Die ATKV en LAPA Uitgewers: Japie Gouws lewer verslag

  • 0


Japie Gouws, besturende direkteur ATKV-groep, het die volgende toespraak gelewer by 'n kuiergeleentheid van LAPA Uitgewers in Auclandpark. Kyk hier na foto's van die geleentheid.

6 832 055. Dit is die aantal Suid-Afrikaners wat met die 2011-sensus aangedui het dat hulle Afrikaans eerstetaalsprekers is. Dit verteenwoordig 13,5% van die totale bevolking van bykans 51 miljoen, en is 870 000 meer as in 2001. Dit is goeie nuus vir Afrikaans.

Afrikaans is die grootste huistaal in die Noord-Kaap sowel as die Wes-Kaap, die tweede grootste in die Vrystaat, die Oos-Kaap en Noordwes, en die derde grootste huistaal in Gauteng. In Limpopo en KwaZulu-Natal is Afrikaans die vierde grootste huistaal en in Mpumalanga die sesde grootste. Dit alles is goeie nuus vir Afrikaans.

Van die bruin Suid-Afrikaanse bevolking gebruik 75% Afrikaans as eerste taal en 21% Engels. Die wit Suid-Afrikaanse bevolking is 60% Afrikaans en 35% Engels. Van die Indiër Suid-Afrikaanse bevolking is 4,6% Afrikaans. En meer as 600 000 swart Suid-Afrikaners is Afrikaans eerstetaal-sprekers. Verdere goeie nuus vir Afrikaans.

Die sensus dui aan dat Afrikaans een van die mees gebruikte en mees verstane tale onder alle bevolkingsgroepe in Suid-Afrika is.

Die ATKV is in 1930 deur ’n klompie personeel van die destydse SA Spoorweë & Hawens gestig – as debatsvereniging – omdat hulle bekommerd was oor die gebruik van Afrikaans in hulle werk – Engels het die hoogty gevier. Later het die debatsbyeenkomste kulturele items bygekry en het die sogenaamde koffiehuiskonserte begin. In 1936 het die personeel besluit om die plaas Hartenbos aan te koop sodat hulle daar kon gaan vakansie hou. Tente is sommer so van die stasie af tot teen die see opgeslaan.

Vandag het die ATKV ’n sakedivisie met sewe welbekende vakansie-oorde, twee aftreebehuisingsprojekte (Negester) asook ander oordverwante sakebedrywighede. Hierdie sake-aktiwiteite stel die ATKV finansieel in staat om sy hoofbesigheid, naamlik taal en kultuur te bedryf. Die ATKV se kultuurdivisie se hooffokusse is taal, kunste, gemeenskappe en onderwys.

LAPA Uitgewers het sy ontstaan uit die destydse JP van die Walt & seun en is sedert 1996 ’n volfiliaal van die ATKV. Die aankoop van die Afrikaanse uitgewery het ten doel dat die sakedivisie van die ATKV-groep uitgebrei word, maar ook ter wille van die voortgesette skepping van lees-inhoud in Afrikaans.

Die aktiwiteite van LAPA Uitgewers se voorgangers het ook in die dertigs begin met ’n publikasieprogram van Springbok-biblioteek onder die vaandel van die destydse Unie-boekhandel.

Springbok-biblioteek het aanvanklik gepoog om slegs boeke van sogenaamde hoë letterkundige gehalte te publiseer en skrywers soos Kootjie van den Heever, JRL van Bruggen, Elise Muller, S Ignatius Mocke en TC Pienaar, was gereelde medewerkers. Trouens, die eerste romanwedstryd in Afrikaans, is in 1941 gewen deur Elise Muller met “Ek, Samaritaanse vrou”.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was dit nie moontlik om elke maand ’n boek te druk nie as gevolg van die tekort aan papier. Ná die oorlog is die druk van maandelikse boeke weer hervat. Oor die jare daarna is klubs soos die Keur-biblioteek, die Eike-boekklub, die Treffer-boekklub en Romankeur deur JP van der Walt van stapel gestuur. LAPA Uitgewers en sy voorgangers kan met reg die leier van boekklub-uitgewery in Afrikaans genoem word, want vir langer as ’n halfeeu lewer die maatskappy reeds ’n ononderbroke boekklubdiens aan Afrikaanse lesers. Sommige van ons lede spog reeds met langer as 50 jaar lidmaatskap!

Die taalfokus van die ATKV is daarop gemik dat die ATKV ’n prominente rol speel in die behoud en uitbou van Afrikaans. Die ATKV se tale-afdeling is daarvoor verantwoordelik, maar ook LAPA Uitgewers.

In die ATKV bedryf ons self en is ons ook betrokke by verskeie projekte om impak ten opsigte van die taal-hooffokus te maak. Ek verwys na onder andere die Afrikaanse Olimpiade, die debats- en redenaarskompetisies, die kinderboektoekennings, die Woordveertjies, Mediaveertjies, Pendoring, kinderboekskryfskole, die ATKV-Skryfskool by die Noordwes Universiteit, die WOW-projek saam met die Universiteit van Stellenbosch se Woordfees en talle ander.

Die uitgewersbedryf in Suid-Afrika, maar ook wêreldwyd, is onder geweldige druk. Nie net druk vanweë die ekonomiese omstandighede nie, maar ook as gevolg van tegnologiese veranderings. Dieselfde geld ook vir die media – koerante en tydskrifte in besonder. Die tradisionele uitgewersbedryf, soos baie van ons dit ken, is iets van die verlede. Ons sal dus uitsonderlike kreatiewe en volhoubare planne moet maak om die toekoms suksesvol aan te pak.

LAPA Uitgewers is en was nog altyd aan die voorpunt van die veranderings. Ons prestasies ten opsigte van e-boeke, toepassings, sosiale media en aanlynveldtogte is welbekend. Die inhoud en gehalte van ons kinderboeke, ons fiksie en nie-fiksie word hoog aangeprys. Op 3 Augustus 2013 het LAPA-boeke 50 van die top 100 kinderboeke op Nielsen se gesaghebbende weeklikse verslag oor boekverkope bekleë.

Ons doen reeds goed met ons bewusmaking by skole en 6 van ons titels is op die nasionale voorgeskrewe lyste geplaas. Ons het ook ons bemarkings- en verkopeafdelings se strukture aangepas om nog beter aandag aan skole te gee. Die betrokkenheid van ons skrywers by skole help ook geweldig baie met ons skolefokus.

LAPA Uitgewers beskik oor goeie en gewaardeerde skrywers. Dit is moontlik om goeie inhoud te kry wat goed verkoop. Ons nuwe bemarkingsaanslag maak voorsiening dat ons meer toegewysde aandag gee aan nuwe titels, maar ook aan skrywers.

Die ATKV speel ’n belangrike rol by kunstefeeste in Suid-Afrika. Ons is die hoofborg van die ATKV Boek-oase by Aardklop vir die tweede jaar vanjaar en ons borgskap van die boek-aktiwiteite by volgende jaar se US Woordfees is byna gefinaliseer. Ons konsolideer ook ons betrokkenheid by ander feeste, te wete Innibos, KKNK en die Nampo Oesdag.

Die ATKV-groep, wat LAPA Uitgewers insluit, is tans besig met die ontwerp van ’n nuwe digitale strategie wat alle fasette van ons besigheid positief sal beïnvloed.

Die ATKV, as houermaatskappy van LAPA Uitgewers, is daartoe verbind om beide ons sakefokus sowel as ons fokus op Afrikaans, ook by LAPA te laat werk. Daar is dus toenemende koördinering tussen die ATKV en LAPA Uitgewers om te verseker dat ons ons groep-doelwitte bereik. Verandering en aanpassing is deel van die oplossing vir baie besigheidsaktiwiteite vandag. Ons durf nie daarvan wegskram nie.

Die ATKV se visie en missie en hooffokusse oor Afrikaans is duidelik. Die 2011-sensus is goeie nuus vir Afrikaans. Nuwe tegnologie skep nuwe geleenthede. Afrikaans is die ATKV se besigheid – en ons beplan om nog baie lank daarmee besig te wees.

Ek wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om elkeen van julle te bedank vir die rol wat julle tot nou toe in die doen en late van LAPA Uitgewers gespeel het. Ons hoop dat julle die toekoms soos ons sien en saam skouer aan die wiel sal sit om dit te benut.

 

Japie Gouws
Besturende direkteur ATKV-groep
27 Augustus 2013

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top