Hoërskool Eldoraigne gee met ATKV-Handevat!

  • 0

As deel van ATKV-Handevat, die ATKV se projek wat ten doel het om skole uit bevoorregte gemeenskappe te motiveer om opbouende en volhoubare projekte aan te pak saam met skole uit minder bevoorregte gemeenskappe, het Hoërskool Eldoraigne verlede jaar uitgereik na Mahlahle Primary School in Ohrigstad. 

Hoërskool Eldoraigne was een van tien skole wat gedurende 2012 aanvangskapitaal van R4 500 van die ATKV ontvang het om hul gemeenskapsprojek ’n hupstoot te gee. ’n Handevat-projek moet gesamentlik deur die twee skole aangepak word tot voordeel van die breë minder bevoorregte gemeenskap. 

Nadat ’n behoeftebepaling by Mahlahle Primary School gedoen is, het Eldoraigne op groot skaal insamelings en kreatiewe projekte geloods om ’n daadwerklike verskil by dié skool te maak. Die skool se leerders en personeel was betrokke by die inisiatief, en al is die afstand tussen die twee skole 360 kilometer het Hoërskool Eldoraigne bewys dat niks hulle gaan keer om nasiebou te bevorder nie! 

Die leerders van Mahlahle, wat voorheen hulle boeke in plastieksakke skool toe moes dra, het 180 skooltasse ontvang. Waar leerders voorheen noodgedwonge moes skryfbehoeftes deel, het elkeen nou ’n eie pennesakkie met skryfbehoeftes.  Sportspanne het nuwe eenvormige klere ontvang, 65 leerders is nuwe skooltruitjies ryker en 140 leerders het warm komberse gekry. Kospakkies is aan behoeftige ouers geskenk. Danksy Hoërskool Eldoraigne spog die laerskool nou ook met plafonne, diefwering, asblikke vir die klasse en skoolterrein en werkende spoeltoilette, en die hele skool is geverf. Klaskamers is ook toegerus met opvoedkundige boeke, plakkate, gordyne, truprojektors, skerms en rekenaars.

Leerders van Hoërskool Eldoraigne met truie wat hulle ingesamel het vir die laerskoolleerders van Mahlahle Primary School.

Mahlahle Primary School se skoolhoof, mnr MM Marobane, het in ’n brief vertel dat die skenkings onderrig by die skool bevorder en dat hy nooit geglo het dat een skool ’n ander skool so kan bystaan en help nie.

Hoërskool Eldoraigne se doelstelling is om te gee, deel en ervaar.  Marietjie van der Merwe, projekleier, sê dat dit vir hulle, uit ’n bevoorregte oogpunt, van groot waarde was om te sien hoe die gemeenskap sonder basiese behoeftes klaargekom het.  “Dit was vir ons wonderlik om ander mense se omstandighede en lewens aan te raak.  Ons gun hulle ’n blink toekoms!”

Om meer uit te vind oor hoe jy betrokke kan raak skakel vir Lizané Basson by telefoonnommer 011 919 9078 of e-pos lizaneb@atkv.org.za.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top