
Foto: Canva
Die bedelaar
Hy staan amper elke dag tussen die twee lane by die kruising se verkeerslig. Sy hande en knieë wissel ritmies tussen aanbiddings- en bedelposisies. Die meeste motoriste ignoreer hom. Een het oor sy voet gery en hy was maande lank in groot pyn. ’n Ander inwoner teister hom, skel hom uit en rapporteer hom aan die owerhede.
“Inwoners moet asseblief ophou om vir mense kos te gee,” basuin die gemeenskap se sosiale media-groep dit uit. “Ons soek nie bedelaars in ons woongebied nie.”
Eers het hy met optelgoed, klippe en plante ’n “tuintjie” langs die sypaadjie gemaak. Pynlik netjies en trots. Selfs Die Burger het ’n artikel oor hom en oor hoe hy aangerand is geskryf. Die raadslid spring in om te probeer om vir hom ’n werk by die munisipaliteit te kry.
“Daai klippe is om karre mee te gooi,” laat weet een ou op die buurt se sosiale media-groep en hy maak daarmee seker dat die kliptuintjie verwoes word.
“Meneer, kyk hoe mooi skoon hou ek die plek,” sê die tandelose bedelaar met die lang vingernaels toe ek verbystap.
Met ’n bondeltjie takke vee hy elke dag blare uit die afvoerslote langs die sypaadjie op terwyl hy kruppel-kruppel aanskuifel.
“Sien meneer daai sakke vol goeters wat daar staan? Ek het die parkie skoongemaak. Die blare en gemors verstop die stormwaterpype en die reëns kom. Die mense mors so en ek sê vir hulle hulle moenie so mors nie. Die munisipaliteit kan nie altyd oral opruim nie.”
Voor ons huis lê herfsblare, maar ek merk een oggend op dat my plaveisel skoon is. Selfs die onkruid is uitgetrek.
“Het meneer gesien hoe mooi het ek voor meneer se huis skoongemaak?” sê hy vir my toe hy die klokkie lui. “Ek hou nie daarvan om so hulp te vra nie. Ek wil ook iets doen, meneer. Het meneer nie asseblief vir my iets om te eet nie? Sê tog vir mevrou daai ertjiesop wat sy gegee het, was baie lekker. My seuntjie sê hy het nog nooit sulke lekker sop geëet nie.”
’n Vrou skryf op die groep: “Hoekom het húlle kinders as húlle nie vir húlle kan sorg nie?”
Dis Dinsdagoggend. Tyd vir die vullisverwydering en dit zoem weer op die sosiale media oor die dromkrappers wat so mors. Op pad pilatesklas toe stap ons verby ’n vrou. Sy skud haar kop meerderwaardig en voel waarskynlik seker dat iemand wat soos ek lyk, met haar sal saamstem.
“Kyk net hoe mors die mense. ’n Mens sal nie tussen húlle ore inkry dat ’n mens nie so moet mors nie.”
Natuurlik is mors walglik. Maar rassisme is ewe walglik. Waar begin ’n mens om medelye te hê met hulle wat, vir watter rede ook al, deur die vloer geval het? Hoe kry ons gesprekke aan die gang mét mense en nie óór mense nie? Ek stap net verby, want ek het nie die krag om haar in haar eie spieël te laat kyk nie. Nee, tannie, dink ek. Ons is nie almal so nie. Ken jy vir Simon?
Ja, die bedelaar hét ’n naam: Simon. ’n Mens net soos ek en jy. Hy sê hy is 39 jaar oud, sy vrou 33 en sy seuntjie ses jaar oud. Hy het lank onder die spoorwegbrug gebly. Hy bly nou by familie op die plaas. Simon doen wat bitter min van ons sal doen: Hy sorg dat die omgewing skoon bly. En hy vertrou dat die Here vir hom sal sorg. As ons vir hom iets gee, sê hy altyd: “Die Here sal jou seën.”
Ons is definitief oor jare al geseën, nie omdat ek iets gedoen het nie, maar omdat ek bevoorreg was en is. Natuurlik het ek ook hard gewerk, maar ek het werk gehad! As daar nie geleenthede oor my pad gekom het waartoe ek middele en toegang gehad het nie, sou ek ook waarskynlik moes bedel. Ons het nie ’n idee van hoe dit moet wees as jy sonder ondersteuning of ’n werk of ’n dak oor jou kop moet oorleef nie.
My ouers het dit nie breed gehad nie. My pa was ’n onderwyser en my ma, ’n vrywilliger by die ACVV, het blomplantjies gekweek vir ’n ekstra inkomste. As kinders moes ons snags slakke vang en in die middae die plantjies verkoop teen een sent elk. Daardie geld het vir ons gehelp om sakgeld vir universiteit te hê. Ten spyte van alles het my ma altyd uitgereik en vir arm mense gesorg. Net jammer dit was meestal net wit mense.
Een van my grootste lewenslesse het ek by arm en swart mense geleer. Ek noem net een geval: ’n Swart vriendin van ons was met haar eerste baba in die hospitaal. Ek was in die motor op pad van die stad af toe ek hoor sy is in ’n hospitaal in Athlone, naby aan waar ek toe gery het. In die hospitaalkafeteria koop ek twee polfyntjies en twee vrugtesappe om dit saam te geniet. Toe ek in haar saal kom, besef ek hier’s ’n groot probleem. Daar is ses pasiënte in die saal en ek het net twee miserabele muffins. Verleë sit ek die sap en eetgoed op die kassie langs haar bed. Sonder enige huiwering sê sy: “Deel dit met almal in die saal.”
“Maar dis nie genoeg nie,” antwoord ek.
“Dit maak nie saak nie. Gaan deel dit.”
Beteuterd loop ek met die twee kolwyntjies van bed tot bed. Elkeen breek ’n klein stukkie af. Met elke stukkie wat gedeel word, styg die gees en gemoedere in die saal met ’n crescendo so vrolik soos ’n orrelsimfonie. Almal lag, sê dankie en vergeet skielik van hulle skete. Die een-op-een-kuier word ’n saamkuier. ’n Paar krummels koek doen toe nou meer om mense beter te laat voel as inspuitings en medisyne. Net daar kry ek ’n les oor skaarsheidsmentaliteit – iets wat ek nêrens in agt jaar se studies in boeke of lesings geleer het nie.
Om te deel moenie ’n las wees nie. Dit moet deel van ons DNS wees. Maar ons sukkel om te weet hoe om te help. Terwyl ons help waar ons kan, verkies ons om eerder verhoudings te bou met ’n paar mense vir wie ons oor die langtermyn kan help.
Het ons, ons al vasgeloop? Beslis. Is ons al om die bos gelei? Vir seker. Raak ons ook geïrriteerd as mense ons klokkie ontydig lui, veral die regulars, die kansvatters? Natuurlik. Ons het selfs ’n plan gemaak toe ons elektriese klokkie by die hek onklaar raak. Ons het nou ’n Eskom-bestande tou by die hek wat ’n klokkie in ons huis klingel as dit gepluk word. As ons nie by die huis is nie, of nie gepla wil word nie, vat ons die tou weg. Mense wat ons soek, moet maar bel as hulle by die hek is. Vanselfsprekend maak dit ons partykeer ontoeganklik vir mense wat nie fone het nie en dit pla vir ons en vir hulle wat by ons bedel.
Iewers in laas week was dit weer een van daardie dae dat ons die tou ingetrek het. Ek moes iets skryf en wou nie gepla word nie. Ek hoor vir Simon roep, maar ek ignoreer hom. Hy moet maar later weer kom. Die geroep hou nie op nie. Ek ignoreer hom steeds. Toe hoor ek die toutjieklokkie lui. Onmoontlik, dink ek, die tou hang nie oor die hek nie.
Vieserig gaan ek uit om vir Simon darem net te sê hy mag my nie nou pla nie. Hy het met ’n lang tak die tou deur die hek nader gehark en toe die klokkie gelui.
“Môre, meneer,” sê hy en hy hou ’n orgidee-potplant uit na my toe. “Ek het net vir meneer en mevrou iets gebring om dankie te sê. En ek het sommer weer skoongemaak hier buite.”
“Baie dankie, Simon. Dis gaaf van jou.”
“Meneer, ek wil net iets gevra het. My vrou moet Tygerberg Hospitaal toe gaan. Sy’t mos kanker. Hulle gaan haar têt afsny. Kan meneer my asseblief help dat ek en sy daar kan uitkom?”
Ek gee vir hom geld en pas gekookte boontjiesop en sê ek is jammer om te hoor van haar siekte. Hy sê dankie en stap hinkepink terug.
Gister lui die klokkie weer. Ons het vergeet om dit weer in te trek. Dis Simon. Die trane loop oor sy wange en deur sy snikke sê hy: “Die hospitaal het laat weet my vrou is gesterwe. My seuntjie het sommer flou geword en haar ma het ’n stroke gekry. Ons moet nou weer Tygerberg toe om die lyk te gaan was.”
Vandag, Sondagoggend, roep hy weer. Kan ek nie asseblief vir hom iets gee vir die begrafnis wat môreoggend “in Pappegaaiberg se begraafplaas” gebeur nie?
“Laasnag het my seuntjie in sy slaap gepraat oor sy ma wat dood is.”
“Hoe laat is die begrafnis, Simon? En wie begrawe haar?”
“Half agt by die huis, daarna by die NG Kerk in Devon Valley. Die lyk lê by AVBOB in Stellenbosch. Ons kort R400 vir die gat se grawe.”
Iets rym nie lekker nie. Terwyl ons vir hom koffie maak, bel ek AVBOB. Daar is niemand wat môre begrawe word nie. Die kantoor is vandag en môre toe.
“Simon, kom ry saam met my dat ek self kan sien wat aangaan.”
Simon klim in die kar en ons ry na ’n plaashuis waar hy sê hy bly. Ek sê niks oor AVBOB nie.
Anders as in ons straat waar Simon skoonmaak, lê die hele wêreld om die armoedige huis vol plastiek en afval. Ons stap deur die lang gras tot by ’n vrou in haar kamerjas wat in die oggendson ’n bietjie hitte soek. Simon groet haar en ek stel my voor.
“Ja, Simon bly al lank hier by my. Hy is ’n baie goeie man. Hy bring kort-kort vir my ’n geldjie sodat ons darem krag kan koop. En kos vir my kleinkinders. Dit gaan maar partykeer swaar hier by ons. Maar ek deel met ander wat ek het. Ek kan nie iemand wegwys wat swaarkry nie. Ek word hierdie jaar 60. Dan kan ek darem pension kry.”
Sy lyk rustig en vryf liefderyk oor die kop van haar kleindogter wat styf teen haar staan. Agter haar speel ’n dogtertjie met ’n stukkende fiets.
“En Simon se seuntjie?”
“Hy bly in Eersterivier.”
“Wat van sy vrou?” vra ek.
“Sy vrou is jare gelede al dood.”
“Nou wie se begrafnis is dit môre?” vra ek.
“Dis ’n familielid in Eersterivier. Sy word daar begrawe. Ons gaan môre ’n taxi vat.”
Simon kyk grond toe. “Meneer, ek sal nie vir meneer jok nie.”

