Die Akademie se oomblik van waarheid: Wie besluit wat Afrikaanse poësie is?

  • 12

Daar is min dinge wat Afrikaanse letterkunde so vinnig aan die brand steek soos die toekenning van ’n prys. Maar vanjaar se kortlys vir die Hertzogprys vir poësie het iets anders ontbloot: nie net meningsverskil nie, maar ’n groeiende wantroue in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns self.

Die onmiddellike vonk in die kruitvat was die weglating van Danie Marais se gewilde bundel Ek en jy bestaan nie uit vanjaar se Hertzogprys-toekennings.

’n Facebook-inskrywing deur die bekroonde filmvervaardiger van dokumentêre reekse, Niel van Deventer, oor die weglating van Marais se bundel het sosiale media laat gons.

“Die weglating van Danie se naam was vir my die vonk,” sê Van Deventer. “Daar was ’n duidelike verwagting dat dit sy jaar kon wees – die bundel is wyd geprys en selfs as grensverskuiwend beskryf.”

Van Deventer, wat self ook ’n digter is, word uit sekere oorde daarvan beskuldig dat hy net bitter is omdat hy ’n groot aanhanger van Marais se werk is.

Oor dié beskuldiging sê hy: “Ja, sekerlik – maar ek het ook ’n probleem met wat vir my onregverdig voel. Hierdie situasie ruik van die begin af na faktore wat swaarder weeg as blote literêre meriete. Ek sê steeds nie dat Danie noodwendig die Hertzogprys moes wen nie (al sou hy ’n baie waardige ontvanger wees), maar dat hy nie eers die kortlys gehaal het nie, is moeilik om te regverdig.”

Nog iets wat die debat aanwakker, is die persepsie – reg of verkeerd – van ’n geslote kring. Wanneer dieselfde name, dieselfde uitgewers en dieselfde estetiese voorkeure jaar na jaar opduik, begin die vraag opklink of die sisteem werklik oop is vir verrassing en vernuwing.

Teen hierdie agtergrond het Jaco Barnard-Naudé, vanjaar se wenner van die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel om my kastele in Spanje te sloop, besluit om hom aan die kortlys vir die Eugène Marais-prys te onttrek. Hy sê hy kan hom nie eties en polities vereenselwig met die demografiese verskille tussen die nominasies vir hierdie prys en dié vir die Hertzogprys nie. Volgens hom word “bruin” en “queer” digters “wat die Eugène Marais se nominasies domineer” dikwels implisiet in ’n sekere rol geplaas, terwyl die Hertzogprys steeds oorwegend deur wit, heteroseksuele stemme oorheers word.

“Dit is absoluut géén argument om aan te voer dat, omdat jy in die verlede genomineer is vir die Eugène Marais-prys, of dit gewen het, jy as ’n saak van verstek dán genomineer moet word vir die Hertzogprys nie. Daar is geen reglement in die openbare dokumente van die Akademiepryse wat dít bepaal nie,” sê Barnard-Naudé, ’n professor in die Regsfakulteit aan die Universiteit van Kaapstad.

Die voorsitter van die Letterkundekommissie, Thys Human, het op navraag bevestig dat Marais se bundel wel deur die uitgewer voorgelê is en dus volledig oorweeg is. Volgens die Akademie word alle inskrywings aan elke lid van die kommissie versprei, terwyl ’n sogenaamde verkennerleser ’n omvattende verslag oor elke bundel opstel. Hierdie verslae word gesamentlik bespreek voordat ’n kortlys gefinaliseer word.

Volgens die Akademie se hoof- uitvoerende beampte, Annelise de Vries, geskied keuring streng volgens die reglement van elke prys en word ’n “goedgekeurde, etiese en korrekte proses” deurgaans gevolg. Besluite word gesamentlik geneem deur die Letterkundekommissie, met ’n meerderheidstem wat geld.

Dit is opvallend dat van die skerpste kritiek nie van buite die literêre wêreld kom nie, maar uit poësiekringe self. Sjaka S Septembir se “Die Evangelie van Literêre Witskuld” op Versindaba ontbloot met satire die rituele en soms performatiewe aard van skuld binne die Afrikaanse literêre kultuur.

Teen hierdie agtergrond skuif die debat van ’n verskil oor smaak na iets diepers: ’n vraag oor erkenning, oor wie gesien en gehoor word, en wie uiteindelik bekroon word. Die grootste debatspunt is dus nie net wie op die lys is nie, maar wie nie daarop is nie – en wat daardie afwesigheid moontlik beteken.

Die uitsluiting van Danie Marais se Ek en jy bestaan nie word deur baie as meer as net ’n vergissing beskou. Vir sommige is dit ’n simptoom van ’n instelling wat eerder bevestig as uitdaag – wat kureer eerder as ontdek. Dit is nie ’n bundel wat ongemerk verbygegaan het nie – dit het gesprek ontlok, gehore bereik en selfs ’n tweede lewe op die verhoog gekry. Dit het, eenvoudig gestel, mense geraak.

En tog tel dit blykbaar nie genoeg nie, wat ’n ongemaklike vraag laat ontstaan: Wat tel as “meriete” – en wie het die gesag om dit te bepaal?

“Ek beskou dit as ’n absolute skending van letterkundige integriteit dat Danie Marais se Ek en jy bestaan nie nié vir die Hertzogprys vir poësie genomineer is nie,” sê Barnard-Naudé.

“Ek en Danie sit nouliks langs dieselfde vuur. Maar daar is objektiewe faktore wat daarop dui dat sy bundel een van die topverkopers en top-bekroondes is. Dit het die inhuldigende Breyten Breytenbach-prys gewen – vir wat méér kan die Akademie vra?”

Verdedigers van die Akademie sal daarop wys dat literêre pryse nie gewildheidskompetisies is nie. Meriete kan nie gemeet word aan verkope of applous nie. Maar dié argument begin hol klink wanneer die kloof tussen die Akademie se keuses en die literêre werklikheid buite sy mure te groot word.

Volgens Barnard-Naudé is die huidige literêre klimaat “melankolies, benepe in extremis”. Die Akademie sal dit ontken, maar persepsie is in hierdie geval byna net so belangrik soos werklikheid.

Daar is ook meer gematigde reaksies. Daniël Hugo, wie se digbundel Kategismus vir die Hertzogprys ingeskryf is, sê enige kritiek van sy kant kan maklik as “suur druiwe” geïnterpreteer word omdat hy nie die kortlys gehaal het nie. “Ek vind dit wel bedenklik dat ’n genomineerde (Joan Hambidge) teen ’n niegenomineerde (Danie Marais) teen mekaar afgespeel word in die openbare debat.

Natuurlik is dit nie die eerste keer dat die Hertzogprys omstrede is nie. Groot name in die Afrikaanse letterkunde is al voorheen misgekyk. Maar elke nuwe polemiek bring die onderliggende spanninge weer na die oppervlak.

Ek en jy bestaan nie het nie net kritiese aandag getrek nie, maar ook ’n wyer gehoor bereik – onder meer deur die verhoogverwerking Ek is nie Danie, wat by die Woordfees en die KKNK groot belangstelling gelok het.

Vir baie lesers en kommentators is die vraag eenvoudig: Hoe kan ’n bundel met soveel trefkrag nie eens die kortlys haal nie?

Die argument is nie noodwendig dat die genomineerde bundels swak is nie, maar dat die seleksie ’n bepaalde soort poësie bevoordeel: tegnies verfyn, maar minder riskant of ontwrigtend.

In hierdie lees van die situasie word Marais se uitsluiting simbolies van ’n groter probleem: dat die mees lewende en impakvolle Afrikaanse literatuur dikwels buite die institusionele raamwerk plaasvind.

Daarby kom ’n groeiende skeptisisme oor die relevansie van literêre pryse self. Sommige kommentators meen die werklike “lewe” van poësie speel eerder op verhoogplatforms, feeste en sosiale media af.

Wat hierdie polemiek besonders maak, is dat dit nie bloot oor een digter of een prys gaan nie. Dit raak aan fundamentele vrae oor die aard van Afrikaanse letterkunde: Moet pryse die kanon bevestig of uitdaag? Hoe word impak gemeet? Is die Akademie steeds ’n relevante arbiter van literêre waarde?

Hierdie vrae is nie nuut nie, maar elke nuwe kontroversie dwing die literêre gemeenskap om dit opnuut te stel.

Die huidige debat bied uiteindelik ’n geleentheid eerder as net ’n krisis. Indien die Akademie bereid is om openlik oor sy prosesse en kriteria te kommunikeer, kan dit tot groter begrip en vertroue bydra. Net so kan kritici baat vind by meer sistematiese en beredeneerde ontleding van die werke ter sprake.

Wat wel duidelik is, is dat Afrikaanse poësie nie dood is nie – inteendeel. Die intensiteit van die reaksie op hierdie kortlys dui op ’n lewende, betrokke en soms strydlustige literêre gemeenskap.

In 2026 gaan dit nie net oor estetika nie, maar oor legitimiteit: of die Akademie steeds as ’n geloofwaardige arbiter van literêre waarde gesien word – veral deur ’n jonger, meer diverse en meer kritiese gemeenskap.

Die Akademie staan voor ’n keuse: om hierdie debat as ’n verbygaande storm af te maak, of dit ernstig op te neem as ’n teken dat iets besig is om in die Afrikaanse literêre ekosisteem te skuif.

Want uiteindelik gaan dit nie oor een bundel nie, maar oor iets veel groter: Wie het die gesag om te sê wat saak maak – en wie luister nog?

  • Lede van die Letterkundekommissie. In 2026 is dit Thys Human (NWU), Marius Crous (NMU), Sonja Loots (UK), Amanda Lourens (US), Marni Bonthuys (UWK), Neil van Heerden (Unisa), Teneal Apollis (UP) en Valda Jansen (voorheen verbonde aan UWK). Tot dusver is daar nog nie op ’n wenner besluit nie. Op 21 April vergader die Letterkundekommissie, en wenners van die onderskeie pryse word na die Akademieraad aanbeveel. Die Akademieraad vergader op 22–23 April, waartydens die Letterkundekommissie se aanbevelings in persoon aan die Akademieraadslede oorgedra word. Die Akademieraadslede bekragtig die aanbevelings mits daar ’n kworum is. Daarna word die wenner telefonies (of per e-pos ) gekontak, waarna ’n mediaverklaring uitgereik word om die wenners aan te kondig.

 

  • 12

Kommentaar

  • Petra Pienaar-Nel

    Dis vir my net so 'n skande dat Riku Lätti se Taboek nie eers vir die Eugene Marais-prys benoem is nie.

  • Riana Scheepers

    Die literatuursisteem kan net baat by hierdie gesprek. Elke polemiek blaas 'n bietjie vars lug vanuit verskillende vensters 'n benoude vertrek binne. Maar ek het wel simpatie met elke digter wat hierby betrek word.

  • Theresa Papenfus

    Gesprek soos hierdie maak saak. Dit geld wyer as Afrikaanse pryse. Dieselfde soort vrae is al oor die Booker- en selfs die Nobelprys vir Letterkunde geopper. Die weglating van name wat vir baie voor die hand liggende kandidate is, is dikwels groter nuus as die wenners.

  • Sjaka Septembir

    Dit is goed om te sien dat die kritiek van binne die kring self kom. Dit dui op ’n literêre veld wat besig is om met homself in gesprek te tree. Ek is ook bly om as deel van daardie gesprek gesien te word.
    Die Facebook-storms in teekoppies is dalk juis ’n teken van ’n lewende sisteem—maar moontlik een wat nog nie heeltemal met sy eie onderbewuste praat nie.
    My satiriese gedig was minder ’n aanval as ’n poging om die rituele van skuld sigbaar te maak—veral waar dit begin funksioneer as iets wat vertoon word, eerder as iets wat geïntegreer word.
    Die gevaar is nie die gesprek self nie, maar wanneer dit uit balans raak: wanneer die skadu nie saamgenooi word nie. Dan skuif dit maklik van dialoog na verkondiging, en verloor dit die grond waarop betekenis werklik kan ontstaan.

  • Terwyl ek die artikel lees, laat die weemoed my wonder hoe mens uitsluitsel tussen so baie oorwegings kon kry. En reeds toe doem die naam J M Coetzee by my op. En toe ek by die volgende sin in bostaande artikel kom: "Want uiteindelik gaan dit nie oor een bundel nie, maar oor iets veel groter: Wie het die gesag om te sê wat saak maak – en wie luister nog?", laat dit my om daardie gewaarwording hier te deel.
    Wie kon meer geskik wees as Coetzee, wat hom met presies hierdie soort kwessies met onderskeiding bemoei het in sy akademiese letterkunde loopbaan, sy talle opstelle en gesprekke wat sulke oorwegings aansny en sy antenna om die valkuile met sulke kwessies te bespeur? As mens net so 'n arbiter of raadgewer kon inspan terwyl hy nog met ons is.
    Boonop het hy 'n besonderse aanvoeling vir die broosheid van die letterkunde van die Globale Suide in vergelyking met die Globale Noorde en sou met gepaste sorg raad kon gee, al kon dit sy kenmerkende soberende kommentaar insluit. Daar is gesag vir jou, maar Coetzee sal waarskynlik frons oor die woord gesag.

  • Die Hertzogprys wat steeds oorwegend deur wit, heteroseksuele stemme oorheers word - Barnard-Naudé. Nou ja toe, nè. Kyk weer.

  • André Durandt

    Dankie Jean.

    Ek het nie meer Facebook nie, en sou dus eers weer my profiel moes aktiveer sodat ek almal se plasings kon lees om sodoende op hoogte te kom.

    Ek hou van Danie Marais, al sy bundels pryk op my boekrak en sy skryfwerk resoneer met my eie lewe as 'n jongerige Afrikaanse pa wat 'n dogter in die voorstede grootmaak. Ek wroeg dikwels saam met hom oor my plek in die wêreld en spesifiek my plek in Suid-Afrika. Ons deel 'n liefde vir Bruce Springsteen se musiek. Ek is geen literator nie, maar het onder professore Thys Human en Willie Burger studeer, so ek is op die oppervlak vertroud met die gereedskap wat die groot vakmanne inspan.

    Dis vir my interessant dat jy skryf dat dit in 2026 nie oor estetika gaan nie, maar oor legitimiteit. Jy sinspeel daarop dat verkoopsyfers en verwerking van 'n teks tot ander media soos 'n verhoogstuk, groter legitimiteit aan 'n teks gee, aan dat dit 'n groter gewig moet dra as die literêre meriete. Ek verskil skerp van jou op daardie punt.

    Ek het vrede daarmee of die vers in 'n meer kontemporêre praatstyl gedig word, en of die digter verkies om meer gedissiplineerd by bepaalde reëls van metrum en rym te hou nie. Vir my lê die geslaagdheid (al dan nie) van 'n gedig in die digter se vermoë om met beelde en klank te goël. Wyle PG du Plessis was ook gefrustreerd oor te veel kontemporêre gedigte wat aan hierdie twee eienskappe tekort skiet. "Waar is die musiek?" het hy gevra, maar darem bygevoeg dat hy baie beïndruk was deur Loftus Marais.

    Literêre pryse is onvermydelik onderworpe aan die subjektiewe oordeel van 'n keurpaneel, maar indien dit by wyse van 'n openbare meningspeiling beoordeel is, speel die publiek se subjektiewe oordeel ook maar 'n rol. Daar is geen volledig objektiewe maatstaf waaraan die literêre meriete van 'n teks relatief tot 'n ander teks beoordeel kan word nie.

    Deur egter aan te voer dat, by die toekenning van die Hertzogprys, die paneel die heersende openbare smaak teen die estetika moet opweeg, en dat die gewildheid of openbare trefkrag van die werk uiteindelik die deurslaggewende faktor moet wees, word die prys afgewater. Daar is altyd 'n gevoel dat literêre pryse help skep aan die kanon van die toekoms, en dat nuwe tendense in die poësie dus met omsigtigheid beoordeel moet word. Daar lê ook altyd die gevaar dat vandag se beoordelaars hulself aan die verkeerde kant van die geskiedenis kan bevind, soos Van Wyk Louw se vroeë nee-sêers EC Pienaar en FEJ Malherbe. Maar daarvoor dien die Hertzogprys se keurpaneel, wat volgens my eie telling uit drie blanke mans, drie blanke vroue en twee bruin vroue bestaan. Effens #HertzogSoWit, maar vir my heel verteenwoordigend van die Afrikaanse lesersgemeenskap.

    Laastens: mag die Hertzogprys nooit sy rol as hekwagter versaak nie. Dit was en bly die hoogste literêre toekenning in Afrikaans en speel 'n groot rol in toekomstige kanonvorming. Persoonlik wil ek graag hê dat die kanon van môre steeds in die geselskap van die grotes kan staan wat ons reeds verby is, eerder as om slegs 'n weerspieëling van ons eie tydsgees te wees.

    Daarom ondersteun ek die lede van die Letterkundekommissie.

  • Hennie Nortjé

    André, ek kan my absoluut met meeste van jou standpunte vereenselwig, maar indien die Akademie werklik dan na towenaars van klank en beeld sou soek vir hulle gesogte kortlys, waar is Daniel Hugo se Kategismus dan?

  • André Durandt

    Hennie, dis vir my 'n raaisel waarom Daniel Hugo afwesig is onder die genomineerdes. My eie vermoede is dat sy digwerk by iets aansluit wat in die Lae Lande dikwels (billik of onbillik) as 'kleinkuns' gekenmerk word: met ander woorde, die werk van 'n meester wat op 'n kleiner doek skilder. Geen 'Groot ode' of 'Die hond van God' vir hom nie: hy is uitnemend in die kwatryn en die sonnet, en dit is die digvorme waarin hy verkies om homself uit te druk.

  • Jacobus Swart

    Daar is vir my altyd iets van Vilhelm Hammershoi in Daniel Hugo se werk;
    digter van die "L'heure Exquise".

  • André Durandt

    Jacobus, praat ons van nou Vilhelm die Deense skilder, en L'heure Exquise - die Franse lied (liriekskrywer: Paul Verlaine)?

    Of toets jy net ons oplettendheid? 🙂

  • Jacobus Swart

    Dankie vir jou kommentaar, André.
    Ja, die sintaksis. Dit was nie my bedoeling om te prul nie.
    Die twee verwysings 1) na Vilhelm Hammershoi en 2) "L'heure exquise", Paul Verlaine se gedig en Reynaldo Hahn se beroemde toonsetting, is bloot kunsgrepe om die atmosfeer van Daniel Hugo se oeuvre gedeeltelik toe te lig.
    Jy besit betroubare speursin en intuïsie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top