Die agnostiese anoreksie perspektief

  • 11

Thomas demonstreer weereens vir ons 'n karakteristieke kenmerk van die agnostikus. Oor die bykans tien jaar. Hier is nou die tipiese demonstrasie van die agnostikus se onvolwasse, stuitige mentaliteit. Ons praat nie eens van  die antagonisme nie. Maar ons weet ook dit is die reaksie van 'n verstand wat toegeslaan het. 'n Demonstrasie van magteloosheid en radeloosheid wat slegs uiting kan vind in venyn. En natuurlik, 'n demonstrasie van die agnostikus se nypende gebrek aan begrip.

Geen ware gelowige is onderdanig aan die ander een, nie. Maar algar van hulle is onderdanig aan die HERE en hulle betoon respek aan mekaar ter wille van die teenwoordigheid van die HERE by hulle algar. Elkeen van hulle staan individueel solied in die Krag van die HERE maar ook kollektief, synde ledemate van dieselfde Liggaam, elk met sy eie afsonderlike kosbare gawe van God en gee eer daaroor aan God maar ook aan mekaar ter bemoediging.

Ware gelowiges geniet ook die Godgegewe gawe van insig en begrip en verstand en dit is een aspek wat vir die agnostikus net eenvoudig een te veel is. Hy kan nie verstaan hoe die ware gelowige die vermoë het  om deur sy agnostiese snert – ‘wetenskap’ en andersins - te sien asof dit 'n deursigtige venster is, nie. Hiermee het die agnostikus gewoon geen raad nie.  Hy raak ontstig deur die feit dat die gelowige nie net met gemak kan assimileer wat hulle as verhewe kennis beskou nie, maar nog véél meer daarvan kan raaksien en in konteks kan plaas en dan op ’n vlak met hulle daaroor kommunikeer wat bokant hulle vuurmaakplek, is.

Die afgelope gesprekke oor allerlei natuurverskynsels, evolusie en astronomie, demonstreer dit net weereens. Dit is vir die agnostikus 'n totale vreemde ervaring want hy word gekonfronteer met feitekwessies in die vorm van vrae en stellings wat die swakplekke in hul mondering oopvlek, wat hy geen benul het hoe om te hanteer nie. Een van hulle, Brianvds is nogal heel openlik daaroor en skrywe elders dat dit vir hom voel hy bevind hom in Alice se Wonderland - 'n getuienis dat hy hom as agnostikus heeltemal uit plek  en vervreemd voel – selfs in ’n gesprek oor sy eie gemaklike onderwerpe - en eerder die hasepad sal kies … net om te begin skinder.

Maar hoe hanteer die agnostici hierdie onvermoë? Hulle kloek saam in skindergroepies soos graad-4 en -5 dogtertjies en begin om vir die gelowige te vertel hoe ‘min’ hy kwansuis weet. Hy besef dat hy nie in staat is om die gelowige se konfrontasie op feitelike vlak buitekant hulle gemaksone van ‘mainstream boundaries’ die hoof te bied nie en probeer dit dan onder die mat vee met beskuldigings van allerlei aard. Hulle sal dan in radeloosheid die aandag probeer afwentel en begin karring oor beuselagtighede soos kommas en dies meer. Dan stuur hulle op soortgelyke skoolmeisie-mentaliteitsvlak en onvolwasse emosionele vlak, in koortjies sarsie op sarsie persoonlike aanvalle op gelowiges af wat hulle durf konfronteer op ‘hulle’ gebied.

Hierdie gedrag sien ons konsekwent en regdeur, ongeag hoe die gesprek met hulle begin het - van hul residensiële super-na-aper George Claassen af regdeur die hiërargie tot onder deur by die mees glanslose panda daar in die stowwerige buitewyke van ’n snikheet Windhoek.

Hulle het ook ’n satelliet – nie net die planete het satelliete nie – hulle het ook een hier residensieel. Oral in die omgewing van hierdie skindergroepies sal jy ook vir Cornelius, ons residensiële brommer, sien rondfladder en rondhang, voortdurend op soek na sy gunsteling kafkos - iets negatiefs en hatig waarop hy kan aas – en uiteraard word hy by die agnostici vet gevoer met sulke walglike spyse, wat hy dan sarsie op sarsie in sulke blertse oraloor met sy kenmerkende eie variasie van wanvoorstellings, leuens en waninterpretasies uitbraak, meestal uitspattig opgetof in die mees onvanpaste woordetaal wat hy iewers sien of hoor en dan konteksloos en oordadig om sy blertse drapeer soos goedkoop grimering op ’n deur-dwelm-verweerde gesig in ’n poging om vernaam en geleerd voor te kom.

Dit is die spektakel van die (residensiële) agnostiese konserte soos ek hulle oor bykans 10 jaar van betrokkenheid by hierdie forum, leer ken het. Diegene wat die tyd het, kan gerus die argiewe raadpleeg en dit self sien.

Party mense, veral die wat nog nie die dinamika van hierdie forum ken nie, dink ek probeer die agnostici beledig. Maar die van hulle wat bietjie hier verwyl en met ’n oop gemoed gadeslaan, sien gou waarvan ek praat – dat ek hulle nie probeer beledig nie, maar hulle op hulle vreemde, in baie opsigte onmenslike, bot gedrag bedag maak.

Toegegee, dit is nie ’n pluimpie om soos hulle te wees nie en hulle eie optrede is dus vir hulle ’n belediging. Plaas dat hulle iets daaromtrent doen. Ander van ons maak ons foute in die lewe, maar ons sien dit en staak dit en stel ons lewens voortdurend reg.

Hulle gedrag is vir my persoonlik tot geen nadeel of gevaar, nie, soos Trienie en Dolf en ek en ander voorheen ook al vir hulle uitgewys het. Ook is hul agnostisiteit nie vir my van enige bedreiging nie – Goddank, ja Goddank, ek staan sterk in die geloof. Dit is dus nie ter wille van myself dat ek hulle attent maak op die labirint van selfdesepsie en leuens waarin hulle hul op hul gekose lewensweg bevind, nie, want ek ly persoonlik geen skade of nadeel daaruit nie. Maar ons ware gelowiges se Christelike hart kan nie sien hoe hulle agteruitgaan en niks daaromtrent doen, nie. My HERE Wie ek dien, het soiets nie laat begaan nie – hoe kan ek?

Ons wys hulle op hulle gedrag, amper soos om ’n spieël voor hulle te hou sodat hulle kan sien en hopelik besef dat hulle Goddeloosheid hulle stelselmatig en meedoënloos van binne vernietig en hulle pragtige, liefdevolle, eg menslike eienskappe waarmee God hulle geskape het, wat hulle in staat sou stel om te sien wat ons sien, hoor wat ons hoor en te beleef wat ons beleef, al meer en meer en vinniger en vinniger te laat kwyn … hierdie mense stuur af op ’n ewige ramp.

Dit pla my dus hoegenaamd nie dat hulle my (en die ander) verpes nie. Trouens, so dikwels as wat hulle dit doen en manifesteer daaroor, só dikwels dien hulle die betroubaarheid van die Woord want die Woord sê dat hulle dit sal doen.

As die HERE, my HERE, hulle ’n addergeslag noem en hulle as adders openbaar en kinders van die duiwel noem en uitwys – en HY doen weldeeglik (Mattheus 12:33-34; Romeine 3:13; Johannes 8: 44; 1 Johannes 3:10) - waarom sou ek dit nie ook uitwys nie? Dit is nie om hulle te beledig nie, maar hulle attent te maak op die konsekwensie en assosiasie van hulle gedrag. Want daarin oordeel ons hulle nie, maar hulle eie gedrag en die Woord oordeel hulle daarin en ons verkondig die Woord in dié tye.

Dus, as hulle my (ons) nié verpes het nie, sou ek weet dat ek my taak as ware Christen gelowige versaak want ek sal die HERE moet verloën om in hulle guns te kom – soos ons by Cornelius sien. Wat hier gebeur met my mede-gelowiges en met my, is presies soos die Woord al sedert duisende jare vir ons attent gemaak het, dat dit sal gebeur (Mattheus 10:22; 1 Petrus 4:14). En dit is juis in wat hulle doen en die intense graad van venyn, agnostisiteit en hatigheid teenoor ons, wat ons van Claassen regdeur hulle siek hiërargie tot by hulle stowwerige panda sien, waarin hulle die betroubaarheid van die Woord wat hulle so verbete probeer diskrediteer, dien.

“Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.

Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen.

Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg.

Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en ween.

Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.”  – Mattheus 5:11-12; Lukas 6:22-26

Geduld. Báie geduld en lankmoedigheid … Ons as gelowiges werk onder die armes hier, dit is naasteliefde en barmhartigheidsdiens. Hierdie agnostici is verskriklik arm. Meeste van hulle beursies is dalk oorvol en ander van hulle se ego’s is dalk opgeblase ballonne en meer dikwels beide, maar hulle is verhonger, maer en bitterlik ondervoed en op die rand van die dood, vanweë hulle spirituele anoreksie en bulimie. Dit is die selfvernietigende sirkelgang. Hulle is verhonger vanweë die selfopgelegde spiritueel uiters asketiese dieet van anoreksie en dan vergryp hulle hul kort-kort aan verkeerde goed (daardie obsessiewe soeke na anti-Woord bronne) en braak dit saam met die voedsame Spyse wat ons vir hulle aangee, dan weens die bulimie oral uit.  

En soos dit met anoreksie- en bulimielyers is, moet hulle eers besef dat hulle ’n probleem het, alhoewel die simptome en manifestasie van die anoreksie en bulimie vir almal anders duidelik sigbaar en voor die hand liggend is en vir algar om te sien, is dit vir hulle nie so nie, want daar is die selfdesepsie, die ontkenning, vanweë die sielkundige blokkasie daaromtrent, wat hulle met aggressie vertroetel en hanteer. Dit is ook die langste deel van die behandeling daarvan – om dié selfdesepsie af te breek. Baie van hulle klou verbete en wag tot letterlik op die rand van die dood voor hulle eers die helpende Hand sal aangryp.

Intussen dien hulle darem as afskrikmiddel en voorbeeld vir ander wat nie bewus was van die uitmergelende kwaal – spirituele anoreksie en bulimie - nie.

Geduld. Lankmoedigheid.

Sommige sien hulle in hulle siekte (álmal, behalwe hulle self, kan) maar loop ongeërgd verby en sê ‘gelukkig nie ek nie’ … Maar daar is diegene van ons wat maar net nie kán of wil verbystap nie, want ons HERE se Liefde in ons laat dit net eenvoudig nie toe nie. Om so tussen die spirituele kots te werk van ’n kroniese anoreksie en bulimie lyer en sy aggressie … ter wille van homself, nie ons, nie.

Groete,

Kobus de Klerk

  • 11

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Al verberg die haat homself in bedrog, sy boosheid word in die vergadering openbaar... het ’n oor net gehoor, dan prys dit my gelukkig; en het ’n oog net gesien, dan gee dit vir my getuienis... Quod Erat Demonstrandum...

  • Chris Dippenaar

    Daar is werklik net een ding wat vir my onverklaarbaar is: Hoe het dit gebeur dat LitNet KdK nou al tien jaar toelaat om sy gif elke dag te spoeg op hulle werf? Saam met George Claassen vra ek die vraag: "Het die media, as die belangrikste verspreider van inligting en kennis, nie ’n morele verpligting om onsin van gesonde verstand en bewese rasionele verklarings te skei nie?" ('As ons moetie en bygeloof bo werklikheid stel')

    Maak die bydraes van ’n KdK die wêreld ’n beter plek?

    As ’n hond elke dag skyt in die huis gaan ek hom nie laat uitsit nie, maar ek gaan hom wel uitgooi. Ek dink dit is tyd dat LitNet eerlik raak en die afbrekende rol van KdK op hulle werf speel herken en erken, en iets daaraan doen.

  • Kobus

    Tot tyd en wyl jy vir ons sê watter gesaghebbendes jou spiriuele intelligente hersenskimme ondersteun sal niemand jou ernstig opneem nie. Hoekom sou jy sê is George Claassen en Jurie van den Heever (wat jy aanhoudend aanval) gerespekteerde akademici by die Universiteit Stellenbosch terwyl jou teorieë slegs in jou verbeelding kredietwaardigheid het? Is die ganse akademiese wêreld dan ’n spul swape. Ek het jou al male sonder tal gevra om ons die naam van enige erkende universiteit te gee waar jou sotlikhede oor kreasionisme en astronomie onderskryf word – jou stilswye hieroor spreek boekdele. 

    Al gevolgtrekking wat enige redelike deelnemer hier op die Sê uit jou onwetenskaplike bogpraatjies kan maak is dat jy inderdaad die ongeloofwaardige persoon is soos wat jou eie professionele liggaam bevind het.

    Thomas

  • Kobus de Klerk

    Chris,

    Jou hoogs emosionele en gelaaide reaksie toon duidelik  dat die snaar behoorlik gespeel is, veral by jou.  Jy en jou maters vertel dan gedurig vir mekaar dat julle julle aan niks kan  steur wat ek skrywe nie omdat dit kwansuis bog en leuens is.  Hoe het ek dit dan nou? Julle steur julle weldeeglik aan wat ek skrywe ne julle manifestasies bewys dit.

    Waarom lees julle die bydraes van my af? Omdat julle nie anders kan, nie. Spiritueel is julle slawe van julle eie oortuiginge (wyl julle dit nie self besef nie) en kan  eenvoudig nie Spirituele pitkos weerstaan nie, al kots julle dit weer direk uit – die proses is mos hierbo beskrywe. Julle drom soos roofdiere om my saam deesdae. Kyk na julle skryfgoed hier – is wat ek weergee hier van sulke ingrypende belang dat julle so op my konsentreer?  Uiteraard tog, en julle reaksie bewys dit weldeeglik.

    En wat julle reaksies nog aantoon – vir die soveelste maal – is daardie totale onbeholpenheid wat julle vertoon om enigiets wat julle ten  laste gelê word, te beantwoord of te weerspreek. Die taktiek? Persoonlike verdagmakery  – kyk na elke bydrae hier van julle. Al wat waartoe julle julself kan bring, is om my stil te probeer skel en beledig en aan te val en omdat  dit nie werk nie, vra jy direkte sensuur.

    Weereens het julle presies bevestig wat ek sê.

    Let liewer op wat ek sê, dan sal jy agterkom dat ek jou ’n guns doen deur dit vir jou uit te lig sodat jy iets daaraan kan doen. En terloops, as dit by sinvolle bydraes kom, sou geeneen van julle ooit ’n spreekbeurt kry, nie.

    Kobus de Klerk

  • Chris Dippenaar

    Foeitog, die arme Kobus en die kruis waaraan hy homself vasgespyker het. Jy kan net die mantel van martelaar dra as iemand anders dit aan jou gedoen het.

    Jy is ’n verleentheid, nie net vir jou self en jou geloof nie, maar sekerlik ook vir LitNet-briewe. Jy is die laaste een wat kan kla oor sensuur as in ag geneem word dat niemand anders se opinie, behalwe jou eie, vir jou saak maak. Ek twyfel vir geen oomblik dat, sou jy in beheer wees, sensuur teen alles waarmee jy nie saamstem oortyd sal toegepas word.

    Jou histeriese reaksie op my voorstel vertel net vir my een ding: Jy besef duidelik dat jou gedrag hier op LitNet kwalifiseer vir sensuur. Enige ordentlike mens sou my eenvoudig afgelag het.

    Ek verwag nie dat LitNet my voorstel om jou te blok van die werf ernstig oorweeg sal word nie, maar ek sal tog graag wil weet wat die riglyne is wat toegepas word.

  • Kobus:

    Ek sien jy het intussen toe wel in daardie Jupiter-debat op my vraag oor Ganymede se magnitude gereageer, so voel vry om dit dan nie hier ook aan te spreek nie. Diegene wat daarin belangstel kan dit daar gaan lees:

    https://www.litnet.co.za/Article/oor-jupiter-en-optiese-illusies

    Op jou skrywe hier het ek nie juis kommentaar nie want jy sê nie eintlik enigiets nie en maak nie eintlik enige toetsbare stellings nie. Dit staan jou vry om te glo wat jy wil en van agnostisisme te dink wat jy wil.

  • Kobus de Klerk

    Enigste een wat histeries is, nog steeds, is maar net jy, Chris. Die skoen pas jou en jy is besig om dit aan trek onder  ’n luide gekerm en geklae van snert. Jy wil dit nie weet nie, dit is duidelik, maar daar is nog hoop vir jou. Solank daar lewe is, is daar hoop – as julle dit net sou kon besef.

    Terloops, Chris, ek is op rekord dat ek ’n groot voorstander van vryheid van spraak is, want dit is die enigste manier hoe dit wat mense in hulle harte hou, na vore bring. Ek het sovêr ek kan onthou nog nooit gevra dat iemand as bydraer gesensureer word, nie, maar jy kan my gerus daarop wys as ek het, maar ek gaan nie daarvoor asem ophou nie want ek glo nie jy gaan regkom, nie.

    Die manier om ’n probleem te hanteer,. is nie om iemand  te probeer stil slaan of ’n prop in sy mond te probeer druk omdat jy nie hou van wat hy sê, nie, want dit vererger dinge eerder as andersom. Dit verbaas my egter nie dat jy dit nie weet nie, gegewe hoe jy is – spiritueel gesproke. Die volwasse, korrekte manier is om die saak man tot man, al is dit nou virtueel, uit te praat soos volwassenes.

    Maar daartoe was geeneen van julle op hierdie forum nog ooit opgewasse nie.

    Dus, jou tirade is nie goeie getuienis van jou karakter of persoonlikheid nie.

    Brianvds,

    Briewe het onderwerpe en die regte ding is om daarby te probeer hou of dan verby te hou. Ek was dus in ieder geval geensins van plan om daardie issues hier aan te spreek, nie. Ou ding van julle om die onderwerp van bespreking te probeer vermy deur heeltemal irrelevante aspekte in die forum in te gooi – noem dit vir jou sodat jy weet ek weet waarmee jy besig is.

    Kobus de Klerk

  • Chris Dippenaar

    Wat anders as sensuur sou jy jou en ander kreasioniste se poging om evolusie uit skole te hou? Wat anders as sensuur is dit om die akademiese studie van die Bybel en die implikasies daarvan te weerhou van die oorgrote meerderheid van gelowiges. Hoeveel keer word die werk van Friedrich Strauss en soortgelyke skrywers bespreek in Bybel-studie in jou kerk? Sensuur vind nie net plaas wanneer jy dit eksplisiet plaas op rekord nie. Soos in jou geval vind dit plaas deur selektief en oneerlik te handel met ’n onderwerp.

  • Kobus de Klerk

    Brianvds,

    Ek lewer kommentaar op jou stelling dat ek kwansuis  nie eintlik enigiets sê  en nie eintlik enige toetsbare stellings maak, nie.

    Wat beteken 'eintlik' vir jou?

    Jy het of nie behoorlik besin voor jy die aanmerking gemaak het nie of jy is meer insigloos as wat ek gedink het julle is.

    Ek sê soveel dat jou sielsgenoot, Chris (en ook ongelowige Thomas), omtrent ’n sarsie tirades afstuur in my rigting – dit het hom duidelik baie diep geraak (goed so, want dit dui aan dat hy nie heeltemal sielsdood is nie).

    Dit wat ek weergee, is ook volkome toetsbaar en is reeds bewese. Wat in die Woord staan, is vir almal om te sien. Dat die Woord uit antieke tye kom, is ook gemeensaak. Wat die betroubaarheid van die Woord aanbetref, is julle einste optrede en reaksies op gelowiges se bydraes ooglopende bewys. Om dit te kan kontroleer, hoef jy slegs die Woord na te gaan, en dan oor die afgelope bykans 10 jaar op hierdie forum die verskillende agnostici se aan- en opmerkings en manifestasies in hul skryfgoed na te gaan met bietjie moeite om te sien dat die saak vasstaan soos ek weergee het – En natuurlik is die werklike siektes van anoreksie en bulimie as metafore en gelykenisse aangewend om die eksakte spirituele toestand van julle te demonstreer en verduidelik in die sin dat daar op spirituele vlak – wat meeste van julle nie eens kan identifiseer by julself nie – ’n manifestasie plaasvind tipies soos anoreksie en bulimie lyers. En net soos anoreksie en bulimie lyers hul toestand aanvanklik ontken tot dit bykans te laat is en eerder die fout soek by ander wat hulle probeer help, net so doen julle ook met julle spirituele toestand. En net soos daar net ’n relatief  geringe aantal anoreksie en bulimie lyers in die gemeenskap is, is dit met julle die geval in die massiewe gemeenskap van gelowiges.

    Trouens, die weergawe is so in die kol dat mense soos Chris dit dadelik besef en daarom so te kere gaan – tipies daardie simptome – en my probeer aanval omdat hy nier wil hoor wat ek sê nie tot die mate dat hy my selfs wil stil forseer.

    So, jy  is maar net met jou opmerking besig om jouself geheel en al in lyn met wat ek weergee het, te probeer bluf, tensy jy nie besin het voor jy geantwoord het nie... Watter een?

    Jy hoef nie verplig te voel om te antwoord nie. Op so ’n manier sal mense dalk nog kan dink dat jy net oorhaastig was met jou kommentaar...

    Kobus de Klerk

  • Kobus: Ek weet nog steeds nie waarvan jy praat nie. Seker maar my gebrek aan spirituele intelligensie. 

    Ek kan slegs reageer op toetsbare stellings, en jy maak selde sulke stellings. Ek vermoed jou skrywes is doelbewus vaag en niksseggend, want dit maak dit makliker om later alles wat jy geskryf het kreatief te herinterpreteer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top