteken, of dalk beter, ’n toegeeteken, waar ek paradoksaal tegelyk versadig en leeg voel. Dit is ’n belewenis van iets wat buite verhouding is. Aan die een kant te veel, te vol, te swaar, en aan die ander kant is ek uitgeput, gedaan, leeg. Of soos ons in Afrikaans sal sê, “gatvol”.


Kommentaar
Tot hiertoe en nie verder nie.
Of, tot dit weer gebeur?
Eintlik 'n magtelose situasie.
Of 'n punt waar daadwerklike aksie geneem moet word, of optrede geverg word?
Het die persoon of instansie die vermoë of moed om aksie te neem?
Of is dit 'n omstandigheid buite die betrokkene se beheer waarop net kommentaar gelewer word?
Ek dink sommige opposisiepartye het nou op die punt gekom, genoeg is genoeg, hier moet halt geroep word, en ons gaan gesamentlik stopsit aan die gemors.
Interessant, ek luister vanaand na die nuus. Van R41m se bydraes wat verklaar is deur opposisiepartye, het die DA R36m ontvang.
Baie insigewend.
Genoeg is genoeg is vir my twee uiterstes, woede of moedeloosheid. Tussen die twee pole beteken dit niks.
Die uitspreek daarvan is ook nutteloos as daar nie daadwerklike optrede volg nie. Dit bly maar net "praat".