Die AHI as ekonomiese spreekbuis

  • 0

Die wêreld staar vandag vele ekonomiese probleme in die gesig en Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Hierdie probleme kan egter oorkom word, mits ons anders daaroor begin dink. Te dikwels probeer ons oplossings vanuit ons bestaande denkraamwerk vind en val dan vas in konflik. Ook lei ons onvermoë om ’n saak vanuit ’n ander perspektief te sien daartoe dat ons ook nie die geleenthede raaksien wat daarin opgesluit lê nie.

Alle rolspelers in die Suid-Afrikaanse ekonomie moet dus nuut begin dink oor die ekonomiese uitdagings wat ons in die gesig staar. Einstein was dit eens met hierdie standpunt en het dit soos volg gestel: “We cannot solve our problems with the same thinking we used when we created them.”1Ou denke help ons dus nie om antwoorde vir ons probleme te vind nie. Daarteenoor lê nuwe denke die basis vir vars idees, stimuleer dit ons kreatiwiteit en help dit ons om nuwe geleenthede te identifiseer.

In dié verband het die AHI ’n sleutelrol oor jare heen gespeel en is dit ook die rol wat die AHI in die huidige tydvak met die klem op die bou van ’n inklusiewe en regverdige ekonomiese bestel vir ons land speel. Hiervoor is die AHI gerat, want dis  immers ’n idees-organisasie wat oor enorme ervaring en kundigheid beskik en wat reeds op vele terreine van die Suid-Afrikaanse ekonomie ’n konstruktiewe bydrae lewer.2

So is daar verskeie inisiatiewe wat verband hou met plaaslike ekonomiese ontwikkeling en munisipale en maatskaplike steun wat deur die onderskeie provinsiale sakekamers van stapel gestuur word. Praktiese voorbeeld behels:3

  • die herposisionering van AHI-sakekamers as ekonomiese dinkskrums van plaaslike dorpe
  • die verlening van bystand aan opkomende entrepreneurs in plattelandse gebiede
  • die AHI se nasionale jeugentrepreneursprojek
  • die samewerking met provinsiale regerings wat die ontwikkeling van toerisme, die bekamping van misdaad en korrupsie en die herstel en instandhouding van infrastruktuur ten doel het
  • die betrokkenheid by ekonomiese projekte in samewerking met die Duitse Tegniese Hulpverlenings- en Ontwikkelingsagentskap , Idasa, NEDLAC en BUSA.

Hierdie inisiatiewe wat deur AHI nasionaal en die onderskeie provinsiale sakekamers van stapel gestuur word, is inderdaad prysenswaardig en bied ’n stewige platform vir intensiewe betrokkenheid by nasionale ekonomiese aksies soos Die Nuwe Groeibaan Projek (The New Growth Path) wat tans deur die nasionale regering van stapel gestuur word.

Dit het ten doel die identifisering van ekonomiese terreine wat werkskepping op groot skaal kan fasiliteer, om Suid-Afrika se maatskaplike ongelykhede reg te stel en  om ekonomiese mededingendheid te verseker. Ander doelwitte sluit in die skep van gunstige toestande vir plaaslike investering en volhoubare indiensneming en die fasilitering van sinvolle gesprekke wat verband hou met ekonomiese groei en werkskepping tussen alle partye wat ’n belang het by die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Die Nuwe Groeibaan Projek bied dus vir die AHI ’n wonderlike geleentheid om saam met alle ander belanghebbendes koppe bymekaar te sit en nuut te dink oor hoe Suid-Afrika sy makro- en mikro-ekonomiese doelwitte kan verwesenlik. Want nié net is dit vir die regering belangrik dat die Nuwe Groeibaan Projek gedryf word deur middel van dinamiese, verbeeldingryke en effektiewe strategieë nie, maar die regering sien dit ook as ’n spanboupoging waarby alle ekonomiese belanghebbendes betrek word en van rekenskap moet gee. Hierdie ideaal word soos volg in die Nuwe Groeibaan Projek se strategiese dokument verwoord:

The shift to a new growth path will require the creative and collective efforts of all sections of South African society. It will require leadership and strong governance. It takes account of the new opportunities that are available to us, the strengths we have and the constraints we face. We will have to develop a collective national will and embark on joint action to change the character of the South African economy and ensure that the benefits are shared more equitably by all our people, particularly the poor.4 

Spanwerk en wedersydse begrip is dus vir die regering die sleutel tot die suksesvolle bereiking van ekonomiese doelwitte. Daarom kan die AHI nie anders as om sy gewig by die Nuwe Groeibaan Projek in te gooi nie en om elke provinsiale sakekamer en hul lede aan te moedig om saam met opkomende sakelui volhoubare en winsgewende ekonomiese geleenthede te identifiseer wat tot werkskepping kan lei en wat spesifiek daarop gemik is om eienaarskap na veral opkomende sakelui uit te brei.

Die uitbreiding van eienaarskap gaan egter hand aan hand met die vergroting van die spreekwoordelike ekonomiese “koek”. Laasgenoemde is uiters belangrik om enersyds die nalatenskap van apartheid te oorkom, maar om andersyds die groeiende frustrasies veral in die geledere van voorheen benadeelde gemeenskappe by te lê. Dis veral arm en werklose jeugdiges wat toenemend in ’n maalkolk van wanhoop en uitsigloosheid vasgevang word en indien ons nie daarin gaan slaag om hulle konstruktief te betrek by die ekonomie nie, gaan hulle hul wend tot misdaad en selfs in opstand kom.

Die vergroting van die ekonomiese koek is dus van kardinale belang en is wel moontlik, mits die onderbou daarvan die volgende bestanddele bevat. Dit behels oorlegpleging met kundiges om die jeug se kreatiwiteit te tap en hulle sinvol te betrek by ekonomiese bemagtigingsprogramme, skakeling met ekonomiese belanghebbendes soos georganiseerde handel en arbeid, netwerking met suksesvolle sakelui ten einde sinvolle vennootskapsvorming met voorheen benadeelde sakelui te fasiliteer en die skep van gunstige toestande waarin entrepreneursvernuf  gedy.

Laasgenoemde is die suurdeeg wat verhoed dat die ekonomiese koek platval. In dié verband het die Suid-Afrikaanse regering ’n enorme verantwoordelikheid ten einde ’n instaatstellende omgewing daar te stel waarin entrepreneurskap optimaal kan funksioneer. En dit is van kritieke belang.

In ’n verslag van die gesaghebbende Globale Entrepreneurs Monitor (GEM) van 2011, waarin lande se entrepreneursaktiwiteite wetenskaplik gemeet word om die koers van toetrede en sukses en profiel van entrepreneurs te bepaal, word Suid-Afrika 27ste uit ’n totaal van 59 lande gelys. Ons gemiddelde persentasie van entrepreneursaktiwiteite beloop 8,9%, teenoor die gemiddelde persentasie van 11,9%. Lande soos Argentinië, Chili, Brasilië en Peru presteer twee tot drie keer beter as Suid-Afrika.5

Die Suid-Afrikaanse regering moet dus uiters bedag wees op faktore wat entrepreneurskap ontmoedig, ekonomiese groei aan bande lê en werkskepping kompromitteer.

Hierdie faktore sluit in: gebrekkige steun aan voornemende entrepreneurs deur regeringsinstansies wat getaak word om entrepreneurs te ondersteun; swak onderwys; gebrek aan visie en vakkundiges by skole om leerders leiding te gee oor entrepreneurskap; ongunstige en irrasionele ekonomiese beleidsuitsprake; allerlei burokratiese rondslomp en maatreëls wat voornemende entrepreneurs ontmoedig6; disfunksionele munisipale eenhede wat entrepreneurskap op grondvlak moet aanmoedig; gebrek aan selfvertroue en vrees vir mislukking by Suid-Afrikaners in die algemeen.

In dié verband het besigheidsorganisasies soos die AHI en andere egter ’n mentor- en geleentheidskeppende rol te vervul. Bykomend het dit ook ’n belangrike waghondfunksie te vervul en moet dit nie skroom om by wyse van kritiese solidariteit die regering tot verantwoording te roep as laasgenoemde entrepreneurskap op een of ander wyse aan bande lê nie. Dis immers in die regering en die land se belang dat ons nie die integriteit van ons ekonomiese strategieë op die spel plaas en in die proses plaaslike entrepreneurs ontmoedig en internasionale beleggers vervreem nie.  

Verder is die AHI ook van mening dat die kultuur van entrepreneurskap wat in die Nuwe Groeibaan Plan van die regering vooropgestel word, nie sonder finansiering en vennootskappe sal gedy nie. Dit sal in effek net ’n pypdroom bly wat gevolglik tot groter werkloosheid, verarming, misdaad en selfs burgerlike opstand sal lei. Laasgenoemde moet ons ten alle koste vermy. En dis moontlik, mits die AHI en elke ander sakeorganisasie doelgerig saam met die regering werk om die makro- en mikro-ekonomiese pakkette soos uiteengesit in die Nuwe Groeibaan Plan strategiese dokument ’n werklikheid te maak.

Die makro-ekonomiese pakket behels onder andere: ’n meer buigbare monetêre beleid ten einde inflasie te stabiliseer en onder beheer te hou; die skep van gunstige toestande vir direkte buitelandse investering; die mobilisering van hulpbronne om die ekonomiese prioriteite soos uiteengesit in die Nuwe Groeibaan te finansier; maatreëls om diefstal en vermorsing van staatsgeld uit te skakel en salarisverhogings van staatsdienspersoneel onder bedwang te hou ten einde meer geld beskikbaar te hê vir noodsaaklike ontwikkelingsprogramme.

Die mikro-ekonomiese pakket behels onder andere tien programme.7 Die eerste program stel ten doel ’n Aktiewe Industrie Beleid, ook bekend as die Industriële Beleid Aksie Plan (IPAP2) wat die ontwikkeling van bepaalde ekonomiese aktiwiteite en uitsette deur middel van die vervaardigings-, die kennisintensiewe en verwante sektore  in die vooruitsig stel. Van die aktiwiteite behels die skep van infrastruktuur en opleiding van ingenieurs en vakmanne om onderdele vir die motorbedryf te vervaardig.  

Die tweede program stel ten doel ’n Landelike Ontwikkelingsbeleid wat sal fokus op die voorsiening van behuising en sosiale dienste in landelike gebiede met ’n groot agterstand in die verband en hulpverlening aan kleinboere om hul produkte deel te maak van die kommersiële waardeketting.

Die derde program stel ten doel ’n Mededingingsbeleid om prysvasstelling deur maatskappye in die kiem te smoor, maar om terselfdertyd ruimte te laat vir samewerking tussen produsente wat daarop toegespits is om werkskepping en ’n stewiger vastrapplek in die uitvoermarkte te bewerkstellig.

Die vierde program stel ten doel verbetering in die Onderwys  en Vaardigheidsontwikkeling. Gehalte-onderwys lê die basis vir verdere akademiese prestasie, terwyl gefokuste vaardigheidsopleiding  die tekort aan ingenieurs, tegnici, loodgieters, skrynwerkers, elektrisiëns en rekenaarkundiges kan aanvul.

Die vyfde program stel ten doel die Ontwikkeling van Kleinsakeondernemings (KSO) en entrepreneurskap, die konsolidering van verskillende KSO-befondsingsagentskappe in ’n eenstop-agentskap, ’n onderneming deur die staat om KSO-diensverskaffers binne dertig dae te betaal, die uitskakeling van allerlei inhiberende maatreëls en vereenvoudiging van prosedures en vorms en die beskikbaarstelling van mikrofinansiering aan klein besighede ten einde entrepreneurskap aan te moedig.

Die sesde program stel ten doel Grootskalige Swart Ekonomiese Bemagtiging. Die huidige swart ekonomiesebemagtigingsmodel fokus grotendeels daarop om beperkte eienaarskap in bestaande besighede te bekom en wat slegs ’n handjievol individue bevoordeel. Grootskalige swart ekonomiese bemagtiging, daarenteen, fokus op kollektiewe eienaarskap gevestig in gemeenskappe en werkers, vaardigheidsontwikkeling van en beroepsbeplanning vir alle werkende mense, die vestiging van KSO’s en korporasies, en doelgerigte aankope van plaaslik-vervaardigde produkte.

Die sewende program fokus op Arbeidsbeleid en die belyning daarvan met hoër produktiwiteitsvlakke en mededingendheid. In die praktyk kom dit neer op ’n nasionale produktiwiteitsakkoord wat aangevul sal word deur sektor- en werksplek- produktiwiteitsooreenkomste, die opskerping van wetgewing om kwesbare werkers te beskerm en om veral plaaswerkers by werkersunies in te skakel.

Die agste program hou verband met ’n Tegnologiebeleid ten einde die navorsingskapasiteit van entiteite dramaties uit te bou, die gebruik van rekenaars en die internet op groot skaal aan te moedig en toegang daartoe op elke vlak van die samelewing te verseker en Suid-Afrika se voorsprong op die gebied van die kennisintensiewe sektore te handhaaf.

Die negende program hou verband met die ontwikkeling van Ontwikkelingsgerigte Handelsbeleide ten einde die uitvoer van Suid-Afrikaanse produkte uit te bou, maar wat terselfdertyd ten doel het om plaaslike produsente se belange te beskerm.

Die tiende program hou verband met ’n Afrika-Ontwikkelingsbeleid wat op ontwikkeling in Afrika afgestem is. Volgens die Nuwe Groeibaan Plan strategiese dokument word groter samewerking tussen die Suid-Afrika en verskeie ander Afrika-lande in die vooruitsig gestel ten einde die paaie, spoorweë en hawens in veral Sentraal- en Suidelike Afrika te verbeter en daarmee saam die integrasie van kragleweringsnetwerke en toegang tot telekommunikasie en die internet  te bewerkstellig.          

Hierdie programme bied dus ’n ongelooflike kans aan die AHI om Suid-Afrika saam met die regering en vele ander belanghebbendes op die pad van werkskepping en welvaartskepping te plaas. Wat dít aanbetref, is die AHI deeglik onderlê en welbekend met die aard en omvang van ekonomiese ontwikkeling; dis immers ook die fondament waarop die AHI sy beslag sewentig jaar gelede gekry het.

Die AHI as ekonomiese spreekbuis van die Afrikaanse gemeenskap doen dus ’n beroep op die Afrikaanse gemeenskap om saam met ander taalgemeenskappe nuut te dink oor hoe ons Suid-Afrika vorentoe kan neem en volhoubare ekonomiese groei en werkskepping kan bewerkstellig.

Dis ’n voorreg wat ons onsself nie kan ontneem nie, want soos James Allen, voormalige Nieu-Seelandse staatsman dit stel: “You are today where your thoughts have brought you; you will be tomorrow where your thoughts take you.”8Vir die AHI beteken dit kortweg: om die Afrikaanse gemeenskap aan te moedig om nuut te dink oor ons ekonomiese uitdagings en om prosesse te fasiliteer waarin daar met oplossings vorendag gekom word om ekonomies-bemagtigde en selfonderhoudende Suid-Afrikaanse gemeenskappe te ontwikkel wat in vrede met mekaar en in balans met die natuur leef.

1 Collected Quotes from Albert Einstein. (Februarie 2012 geraadpleeg).

2 Sadie, JL. 2002. The fall and rise of the Afrikaner in the South African Economy. Stellenbosch.

3 AHI. 2011. Jaaroorsig 2010/11. Pretoria. Februarie 2012.

6 Gowar, D. 2012. How to squash a very good business idea. Prohibitive costs and red tape put paid to job creation. Soos gepubliseer in die Sunday Times van 19 Februarie 2012.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top