Die ATKV oor Menseregtedag: "Elkeen het die reg op basiese onderwys"

  • 0

Wanneer ons Menseregtedag vier, dink ons noodwendig aan die gebeure van 21 Maart 1969 toe mense in Sharpeville gesterf het vir die ideaal van ’n regverdige sosiale en ekonomiese bestel.  Vier dekades later, is daar nog steeds grootskaalse ongelykhede in ons onderwysstelsel, meen Seymour Bothman, senior bestuurder van onderwys by die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV).

Die ATKV is bekommerd oor verskeie onderwyskwessies, veral nou dat daar sprake is van ’n onderwysstaking deur lede van die onderwysvakbond Sadou. Verlede maand het me Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, bekend gemaak dat 392 000 onderwysers in 2012 altesaam 7,5 miljoen skooldae afwesig was, ’n gemiddeld van 19 dae per onderwyser bo en behalwe die amptelike skoolvakansies. Onderwyser-afwesigheid en onvoldoende infrastruktuur is egter net een deel van die krisissituasie in die onderwys. Grootskaalse afwesigheid en swak dissipline onder leerders is  ’n ewe groot probleem.

Die feit dat skole nie betyds handboeke ontvang nie bly steeds ’n bekommernis en ’n mens sou hoop dat daar uit die 2012-handboekkrisis geleer is. Wanneer ’n mens die matriekslaagsyfer ontleed, is dit maklik om jou blind te staar teen ’n syfer wat die afgelope drie jaar jaarliks gestyg het. Kyk ’n mens dieper, sien jy dat tussen 46% en 51% leerders tussen graad 10 en matriek uitgesak het. Wat sê dit van ’n onderwysstelsel as minder as die helfte van kinders wat vir graad een inskryf, uiteindelik matriek skryf en 30% van hulle steeds druip?

Probleme soos hierdie staan in skrille kontras met die Grondwet wat sê: “Elkeen het die reg op basiese onderwys, met inbegrip van basiese onderwys vir volwassenes; en op verdere onderwys, wat die staat, deur middel van redelike maatreëls, in toenemende mate beskikbaar en toeganklik moet maak.”

Dringende gesprek is nodig, maar net aksie sal ons onderwysprobleme oplos. Om onderwys deur wetgewing tot ’n noodsaaklike diens te verklaar, soos wat tans bespreek word, gaan egter nie noodwendig die einde van die probleem beteken nie. Onderwysers kan steeds aanmeld vir diens, maar dit beteken nie dat onderrig en leer gáán plaasvind nie. Wat nodig is, is ’n dringende houdingsverandering. Die ATKV ondersteun enige pogings van die regering en vakbonde om te verseker dat ’n positiewe gesindheid teenoor onderwys moet ontwikkel. Dis al manier waarop ons gaan verseker dat elke leerder die volle toegelate onderrigtyd kry waarop hy of sy geregtig is.

Deur ATKV-Handevat, een van ons onderwysprojekte, het ons al duisende jong lewens aangeraak. Die hoofdoel van die projek is om skole uit bevoorregte gemeenskappe te motiveer om volhoubare projekte aan te pak saam met skole uit minderbevoorregte gemeenskappe. Met hierdie projek word daar wonderlike bande gesmee tussen kinders wat mekaar dalk andersins nooit eers sou ontmoet het nie. Een van ons tien finaliste vir 2012, die Hoërskool Eldoraigne, het uitgereik na Mahlahle Primary School, 360 km verder in Ohrigstad, en onder meer 180 skooltasse, pennesakkies met skryfbehoeftes vir elke leerling, sportklere, nuwe skooltruie, komberse en kospakkies aan die skool geskenk. Die skoolhoof, mnr MM Marobane, kan nie uitgepraat raak oor hoe die verbeterings en skenkings die onderrigsituasie by sy skool bevorder het nie.

Nog ’n projek wat deur die ATKV van stapel gestuur is, is die ATKV-Sterskooltoekennings. Met hierdie toekenning word skole wat hul matriekslaagsyfer met meer as ’n 40% verbeter beloon. Een so ’n ontvanger van dié prys is die Imizamo Yethu Secondary School in George, wat hul slaagsyfer van 27% in 2010 na 82% in 2011 opgeskuif het. Die skool het voortgebou op hulle sukses en verlede jaar ’n slaagsyfer van 96% behaal.

Die ATKV voel ook baie sterk oor moedertaalonderrig in ons skole. Daar is oorweldigende bewyse dat ’n kind wat wat vir ten minste die eerste ses jaar van sy of haar lewe moedertaalonderrig ontvang se leervermoëns bevorder word. Deur moedertaalonderrig kan leerders die leerplan makliker bemeester. Dis ’n feit dat ’n kind konsepte makliker verstaan in ’n taal wat aan hom of haar bekend is. In ’n tweede taal word konsepte maklik dooie woorde wat net gememoriseer word, sonder ’n ware begrip van die betekenis.

Vir derduisende Suid-Afrikaanse kinders is die grondwetlike reg op basiese onderwys net ’n droom en daarom bly onderwys een van die ATKV se hooffokusse. Ons wil deel wees van die oplossing, nie net by Afrikaanse skole nie, maar by alle skole wat nie noodwendig deel uitmaak van die top 3 000 uitnemende en funksionele skole uit die ongeveer 24 000 skole in Suid-Afrika nie.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top