Die vreesaanjaging en die ryk man

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Aan die oewers van die Krokodilrivier in die omgewing  van Hectorspruit lê ’n plaas met die mooi naam Lodwichs Lust. Dis ’n groot plaas en dit grens vir ongeveer 12 km aan die Krokodilrivier. Aan die anderkant van die rivier is die Krugerwildtuin.

Die plaas het behoort aan ’n maatskappy waarvan ene mnr De Villiers en sy vrou die aandeelhouers was. Na mnr De Villiers se dood het die plaas agteruitgegaan en mev De Villiers het besluit om dit te verkoop. Sy het aan ’n vriend en vertroueling van haar, ene mnr Van den Berg, opdrag gegee om ’n koper te vind. Van den Berg het met ’n dame met die naam Bekker, wat verbonde was aan ’n bekende eiendomsagentskap, onderhandel en uiteindelik is daar ’n ooreenkoms tussen hulle gesluit ingevolge waarvan Van den Berg waardevolle en noodsaaklike inligting oor die plaas aan die eiendomsagent sou verskaf. Indien die eiendomsagent daarna ’n koper vir die plaas sou vind en ’n kommissie sou verdien, sou die eiendomsagent aan Van den Berg R200 000 moes betaal vir die inligting wat hy verstrek het.

Soos dit gaan met waardevolle eiendom van hierdie aard, het dit die eiendomsagent nie lank geneem om die plaas vir byna R20 miljoen aan ’n buitelandse koper te verkoop nie. Die agent se kommissie het R1,9 miljoen rand bedra.

Die vreugdevure in die eiendomsagent se kantore het nog hoog gebrand toe Van den Berg per brief sy R200 000 as deel van die kommissie van R1,9 miljoen rand opeis. Die agent het geweier om te betaal en Van den Berg het ’n dagvaarding uitgereik waarin hy sy kommissie geëis het. Die saak1 is voor waarnemende regter Van den Heever van die hooggeregshof in Pretoria verhoor.

Die eiendomsagent se interessante verweer was dat die ooreenkoms tussen Van den Berg en Bekker nietig was op grond van vreesaanjaging. Bekker het gesê die enigste rede waarom sy die ooreenkoms met Van den Berg gesluit het, was dat Van den Berg geweier het om sekere belangrike inligting omtrent die plaas aan haar te verskaf en haar gedreig het dat as sy nie sou toestem nie, hy mev De Villiers sou beïnvloed om nie die plaas deur middel van die betrokke eiendomsagent te verkoop nie.

In sy uitspraak van 6 Maart 1999 wys regter (wrn) Van den Heever daarop dat dit ’n reël van ons reg is dat wanneer ’n persoon se wilsooreenstemming  tot ’n kontrak verkry word deurdat hy met fisiese leed bedreig word, so ’n kontrak vernietigbaar is as gevolg van vreesaanjaging. So ’n persoon kan dan uit die kontrak tree en hy kan van die ander party terugvorder wat hy reeds ingevolge die ooreenkoms gelewer het. Dit klink egter makliker as wat in die praktyk die geval is. Ons reg vereis dat die bedreiging gerig moet wees op die lewe, liggaam of die persoon van die ander kontraksparty of, natuurlik, sy familielede. Dit moet dus ’n werklike fisiese bedreiging wees – amper die spreekwoordelike pistool teen die kop.

Daar is onsekerheid in ons reg of vreesaanjaging – as ’n grond vir die kansellasie van ’n kontrak – vérder gaan as die bedreiging van ’n mens se lewe. Wat daarvan as jou eiendom, jou bates, deur iemand bedreig word en jy dan maar met so ’n persoon ’n ooreenkoms sluit net ter wille van die beskerming van jou eie bates? In die Engelse reg word so ’n bedreiging van ’n mens se eiendom beskryf as “duress of goods”. In die Engelse reg – en in ons reg – word egter aanvaar dat ’n mens ’n kontrak of ooreenkoms kan aanveg op grond van ’n bedreiging van jou goed – sogenaamde “duress of good” – slegs as die persoon wat so bedreig is, kan bewys dat hy betaling onder protes gemaak het. Daar moes dus een of ander vorm van beswaar gewees het aan die kant van die persoon wat so bedreig is.

Die Engelse reg het in onlangse jare egter verder ontwikkel en hulle erken nou ook sogenaamde “economic duress”. Die basis vir die sluiting van ’n kontrak tussen partye is dat hulle absoluut vry en ongebonde moet wees in die uitoefening van hul keuse om die kontrak te sluit of nie. Indien iemand se wil op enige manier só gebuig word – deur watter druk ook al – dat hy nie vrylik en ongebonde sy besluit kan neem nie, is daar sprake van vreesaanjaging, of “duress”, en kan ’n ooreenkoms op grond daarvan vernietig word.

Regter Van den Heever het egter beslis dat die leerstuk van “economic duress” nog nie in die Suid-Afrikaanse reg aanvaar is nie en hy het gevoel dat dit nie op sy weg as ’n enkelregter gelê het om daaroor te beslis nie. Dit sou eerder op die weg van die hoogste hof van appél lê om so ’n regsontwikkeling toe te laat.

Die regter het vervolgens beslis dat daar, volgens die getuienis wat voor hom gelê is, aanvaar kan word dat mnr Van den Berg ’n mate van kommersiële of finansiële druk op Bekker uitgeoefen het om die ooreenkoms met hom te sluit. Maar, sê die regter, die meeste besigheidstransaksies – indien nie álmal nie – gaan uit die aard van die saak gepaard met ekonomiese en finansiële druk.2

Die regter kon nie insien hoe die weerhouding van die inligting deur Van den Berg – tensy Bekker hom daarvoor sou vergoed – onder die omstandighede van hierdie saak neergekom het op onregmatige optrede aan sy kant of dat dit sogenaamd contra bonos mores was nie, met ander woorde teen die goeie sedes nie. Van den Berg het die inligting aan haar aangebied teen betaling van die bedrag van R200 000 en sy het dit so aanvaar. As dít ekonomiese of finansiële druk op haar geplaas het, was dit volgens die regter regmatige druk.

Daar het gevolglik, volgens die regter, ’n geldige en afdwingbare kontrak tussen Bekker en Van den Berg tot stand gekom en daar was na sy mening geen gegronde rede waarom Bekker nié verplig sou wees om die bedrag van R200 000 aan Van den Berg te betaal nie.

Saam met die stewige klompie rente wat die hof die eiendomsagent beveel het om te betaal, het Van den Berg seker heelpad bank toe geglimlag.


1 Van den Berg & Kie Rekenkundige Beamptes v Boomprops 1028 BK 1999 1 SA 780 (TPA)

2 Vgl in dié verband ook Medscheme Holdings (Pty) Ltd and Another v  Bhamjee  2005        (5) SA 339 (SCA).

 

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top