Die AHi gee prakties gestalte aan die noodkreet om ekonomiese vryheid!

  • 0

My aanstelling met ingang 1 Januarie 2012 as uitvoerende hoof van die AHi te midde van wêreldwye en plaaslike ekonomiese en politieke ontwikkelinge het ’n nuwe tydvak vir my as persoon en ook vir die AHi ingelui.

Internasionaal staan wêreldleiers bont om die Europese skuldkrisis onder beheer te bring en te verhoed dat dit tot die inploffing van die Griekse ekonomie en ander Europese lande se ekonomieë sal lei. Die voortslepende konflik in lande soos Sirië, Somalië en Soedan en tussen Westerse moondhede en Iran oor sy kernprogram het verhogings in oliepryse tot gevolg gehad. Erge droogtes het ook tot verlaagde produksie in graanproduserende gebiede soos Europa, Noord-Amerika en Rusland gelei. Produksie in die Chinese vervaardigingsektor het ook afgeneem. Hierdie gebeure dra by tot prysstygings en plaas die handelsektor onder druk.

Plaaslik worstel Suid-Afrika met sy eie stel ekonomiese uitdagings. Allerlei uitsprake wat betref die begrip “ekonomiese vryheid” word gemaak en dit is deurtrek van emosie. Konflik tussen verskillende magsbasisse in die geledere van werkersunies loop dikwels uit op onwettige stakings, geweld en politiekery. Die Marikana-tragedie het die aandag opnuut gefokus op die delikate sosio-ekonomiese en politieke dinamika waarin Suid-Afrika vasgevang is.

Die roekeloosheid, gewelddadigheid, kriminaliteit, onbesonne politieke uitsprake en uitbuiting van emosies waarmee dit gepaardgaan, is egter nie bevorderlik vir beleggersvertroue, ekonomiese groei, mededingendheid, produktiwiteit, werkskepping en maatskaplike stabiliteit nie. Dit het reeds ’n verskraling in die vooruitsig vir ’n ekonomiese groeikoers in die omgewing van 3% en die afplatting in internasionale beleggings in Suid-Afrika tot gevolg gehad. Volgens die tesourie het die goud- en platinummyne reeds R10,1 miljard in inkomste verloor. Ongeveer R4,1 miljard aan belastinginkomste en R12,5 miljard in inkomste uit uitvoere is ook daarmee heen. Om nie eens te praat van die 38 500 werksgeleenthede wat verlore is nie, die verlies aan inkomste van werkers en die stryd om oorlewing wat daarmee gepaardgaan. Dis allesbehalwe ekonomiese vryheid!

Dié stand van sake noop alle rolspelers op die ekonomiese en politieke terrein tot nugterdenkendheid en ’n meer pragmatiese benadering wat betref die stel van eise, onderhandelinge, wetgewing en veral dienslewering op plaaslike vlak. Kortweg vra dit sterk en bevoegde leierskap weg van seksionele politieke belange, maar wat die belange en ontwikkeling van Suid-Afrika en al sy mense vooropstel.

Wat dít betref, skiet Suid-Afrika glad nie tekort nie. Die onlangse prestasies deur ons atlete tydens die Olimpiese Spele en die Paralimpiese spele in Londen getuig van sulke leierskap. Ons medaljewenners streef ’n visie van persoonlike sukses en nasietrots na en is rolmodelle vir alle Suid-Afrikaners.

Hierdie toegewyde en proaktiewe leierskap is ook op ekonomiese en ander terreine aanwesig. Onlangs het Ford SA aangekondig dat hulle 800 permanente werksgeleenthede gaan skep om te help om in die vraag na hul nuwe Ranger-bakkie te voorsien. Die maatskaplike en ekonomiese impak van die miljarde rande wat in die Square Kilometre Array- (SKA-) projek naby Carnarvon in die Karoo belê sal word, sal wetenskaplikes uit Suid-Afrika en die res van dié vasteland ongeëwenaarde toegang tot die voorste tegnologie bied. Daar is ook die geleentheid om met die wêreld se vooraanstaande universiteite saam te werk. In die proses sal die land se hoëvlak-vaardighede en tegnologiese infrastruktuur ’n sterk hupstoot kry.

Die ontwikkelingsplan van die Nasionale Beplanningskommissie (NBK) wat onder leiding van minister Trevor Manuel saamgestel en onlangs bekendgestel is, beklemtoon deurgaans die belangrike rol van leierskap. Daarsonder sal die posisionering van Suid-Afrika as ’n gerekende land in die wêreld en vordering op die gebiede van die ekonomie, onderwys, landelike ontwikkeling, gesondheid, beveiliging, dienslewering, infrastruktuurontwikkeling, sosiale kohesie en bevegting van korrupsie net ydele drome bly.

Die realisering van die ontwikkelingsplan vra dus politieke wil en visioenêre leierskap wat nie sal skroom om ingrypende hervorming in die staatsdiens en semistaatsinstellings teweeg te bring nie. Dis egter nie al nie. Dit vra ook aktiewe deelname van elke Suid-Afrikaanse burgerlike organisasie en individuele burger.

In dié verband het die AHi as organisasie hom verbind tot plaaslike ekonomiese ontwikkeling, ekonomiese groei, welvaart- en werkskepping, ontwikkeling van ’n nuwe geslag entrepreneurs, die ekonomiese bemagtiging van landelike gemeenskappe, ondersteuning van plaaslike munisipaliteite en die uitbou van ons sakekamernetwerk op ’n inklusiewe, professionele en volhoubare wyse.

En wat ’n voorreg is dit nie om die passie en toewyding vir die NBK se ontwikkelingsplan vanuit die geledere van die direksie, bestuur, provinsiale raad, voorsittersforum, sakekamerbesture en SA Raad van Sakevroue die afgelope jaar te kon meemaak nie. Die geesdrif en welwillendheid om Suid-Afrika en al sy burgers suksesvol te maak is inderdaad aansteeklik.

Die AHi se bydrae tot die NBK se plan is dus ’n opregte poging om vanuit ’n besigheidshoek die ideale daarin vervat te help verwesenlik. Die verpraktisering geskied deur vier kernfokusse van die AHi:

  • Die vestiging van volhoubare, responsiewe en professionele sakekamers. 30 sakekamers is die afgelope jaar gevestig en heraktiveer.
  • Die voorsiening van gehalte- en bekostigbare sakedienste aan lede om hulle belange te beskerm, hulle te bemagtig en jaarliks erkenning aan presterende sakelui en sakekamers te gee. Die MS Louw-toekenning, die hoogste eerbewys van die AHi wat elke jaar toegeken word aan ’n senior sakepersoon op topvlak wat ’n uitsonderlike bydrae tot die Suid-Afrikaanse sakeomgewing gelewer het, is vanjaar aan Louis von Zeuner, adjunk uitvoerende hoof van Absa, tgemaak.
  • Die bemiddeling van gunstige, instaatstellende en bemagtigende sakebeleid wat meehelp om ’n instaatstellende omgewing, waarbinne besigheid kan gedy deur middel van onderhandelinge binne NEDLAC en met die regering, te help verseker.
  • Die inisiëring van plaaslike ekonomiese-ontwikkelingsinisiatiewe wat die ontwikkeling en bevordering van entrepreneurskap behels en wat samewerking op sakegebied met munisipaliteite en ander rolspelers bevorder.

Bogenoemde fokusse gee ook konkreet gestalte aan die visie van die AHi wat lui: “Saam skep ons volhoubare welvaart.” Hierdie ideaal verwoord die AHi en sy lede se strewe na ’n geïntegreerde en vry samelewing wat ingestel is op die lewenslange bemagtiging van elke landsburger met kennis, vaardighede en waardes. So word hulle geïnspireer om eienaarskap te neem van hul eie toekoms en om sinvol by te dra tot die skep van volhoubare welvaart vir die land en sy mense.

Suid-Afrika is egter nog nie by die punt waar ons bevestigend kan praat van ’n Suid-Afrikaanse samelewing wat saam volhoubare welvaart skep nie. Hierdie ideaal kan verwesenlik word as die AHi sakelui byeenbring en hulle verenig.

Dit is dus die AHi se missie om sakelui en ander rolspelers in die sakeomgewing te verenig deur hulle by sakekamers te betrek. So word sakelui blootgestel aan mekaar, vind wedersydse uitruiling en oordrag van kennis en vaardighede plaas, en word daar oor kultuur- en etniese grense heen kontak gemaak.

Vêrder lê dit die grondslag vir vennootskappe en sinvolle en konstruktiewe wisselwerking tussen sakelui, regering, arbeid, gemeenskappe, entiteite soos munisipaliteite, opvoedkundige instellings en ander verbandhoudende instellings.

Sinvolle en konstruktiewe wisselwerking het die afgelope jaar op groot skaal plaasgevind en ek lig een van die hoogtepunte van die jaar uit: ons besoek aan Ceres en die jeugentrepreneursontwikkelingsprojek wat in samewerking met die Witzenberg-munisipaliteit en die Ceres Besigheidsinisiatief van stapel gestuur is. Sien foto aangeheg.

Op 6 November 2012 is meer as 40 jeugentrepreneurs deur die AHi vertroud gemaak met besigheidsbeginsels en verwante konsepte. Die jeug is geleer dat daar nie ’n kortpad tot sukses is nie, maar dat dit harde werk, selfdissipline, kreatiwiteit en deeglike beplanning verg. Van die jong mense het reeds hul eie besighede, soos haarsalonne, kleremakery, spyseniering en herstelwerk, begin; ander droom nog.

Die belangrikheid van mededingendheid, goeie finansiële bestuur, effektiewe bemarking, gehaltediens en netheid is deurgaans beklemtoon. ’n Handboekie waarin die konsepte op ’n eenvoudige manier uiteengesit word, is ook aan die deelnemers verskaf.

Dankie dus aan die meer as 80 sakekamers dwarsoor die land, ons meer as 20 000 kleinsakelede en korporatiewe lede en alle ander wat ’n belang het by die AHi wat gehoor gegee het aan die wekroep om ekonomiese vryheid en ’n proses aan die gang help kry het wat op organisering, samewerking, netwerking, bemagtiging, eienaarskap, mededingendheid, volhoubaarheid en groei fokus.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top