Die avonture van Helga Roets deur Riaan Grobler: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. 

Titel: Die avonture van Helga Roets
Skrywer: Riaan Grobler
Uitgewer:  Human & Rousseau
ISBN: 9780798185981

Oud word is nie vir sissies nie en Die avonture van Helga Roets spreek op meer as een vlak tot my. Sonder enige twyfel is Die avonture van Helga Roets my gunstelingboek wat ek gedurende Januarie 2026 gelees het. Ek wil eendag daardie tannie in die aftreeoord wees wat nie gaan lê net omdat ouderdom aan die deur klop nie.

Jannes Erasmus skryf in sy Rapport-resensie: “Riaan Grobler se jongste roman bied ’n verfrissende en ontroerende blik op ouderdom, onafhanklikheid en die onuitwisbare menslike begeerte om voluit te leef. Selfs wanneer die liggaam begin terugdeins en diegene om jou bekommerd word.”

Helga Roets is ’n regte lady – die regte uitrusting, lipstiffie en haar pienk hare gedoen is baie belangrik. Sy herinner my baie aan my Moeksie (sonder die pienk hare) wat nooit die huis verlaat het as sy nie ‘aangetrek’ was nie, selfs al het sy net gaan brood koop.

Helga is al ses jaar ’n inwoner van Silwerhare Aftreeoord. Die aanpassing was vir haar moeilik, maar danksy haar motortjie is sy onafhanklik genoeg om self rond te ry.

Na ’n ongeluk word Helga gediagnoseer met ’n oogprobleem wat ’n speek in die wiele van haar lewe gaan steek: makulêre degenerasie. Sy is op pad na twee begrafnisse en ’n troue in die Paarl. Hoe gaan sy dit doen as haar dogter dreig om haar motorsleutels af te neem?

Helga was nog nooit ’n bang vrou nie en besluit om skelm weg te glip en vir oulaas ’n roadtrip te hê, maar die orige Stefaans de Wet besluit om saam met haar te gaan omdat sy kwansuis nie kan sien nie of om alarm te maak sodat almal van haar planne kan weet. Teen haar sin laat Helga haar dit welgeval.

Helga en Stefaans se avontuurlike rit bring hulle eers by die verkeerde begrafnis, maar hulle kom dit darem betyds agter sodat hulle wel by die regte een ’n paar blokke verder kan opdaag. Daar gaan fout met hotelbesprekings, met die koop van kruietees en boonop loop Helga tot haar spyt vir Marinda,  ’n oud mede-universiteitstudent wat sy nog nooit kon verdra nie, op die troue raak. Die reis laat Helga egter toe om die vriend in Stefaans te ontdek en sy dink minder aan hom as ’n orige ou man.

Terug in Pretoria by die Silwerhare Aftreeoord loop Helga haar vas in die nuutste inwoner, Marinda. Marinda is steeds daarop uit om Helga se lewe te versuur.

Nog ’n paar dinge gebeur met Helga terug in Pretoria: waar sy danslesse wil neem, op aardige goed by die winkel langs die dansstudio afkom en selfs die nag voor haar verjaardag op ’n ongemaklike plek moet slaap. Ek het by tye kliphard (in die middel van die nag) gelag, en ander kere ’n traan weggepink.

By die aftreeoord is daar nou ook skielik snaakse dinge aan die gebeur: Helga kry ’n dreigbrief om van Stefaans af weg te bly, goed raak skielik weg en Helga is net nie meer gelukkig daar nie. Maar soos die meeste stories het dié een ook ’n gelukkige einde ... vir party karakters.

Riaan is ’n meester woordsmid wat met elke boek net verbeter. Hy skryf oor die ouderdom presies nes dit is: deel van die lewe, niks fancy nie. Iets wat almal eendag moet hanteer. Om weer vir Jannes aan te haal: “Grobler herinner ons aan iets wat ons generasies maklik vergeet: Ons ouers en hul ouers ervaar ook die lewe vir die eerste keer.”

En dan wonder ek: Wanneer laas het jy daarop gefokus dat jy nou iets vir die eerste keer doen? Die lewe is ’n avontuur: leef dit!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top