Tant Alie,
So ruk gelede gesels ek met ‘n bekende en kundige bestuurskonsultant
wat nogal ‘n paar interessante konsepte met my gedeel het. Veral ten
opsigte van “verandering” en hoe dit maatskappye raak. Ek wil nou nie
ure spandeer om die situasie met LitNet uit te pluis nie, maar wat
insiggewend was is dat fases van oorvloed in die mark, met droogtes
gevolg word. Maar indien maatskappye die droogtetye verstaan en hulle
situasie herevalueer, kan hulle weer begin groei. Dalk het SêNet nie
genoeg beplanning gedoen om die groeiende behoeftes van hulle bydraers
na te kom nie?
Ek self het vir lank nie geskryf nie, maar dit was om
gesondheidsredes. Ek het ‘n rugoperasie ondergaan en moes onlangs na
‘n aftreeoord verhuis. Dit was vir my ‘n groot aanpassing, en hoe ek
hierdie verandering in my persoonlike lewe moes hanteer het nogal ‘n
direkte invloed op my daaglikse aktiwiteite gehad. Ongelukkig gaan die
lewe deur fases en dit is hoe ons hierdie veranderinge hanteer wat die
kaf van die koring skei. Mense word ouer, en ons gaan dood. Dalk is
die bydraers van SêNet nou almal so oud dat ons of oorlede of skynbaar
onredbaar geraak het. Of dalk is ons almal effens seniel, soos wat my
kinders tans oor my vrees. SêNet sou nou dus moet fokus om jonger
mense te trek, as ‘n voorbeeld.
Ek het baie respek vir Cornelius Henn, en ek is nie seker hoekom jy
aanneem dat hy jou beskuldig vir die droogte wat SêNet ondergaan nie.
Ek ken Cornelius deur die jare, en hy het ’n goeie hart. So jy is dalk
die een wat moet mooi dink wat jy hom aangedoen het en hoe jy dit kan
verander. Daarmee kan ek jou nie help nie. Natuurlik is jy nie die een
wat verantwoordelik is vir die afname in bydraes nie. Ek kan jou die
gerustheid gee, dat ek tog in ‘n mate jou respekteer vir jou
volharding, veral as dit by Godsdienssake kom. Ek kan dieselfde van
Kobus noem, al gee julle my so erge sooibrand dat ek sommer dae lank
Rennies moet kou.
Ek verstaan dat dit moeilik is vir ‘n christen as hy gekonfronteer
word met standpunte wat direk in stryd met sy geloof staan. Dit is nie
aangenaam nie, en die reaksie wat christene op hierdie standpunte het,
is oor die algemeen verdedigend en word later oorgeskakel in woede.
Almal is geregtig om hulle opinie hier te lewer, en as dit jou passie
is, kan niemand jou hiervan ontneem nie. Miskien het jy fouteer om deur
die jare vreeslik verdedigend op te tree, deur oor te gaan in ‘n
geskellery as jy ongemak met ander se menings ervaar. Dalk is dit nie
die wyse om hier voort te gaan nie.
Terug by SêNet, ek dink regtig dat die bestuur moet besluit of hulle
steeds ‘n nut het vir SêNet. Indien wel, sou dit gaaf wees om nuwe
taktiek en planne uit te dink wat die voortbestaan sou verseker.
Johan


Kommentaar
Johan
Dit is lekker om met iemand wat die moed het om onder sy eie naam te skryf te kommunikeer en nie om te sukkel met 'n onvoldoende bang individue elk met 'n kardoes oor die kop getrek waarop 'n--die een meer slimmer/oulik/afstootlik as die ander-skuilnaam geverf is. Vanuit die kardoes word, meesal, geniepsighede, beledigings oefeninge in skatologie (maar tog af en toe tog spitsvondighede) teen mede-kardoesers gewerp en vreesloos (haha) ook gehoop op die koppe van ander wat in hul pad mag kom met die wete dat hul onbykombaar is
Ek het egter wel die hoogste respek vir die nom de guerre onder die groot geeste van die literatuur - maar ek kon nog nie een in julle kolomme identifiseer nie. As jy wel hier is klim uit die kardoes.
"SêNet het sy goue tydperk onder webmeester Melt Myburgh beleef met bydraers en bydraes oor 'n wye spektrum maar ontaard toenemend in 'n geslote skindersirkel van kardoeskop-balbyters wat gal bo soet verkies.Julle is sekerlik bewus daarvan dat besoekers in hordes SêNet verlaat (as daar ooit hordes was!)"
Dus , Johan, ek ondersteun jou heelhartig : "Terug by SêNet, ek dink regtig dat die bestuur moet besluit of hulle steeds ‘n nut het vir SêNet. Indien wel, sou dit gaaf wees om nuwe taktiek en planne uit te dink wat die voortbestaan sou verseker."
Naas Viljoen
Die uitdaging is dat gereelde deelnemers en lesers briewe oor 'n verskeidenheid van onderwerpe moet plaas en daaroor het die bestuur geen beheer nie.
Die debat oor evolusie, kreasionisme, intelligente ontwerp was 'n goeie gesprek en was baie deur my geniet.
Tant Alie se brief oor olie in Uganda en die VSA se dreigende aanval kan nie ernstig opgeneem word en het geen kommentaar ontlok nie.
Henn se astrale reisigers is pens en pooitjies in die gekkegrens dat aanvanklik deur my ignoreer is. Net soos Tant Alie en Uganda.
Die volhoubaarheid brief was ook goed en is 'n onderwerp van belang.
Hierdie is dus volgens my nie 'n mislukking van die bestuur se kant af nie maar die gebruikers, 'n magdom van onderwerpe wat inkom word benodig en dit is vir my verstommend dat die lesers van LITNET nie die werf oorstroom met onderwerpe aangesien dit juis ingeligte lesers is.
Comestor vir al die irritasie wat ek met sy skrywes het, verdien 'n pluimpie aangesien hy konstant onderwerpe hierdie rigting stuur en dit is goed.
Dit bevestig egter ook 'n ander uitdaging dit verg werklik moeite om "diepliggende" ingeligte gesprekke oor 'n onderwerp te laat vlot en dalk is die meeste lesers nie vir sulke moeite gemaak nie.
Dit is al gesien met klagtes hier van 'n "koos sas" byvoorbeeld, wat steen en been kla oor hoe vervelig dit is hier en dan geen briewe plaas wat opwinding kan bring nie.
Dieselfde met "aunty-whatever" wat met lofty disdain kritiseer en Perdebytjie kap sonder enige rede en nie werklik onderwerpe na vore bring nie.... behalwe 'n halfgebakte mening oor "petrolium" en dink nie eers aan Iran en die geo-politieke toestande wat die drywer is vir die prys van olie huidiglik.
Oester vir seker, sal 'n komplot kan opdiep.
Die "probleem" is werklik met die gebruikers........
Beste Johan,
Jou uiteensetting van die intrige en verloop van ons lewens parallel met ons bydraes op die werf, laat my met baie stof tot nadenke.
Die heengaan van bydraers; hetsy die tydelike met die ewige wissel of die gewone afdraande van ons bewussyn, is 'n werklikheid.
Min kan ook stry dat hulle lankal vergeet het waaroor die aanvanklike stryd eintlik gegaan het. Ek kan eerlik nie meer onthou hoe het die ou grote en sy ge-aliede bende dit reggekry het om my vere laat rys die eerste keer nie. Hulle doen dit sedertdien gereeld en bykans uit enige hoek.
Johan, ek is absoluut eens met jou stelling dat elkeen geregtig is om hulle opinie hier te lewer en as dit 'n passie is, kan niemand jou daarvan wil ontneem nie.
En dis miskien die kern van my kritiek teen die hele ge-aliede bende, Wouter Ferns en al die karikature waarna Naas hierbo heel tereg verwys.
Ek het vrede met 'n ander se seksmaniere, geloof of ongeloof, of hoe elkeen hulself kielie en krap ...
Maar Naas is heeltemal in die kol met sy beskrywing van die van die klomp banggatte wat met 'n kardoes oor die kop getrek onder hul stronterig nom de plumes uit mis hulle in hul waan dat hul onaantasbaar is.
Dis verseker 'n geslote skindersirkel van kardoeskop-balbyters wat gal bo soet verkies wat die werf bederf ...
Hoekom is ek nog hier?
Ja, ek het myself al menigmaal voorgeneem dis my laaste bydrae - net om te groet - net om more weer te laat vir die straal uit 'n kardoeskop-balbyter se alie te koes ...
Wel, ek erken ek het ook 'n agenda.
Die werf is nie kerk nie - dis dalk my plig waar ek van beter weet (en ek wel die geleentheid het) om op die vitterige, onbillike, kleinlike, onbevoegde kritiek van karikature soos die hansworse soos Wouter Ferns, Alie en hul pous Kobus de Klerk se grappe te antwoord.
Natuurlik is my kennis en ondervinding ook net tot my empirie beperk, maar ek ag my geloofservaring met dankbaarheid in antwoord op die kitsnaslaanmeesters se verwaande aanstellerigheid.
Ek bid dat my gesindheid ook wel verstaan sal word teen die voorbeeld van Wouter se woernaal hierbo gelees; "Henn se astrale reisigers is pens en pooitjies (sic) in die gekkegrens dat aanvanklik deur my ignoreer is."
Hel, hoe belangrik is "Wouter Ferns" se aandag nogals?
Wouter poog nes Kobus so met hul kakografiese neerhalinge om hul "kunde" buite die Internet weg te steek.
En dis hoe dit nog altyd was; Kobus de Klerk en sy paranimfe het geen kennis van ander se godsdiens en onderwerpe behalwe dit wat hul kan Wiki of Google nie - beslis kitsnaslaan parakundiges en paraberaders van formaat!
Elke sirkus het sy narre, harlekyne en waagartieste.
As iemand ook met smaak vir die kunste van akrobate en diere in 'n sirkus, sien ek 'n nogals verskil tussen hansworse en harlekyne. 'n Harlekyn dra voor met lag-en-traan in 'n soort digkuns terwyl die ge-aliede kardoeskop-balbyters gewoon geverfde spotters is.
Ja, die werf het sy narre, harlekyne en waagartieste ...
Ek is altyd met gespanne aandag bewus waar ek met 'n onderwerp waag - my bydrae "Astrale Ruimtevaarders" is geen uitsondering nie.
Die feit is egter dat my futuristiese en Abrahamitiese uitdra van die Evangelie algemeen bekend by katolieke buite die Afrikanerdom is. Woutie en Kobus sal dit nie kan kitsnaslaan nie en daarom het hulle geen alternatief om my te beledig en te probeer verkleineer nie (getrou in hul aard).
Maar Johan, daar is baie bydraers soos jy waarvoor ek ook 'n diepe respek het. Miskien nie 'n volstrekte meerderheid nie, maar julle verteenwoordig beslis meer as sewentig persent van bydraers (ongelukkig nie bydraes nie).
En dis miskien hoekom ek nog hier sit en tik ...
Ek bid om genoeg tyd te vind om in die genade van my Abrahamitiese en "ultramoderne" uitdra van die Evangelie, die Afrikanerdom se Protestante impressionisme verby te streef en hul antagoniste tradisie en konvensie te laat verdwyn ...
Dankie vir jou bemoediging Johan.
Futuristiese Abrahamitiese, Hindoe en Boeddhistiese groete,
Cornelius
Arme Henn, 'n ellelange verontskuldiging - terwyl die gekkegrensstories ongelukkig bly staan en niks met kits naslaan te doen het nie, maar ongelukkig staan astrale reisigers uit soos 'n seer vinger en dit nog na 'n streep van ander onsin deur Henn publiseer.
Beste Naas,
Baie dankie vir jou skrywe. Ek het eintlik nie 'n probleem om met mense wat skuilname het te kommunikeer nie, solank as wat hulle skrywes nie in 'n onsinnige geskertsery ontaard nie. Ek wonder ook nogal soms of daar van die befaamde skrywers wat in die verlede hier kom rondskarrel het, nog af en toe hier kom inloer. Behalwe nou vir die Adam Small-debakel lyk dit of die skrywers maar eerder die SeNet gedeelte vaarwel geroep het! Baie hartseer inderdaad.
Wouter - Ek beskuldig nie uitsluitlik die bestuur nie, maar tog kan jy nie ontken dat daar nie 'n bewustelike besluit erens geneem is om maar bloot briewe te publiseer ten einde kommentaar te kry nie. Jou twee voorbeelde van Alie se Olie en Henn se Ruimtereisigers as vrot briewe kan ook bespreek word. Alie se Olie debakel is dalk vergesog, maar sy is in die kol oor Kony. Ek sal byvoorbeeld nie enigsins daardie video vertrou nie, want ek is van nature skepties oor sulke veldtogte.
Henn se astralie ruimtevaarders het jy in absolute detail geantwoord. Dus het dit erens dalk 'n senuwee raak geboor?
Cornelius,
My vriend, ek het baie respek vir jou. Baie dankie vir jou baie mooi skrywe, en ek waardeer altyd jou insette. Ek wil tog noem dat ek soms onseker is oor die insinuasies wat jy oor ander skrywers maak. Cornelius, ek het deur die jare geleer om dinge wat my kwel direk aan te spreek. Soos wat ek nou na 'n paar weke kon aflei is jy onder die indruk dat Wouter, Auntie Schwartz, Tant Alie, Smittie, Pierre van der Merwe, Jaco Fourie en selfs Kobus de Klerk een en dieselfde mens (gay) is wat uitsluitlik hier skrywe om jou siel uit te tart? Is dit hoe jy voel?
Jy het in een van jou kommentare dit laat blyk dat gay mense oor die algemeen gevaarlik is met hulle woorde en tonge. Ek het self 'n gay familielid vir wie ek baie lief is, en het nog nooit sulke gedrag by hom teegekom nie. Is dit nie dalk effens onregverdig om 'n gay komplot te beweer, sonder om die ware feite agter die situasie in te win nie?
My vriend, ek het baie uitgawes van SeNet gemis, en skakel maar af as dinge te "polities" raak. Ek weet dus steeds nie waar die debakel met Wouter, Tant Alie, Auntie Schwartz en so voorts begin het nie. Tog sou dit goed wees indien jy direk die aantyging maak en die mense 'n kans gee om te reageer. Dan kan mens vir altyd die gordyn laat sak en aanbeweeg. Dit help nie om maande lank vermoedens te he en sodoende jou eie genot wat jy uit die forum put te bederf met onbeantwoorde vrae nie.
Vir my is dit irrelevant of Alie en Wouter dieselfde mens is. Hulle skryf baie verskillend, en alhoewel Alie my al uitgeskel het en selfs gesmeek het dat ek by 'n krans moet afspring, was Wouter nog altyd baie beskaafd teenoor my. So ek sien Wouter as 'n vriend en Tant Alie as 'n befoeterde christen. Of hulle nou agter die skerms dieselfde mens is (wat ek ten sterkste betwyfel) skeel my min. My eie ervaring op die werf is met die twee afsonderlik.
Dankie vir jou mooi skrywes en bemoediging!
Johan
Wouter,
Jy skuim dat dit waai met; "Die psigodrama gaan my nie aan nie, net die bespreking van die idees."
Nee Wouter, dis nie waar nie.
Jy spoeg en blerts uit allerhande plekke net om ander verdag te maak.
Elke relaas van jou is "van buite" en op jou eie veronderstellinge gegrond.
Ek gee toe dat ek nie alwetend soos julle kitsnaslaners is nie, maar ek sit darem gewoonlik met 'n leerstuk wat vir die studente (katkisante) in die bepaalde godsdiens waarin ek leef bedoeld is op my skoot as ek tik.
Daar is menige faset en vertakking in elke godsdiens op aarde.
Nie eens die mees geleerde in enige onderwerp kan namens die gemeenskap daarin praat nie.
Nie eens Jesus Christus se lering word algemeen deur Christene aanvaar nie.
Maar, dis eintlik tydmors om sulke werklikhede met jou en Kobus de Klerk te deel.
Oral staan my uitnodigings om idees met jou te bespreek. Jy ontduik dit egter telkens met jou eie "psigodrama".
Jy is steeds welkom as jy verby jou meerwaardigheid kan kom.
Cornelius
Dagsê Naas Viljoen, — Daar is nie ’n manier wat jy hier op die forum kan bewys dat Naas Viljoen jou werklike naam en nie ’n skuilnaam is nie. Ek ken minstens ’n dosyn of wat mense met die naam ‘Naas’ en ‘Viljoen’ is ’n baie algemene van. Trouens my ouma aan vaderskant was ’n Viljoen. Naas Viljoen is dus nie noodwendig ’n unieke naam nie en daar is ’n moontlikheid dat dieselfde naam deur baie ander gedra word en dat die meeste lesers hier op die forum steeds nie die vaagste benul het wie ‘Naas Viljoen’ is nie en as sodanig vir hulle dus neerkom op een of ander anonieme persoon.
Maar ek woon in 'n klein en baie eng en uiters gelowige/bygelowige gemeenskap en ek gee jou die versekering dat die lewe vir my en my gesinslede in die algemeen baie onaangenaam sal raak as sommige van my bydraes onder ’n naam wat met my verbind sou kon word, verskyn.
Jy sien dus dat in hierdie wonderlike demokratiese land van ons kan jy sê wat jy wil afhangende wie jy is en wat jy te sê het. As jy ’n gelowige is, kan jy op vryheid van spraak, beskerming en respek aanspraak maak maar as jy ’n ateïs is, het jy die keuse om of jou bek te hou of om ’n skuilnaam te gebruik.
Groetnis
Panda
Dankie Johan.
Vir die rekord ek is nie Tant Alie nie, en terwyl sy in haar kring 'n goeie mens mag wees staan ek glad nie vir wat sy staan nie en sal nooit die "point of view" wat sy hier verteenwoordig kan handhaaf nie.
Ek weet nie hoe om dit te bewys nie, behalwe 'n pleidooi, aanvaar asseblief my woord?
So waardeloos 'n pleidooi op die internet ook al mag wees.
Oor Kony, kennis geneem en is ek bewus van die vraagstukke wat met die eerste rondte van die video begin loop het.
Natuurlik is dit billik om skepties te wees en word dit ondersteun.
Van daardie gesprek het al aangstap vanaf die eerste keer wat dit in die New York Times & International Herald Tribune waarop ek ingeskryf publiseer was en was eens met die kommentaar van Roger Cohen en Nicholas Kristof dat die rapportering daarvan goed was en die publiek so attent gemaak het daarop.
Hoe om 'n houvas op betroubaarheid te kry is soos altyd die uitdaging.
ABC se "The Week" het ook positiewe kommentaar hieroor gelewer deur die aanbieder, George Stephanopoulos, met daardie verwysings was ek redelik oortuig van die postiewe aspekte.
Die VSA wat Uganda aanval oor sy olie, is gekkegrens terrein.
Die VSA sukkel nog om oor Iran te besluit na twee mislukte pogings in Irak en Afghanistan en Tant Alie sit al die voorspellers ore aan en bevestig 'n inval in Uganda.
Dit beteken nie, ek staan voor dat enige brief belet word, hoe gek dit ook al mag wees nie.
Ek is werklik 'n geswore ondersteuner van vryheid van spraak en het daarom nog NOOIT aangevoer dat De Klerk stil gemaak word nie of enige ander deelnemer nie.
Dit is volkome onaanvaarbaar.
'n Brief sink of swem soos die lesers daarmee omgaan, daar is 'n magdom van briewe wat doodgewoon ignoreer is deur my wat van De Klerk kom.
Neem as voorbeeld die "argument" tussen teologie en geskiedskrywe, by die 30 kommentare, maar nie EEN spreek die konflik tussen die twee disiplines aan nie, maar is dit slegs die "persoonlike" tussen De Klerk, Henn en Dippenaar.
Dit was dus vermy deur myself.
Die antwoorde op dit alles, die het ek nie, behalwe om te bevestig, dit verg moeite om kommentaar te lewer en jou feite te bevestig, (as jy doen), en dalk sien die lesers nie daarvoor kans nie?
Baie dankie
Wouter
Wel (Lilly White, Soulman, maar nie Jaco, Alie et al nie en defnitief nie De Klerk nie)
Hallo Johan,
Daar is seker baie fasette aan homoseksueel wees.
Ek het van kleins af skewe maatjies (soos hulle na hulself ook verwys). My skewe maatjies is en was nog altyd oor die algemeen gays en queens. Maar daar is ook die wat deur erge pyn en verwerping gaan en nie hulself op enige manier kan uitleef nie.
In my ervaring gemeet is gays trou aan die beskrywing van die woord "gay". Ek sal nie name noem nie maar hier is en was al 'n hele paar gay bydraers op die werf - vrolik, lighartig, opgeruimd, INGELIG ...
Queens fassineer my die meeste. Ek dink nie hulle is noodwendig homoseksueel of as sulks eens seksueel aktief nie. Hulle is net ongelooflik kreatief aan die eenkant, maar net so onbeskryflik venynig met hul sarkasme en satire aan die anderkant. As jy 'n queen verkeerd vryf het jy hel van 'n ander aard. Hulle is geweldig selfgesentreerd. Ek het nog nooit 'n queen ontmoet wat soos gays hegte vriendskappe vorm nie. Ek maak myself ook nie maklik 'n oorlas naby een nie, maar het al geswig om hier en daar hul handtekening te vra.
Karakters soos Christenmoeder, Alie en die Aunties is tipies "queen" byprodukte. As jy die voorreg het om 'n queen in die regte lewe te ken, dan sou jy weet daar is nie 'n manier hoe jy hul een karakter met die ander sou bind nie.
Queens is na my menig die mees intelligente en daarom ook die mees gefrustreerde mense tussen ons. In die regte lewe sou ek hulle verbygestap het maar hul konfrontasie op die werf maak dit moeilik.
Wouter is nie 'n queen nie. Hy het self die woord "queer" op hom gepas. Wouter blyk ietwat geïsoleerd met al sy "inligting" op 'n verlate plekkie rond te dwaal.
My onderwerp "Astrale Ruimtevaarders" is eintlik algemeen bekend.
Nes my verhaling "Skeppingsleer", is daar ongelukkig geen "anker in realiteit op die Internet" soos Wouter dit vereis nie. Maar dis wat Kobus ook altyd eis; as hy dit nie kan Google nie, dan bestaan dit eenvoudig nie en sal hy met absolute neerhaling daarteen vloek.
Wel, ek het Johan Heine, Michael Tellinger en Credo Mutwa in my bydrae "Astrale Ruimtevaarders" genoem. Hierdie mense is slegs enkeles uit baie wat hul lewe aan die onderwerp wy.
Nou ja, vir die bitter Wouter bestaan die onderwerp nie want die kanse dat Credo Mutwa 'n webwerf of blog gaan bedryf, is NUL.
Jammer vir almal wat kennis op die Internet verafgod.
Self klim ek liefs in my kar en gaan luister en koop direk uit hierdie wonderlike mensdom van ons se hart - hetsy Hindoe, Moslem, Jood, katoliek, Boeddhis of futuristiese Abrahamiet.
Johan, ek bid gedurig dat daar ander in die Afrikanerdom kan kom en op hierdie forum die wonderlike geleentheid gebruik om al hierdie en ander fasette in Afrikaans saam met my deel.
Cornelius
Ek en my metgesel is nou al 'n dekade saam en hoef daar geen lang trane oor my gehuil te word nie.
Beste Cornelius
Johan has declared his friendship for you and you in turn have declared that you accept it as such, and that you reciprocate his friendship. His empathetic concern for you seems genuine. His advice to you is sound. Take heed of it . It will definitely improve your image tremendously on this forum and gain you new friends.
My words above are not intended in any bitchy manner whatsoever, only that I want to say "hear! hear:" to what Johan recommends.
Greetings
Aunty Schwartz