Hallo
Jaco en Francois het in hulle briewe kommentaar gelewer oor die eeufees van die ANC en ’n bestekopname gebied. Hierdie lewer nie kommentaar daarop nie. Comestor in ’n vorige brief het veel te skryf gehad oor die donker nag waarin Suid-Afrika homself bevind en die was opgevolg met Yuri se Kersvader wat treur en ’n traan stort.
Laasgenoemde is ’n gewilde tipe van brief en het altyd aftrek. Dit is soveel dieper om pessimisties te wees.
In die lig daarvan is RW Johnson se onlangse twee artikels in die Beeld ’n nuwe hoogtepunt. Dit is nie duidelik of dit Die Burger gehaal het nie. Indien nie word dit nou vir Comestor se aandag aangebied. “Misery loves company”.
Universiteite volgens Johnson:
Wat nou nagestreef is, is “transformasie”. Die vae term is selde teengestaan: Die meeste akademici en administrateurs het dit vrywillig verwelkom, hoewel daar geen eenstemmigheid oor die betekenis daarvan was nie.
Die kriteria vir universiteitstoelating sou verslap word om toelating vir swart studente uit vrotsige skole te vergemaklik, terwyl voorgegee is dat die peil gehandhaaf word.
Toe, omdat talle van hierdie studente skaars geletterd was, het baie universiteite remediërende kursusse ontwerp om hulle “op peil” te bring.
Die tweede opstel tel éérs spoed op en som die ANC-heerskappy soos volg op:
Daar is beslis onder alle rasse ’n diepe nostalgie vir die manier waarop Suid-Afrika eens bestuur is, waar take afgehandel is, waar stede behoorlik bestuur is, en so meer.
Vanuit hierdie gesigspunt beskou is ANC-heerskappy ’n blote teistering, ’n nasionale onheil.
Daardie opstel kan hier gevind word.
Baie dankie
Wouter

