Geagte lakse konsertganger
Wanneer laas het jy jou laptop toegeklap en R150 uit jou spaarbussie gegryp om ’n live show te gaan kyk? En wanneer laas het jy ’n show gaan kyk van ’n band waarvan nog nooit gehoor het nie? Al ooit gewonder wat sou gebeur as daar saans in die stad net die geruis van motors en stemme gehoor word? Wat sal ons met die stadsaal doen as die Kaapstadse Filharmoniese Orkes nie meer geld het om die musici te betaal nie? Dit sal ’n netjiese parkeerarea maak.
As die ekonomie op sy knieë is, is die kunstenaars van die eerstes wat uit die hondebak eet. Maslow se hiërargie van behoeftes is ’n driehoekgrafiek wat nie verniet vlymskerp hoeke het nie. Jy kan dit nie trap, omvorm of onderstebo draai nie. Kos, water en voortplanting is die mees basiese behoeftes. Daarna volg veiligheid en gesondheid. Liefde en aanvaarding is volgende op die lys. Hierna, sê Maslow, kan jy begin dink aan eiewaarde, status en vryheid. Heel bo aan die piramiede is selfverwesenliking – die strewe na uitnemendheid en die luuksheid van tyd en geld vir vermaak. Suid-Afrika word gereeld in die donker gedompel en boere gaan gebuk onder droogtes wat die prys van basiese voedselbenodighede beïnvloed. As jy sosio-ekonomiese ongelykheid in die vergelyking gooi, is dit nie te vergesog om die meerderheid van Mzansi se bevolking net bo die broodlynkategorie te plaas nie. Dus, wanneer diegene wat potensieel ’n konsert sou gaan kyk se geld opdroog, beier die doodsklokke harder as wat enige band of orkes kan speel.
Venues en musikante is die afgelope paar jaar onder druk om finansieel kop bo water te hou. Een van die mees ikoniese klubs in Kaapstad, Mercury Live, het in 2015 sy deure gesluit. Die eienaars was moeg gesukkel om die boeke te laat klop. Bo alle verwagtinge is hulle weer op die been en bied hulle weer ’n heenkome vir talle musikante en die-hard fans. Die Blah Blah Bar in Kloofstraat se deure is sonder waarskuwing toegeklap, so ook dié van die Dorpstraat Teater in Stellenbosch, wat deur hel is met die verskuiwing van venue. Dié bastion van intieme sowel as alternatiewe musiek het sak en pak na Summerhill Wines aan die buitewyke van die dorp migreer. Talle inbrake, sowel as gehore wat nie die 2 km rit van die sakekern af wou aanpak nie, het aanleiding gegee tot die val van ’n baken van musikale hoop. Sowat ’n week nadat Mercury Live moes oppak, is die Klein Libertas Teater in ligte laai gelaat weens (na bewering) ’n kortsluiting iewers in die dak. Uit die aard van die saak was daar nie geld om dit te herbou nie en die perseel is steeds ’n bouval.
Afgesien van die ekonomie is daar ’n ooraanbod van vermaak. Op enige gegewe weeksaand sal jy sonder moeite ’n plek in Kaapstad kan opspoor waar live musiek aangebied word. Jy het ’n keuse van om en by veertig venues in ’n 20 km radius rondom die stad. As jy hou van headbang, is Mercury Live en Aces ’n Spades jou heenkome. Jazz sal jy in The Crypt Jazz en The Piano Bar vind. Blues-manne speel by plekke soos SGT Pepper in Langstraat en The Brass Bell in Kalkbaai. Vir dié wat hou van sit en kyk, en ’n bolglas vol pinot noir geniet, soek vir ’n graffiti-gebou in Breëstraat. Youngblood bied opera, performance art, bands van enige denkbare genre en dans- en neo-klassieke musiek. Hier moet jy sjarrap en luister, want die gebou is van so aard dat elke noot kristalhelder klink en so ook jou genoemde glas as dit teen jou tand kap. Jy moet ook jou stembande diep sluk as jy by The Jagger Lounge ’n show wil gaan kyk. Sit jou eetgerei neer en haal net vir ’n uur lank asem. Jy sal nie sterf nie, belowe die bestuurder saans wanneer hy die kunstenaars voorstel. The Alma Café in Claremont is ook ’n smoel-hou plek met ’n fokus op meer alternatiewe musiek vir die fynproewer, met houttafels, atmosferies ligte en uitstekende klank. Hier word musikante in ’n sitkamergrootte vertrek op die hande gedra.
As daar soveel venues is, hoe oorleef almal wat in die aand werk om jou as gehoorlid te vermaak? Baie van hulle oorleef juis nie en kies óf die hasepad na ’n day job óf krepeer van armoede iewers in iemand se buitekamer. Daar is talle voorbeelde van kunstenaars wat ’n era in Suid-Afrikaanse musiek tot ’n mate gedefinieer het en net nie op hul oudag die mas kon opkom nie. Dis ’n skande, om die minste te sê. Nico Carstens, die trekklavier-maestro, het in die laaste paar jaar van sy lewe iewers in Bellville stoksielalleen met sy keyboard en enkelbed die dae afgetel. Meer onlangs is daar ’n Facebook-groep vir Steve Newman gestig, wat blykbaar nie kos vir hom en sy kinders het nie. Steve Newman versinnebeeld die idee van ’n kitaargod. Hy het al op bykans elke verhoog in die land gespeel en nou is daar net nie meer mense wat sy shows kom kyk nie.
Ek het ’n paar venues se eienaars en bestuurders gaan opsoek om te hoor hoe hulle oor ’n leë verhoog voel.
Chris van Niekerk, bekende TV- en verhoogakteur wat deesdae die Bôrdienghuis in Wellington bestuur, reken die enigste teenvoeter vir die penarie is om ’n standaard te handhaaf. “Kwaliteit, kwaliteit, kwaliteit. Hoe hoër die standaard, hoe meer gaan die mense wat dit gesien het, terugkeer en sommer nog ’n paar mense saambring.”
Hy is ook van mening dat ons as samelewing gaan verarm indien daar nie meer live musiek is nie. “Niks kan ’n teaterervaring vervang nie. Die onmiddellike is onvervangbaar. Om ’n movie te kyk is maklik. In ’n show kan jy die sweet van die uitvoerders sien. Dit beteken nie dat dit inspanning is nie; jy sien eerder die produk as die tegniek. Dit is artistry. Dis die kuns van die kuns en as daar nie meer voete op die verhoog is nie, sal ons as ’n nasie verarm.”
Hoe lyk ’n lewe sonder kunstenaars dan? Niemand weet nie. Daar was al pogings om die kreatiewe lot uit die weg te ruim. Tydens die Kulturele Revolusie in China (1966–1976) is ’n geraamde 2 600 kunstenaars vermoor. Musikante, skrywers, visuele kunstenaars, dansers en filmmakers is deur die bank afgemaai weens antirevolusionêre denke. Musiek is ’n gevaarlike ding as jy hom en sy sidekick, lirieke, vir te lank alleen los. Die drie dames van die Russiese punk band, Pussy Riot, is elk ’n paar jaar tronkstraf opgelê na ’n guerrilla-optrede in Moskou se allerheiligste: die Katedraal van Christus die Verlosser. In hierdie optrede word met Vladimir Putin gespot en hulle sinspeel daarop dat hy swak is en bang is om liberale standpunte in te neem en dat hy eintlik maar ’n ... wel, dat hy maar eintlik die eerste deel van die band se naam weerspieël.
Daar was nog nie punkbands met maskers in Moederkerk in Stellenbosch nie, maar so sewe klipgooie van die Akkerstad se heiligdom af is daar ’n ander heilige plek: ’n regte, egte teater met ’n verhoog, ligte en ’n bestuurder wat met ’n ysterhand en hart van goud die kunstenaars hul regmatige plek in die spotlight gee. Ingrid Howard van die Drostdy Teater benader dit as volg: “Enige venue in die tradisionele sin kompeteer deesdae met wynplase wat ook vermaak bied. Mense eet graag uit en wil in die natuur wees. Jy moet aanpasbaar wees en vir mense ’n breër ervaring bied – ’n glas wyn en ’n lekker atmosfeer.”
Uit haar ervaring het Stellenbosch ’n baie lojale gehoor en hulle sal sommer ’n konsert in haar teater kom kyk al weet hulle nie eens wie optree nie. “Solank daar kwaliteit is, sal jy mense in die gehoor hê.”
In ’n sukkelende ekonomie is dit veral die kunstenaars wat moet sokkies optrek in terme van bemarking. “Tydens die era van die streeksrade [TRUK, KRUIK, ens.] het akteurs en musikante mediese dekking en ’n salaris gekry om te doen wat hulle die beste doen. Daai tye is verby. Nou moet jy optree dat jy hop, anders is dit neusie verby.”
Daar word vertel dat Dave Brubeck, die Amerikaanse jazz-pianis, ’n aandeel gehad het in die beëindiging van die Koue Oorlog. Nancy Reagan het hom na Moskou genooi om vermaak te verskaf tydens ’n geleentheid in 1988 waar haar man, Ronald, en Mikhail Gorbachev besig was met vredesamesprekings. Die onderhandelinge het blykbaar op ’n mespunt gebalanseer en die aand se funksie vir al die afgevaardigdes was maar ’n stywe en pretensieuse gedoente. Dave Brubeck trek toe weg met “Take the A train”.
Gorbachev wieg saam met die musiek, een van sy generaals speel tromme met sy eetgerei en Ronald Raegan glimlag met sy oë toe. In die vroeë oggendure, na die verrigtinge, skud die twee presidente hand en beëindig die Koue Oorlog.
Trek jouself dus mooi aan, haal daai R150 uit jou spaarbussie en gaan kyk ’n show. Wie weet, miskien verlaat daai missiele, kernkragbomme en bloeddorstige agterdog jou brein vir so ’n uur of twee.




Kommentaar
Konserte is 'n wonderwêreld maar ook nie aldag so lekker nie. Dis gevaarlike buite in die nag. Jou kar word met klippe gegooi. Jy sukkel met parkering. Die kroeg is 'n vertrapping en jy kry nie eens 'n ou sappie gekoop nie.
Jammer, dude, maar ek het régtig nie R150 in my spaarbussie nie, anders was ek daar.
Pragtig gestel Wilken. Lewendige optredes gaan dié land lewendig hou.