Die ANC 100 jaar oud!

  • 0

’n Fenomenale prestasie vir ’n politieke beweging, en hiermee wil ek my persoonlike gelukwensing aan hulle uitspreek, ten spyte daarvan dat ek teen die huidige bewind van die ANC gekant is. Hier in SA oor dieselfde termyn het vele politieke partye en bewegings gekom en gegaan (die magtige NP inkluis) met die gedurig veranderende politieke klimaat.

Wat sê dit vir ons, en waaraan is dit te wyte? Ek analiseer dit as gevolg van die volgende redes, nl:

1. Die swartes, nieteenstaande hulle stamverskille, kon ’n groter prentjie gewaar in die algemene swart belang as net enige kortsigtige sektariese stam belange.

2. Hulle weet hoe om interne verdeeldheid te beheer, en te kanaliseer.

3. Hulle weet hoe om alliansies te smee met mede belanghebbendes, soos COSATU en die SAKP as voorbeelde, tog hewig intern verskil, en nogtans ’n uiterlike verenigde front voorgee.

4. Die party is vir hulle groter as enige indiwiduele daaropvolgende president van die party. Die party was nooit om enige sterk leier geskoei nie, Enige leier wat te groot vir sy skoene geword het, kon hulle met gemak onttroon (Mbeke als voorbeeld).

5. Hulle demokratiese strukturering is ingedeel om verskillende belange te omhels en te bevredig soos die veteraanliga; jeugliga; vroueliga; ens as voorbeelde. En ongetwyfeld is die party ooglopend op demokratiese (nie outokratiese) beginsels geskoei.

6. Hulle kommunikasiestelsel is van die beste wat jy onder enige politieke party kan kry, sodanige kommunikasie strek vanaf die hoogste vlak (president) van die party tot die gespuis (peasant) onder die bevolking. Hulle gereelde “indabas” met die gewone bevolking is prysenswaardig.

7. Hulle kon die nodige aanpassings maak met die verandering in die politieke klimaat.

8. Nieteenstaande die ontstaan van ’n korrupte ryk elite onder eie geledere, sien hulle om na die belange van die armsalige. Die behuising van armes kan vir ander wêrelddele benydenswaardig wees, als voorbeeld.

Afrikaner politieke partye soos die NP, die HNP, die CP, die AWB, en ander non-parlementêre bewegings het lelik gefaal en tot niet gegaan juis omrede hulle nie aan bogenoemde eienskappe voldoen het nie.

Die verdeelde Afrikaner kan beslis ’n blaadjie vanuit die ANC boek neem.

Jaco Fourie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top