Die afrikanisering van ’n universiteit

  • 0

Ek beskou universiteite as ’n belangrike maatstaf vir beskawing. Op ’n kontinuum van onbeskaaf tot beskaaf hoort geweld (bv vandalisme, sabotasie en terrorisme) naby eersgenoemde pool en geleerdheid en universiteite naby laasgenoemde pool. Die ANC se geweldskultuur is dus hoogs onversoenbaar met die wese van ’n universiteit. Die universiteit is van huis uit ’n Westerse inrigting wat omstreeks 1200 in Europa ontstaan het. Dit is hoofsaaklik Westerlinge wat universiteite ook op ander kontinente gevestig het. Plaaslik het die Khoisan en die swartes geen universiteite gehad nie.

Naas die Universiteit Fort Hare, wat deur wittes gestig en beheer is, is daar eers sedert 1960 tydens apartheid teen groot koste universiteite vir nie-wittes opgerig en bedryf. Omdat Westerse waardes so eie aan ’n universiteit is, behoort daar selfs na die vestigingsperiode deeglik besin te word alvorens beheer oor ’n universiteit aan enigiemand toevertrou word wat hom deur nie- of anti-Westerse magte (bv sodanige regering) laat lei. Dit is by uitstek Westerlinge wat ’n natuurlike aanvoeling vir die wesenlike aard van ’n universiteit het. Ruimheid van gees is daarvoor nodig.

Aan ’n universiteit behoort dit veral om die vorming of kultivering van die gees van studente te gaan en nie om die vervlakte afrigting in beroepe soos aangetref aan technikons en kolleges nie. Aanvanklik was teoloë in beheer van die Middeleeuse universiteite. Namate wetenskaplike kennis toegeneem en navorsingsmetodologie beslag gekry het, is die universitêre leiding aan nie-teologiese geleerdes toevertrou. Dit het geblyk dat teologie (of godsgeleerdheid) heel moontlik kennis van ’n fiktiewe metafisiese entiteit veronderstel. (Daar is nie dieselfde beswaar teen die empiriese studie van die godsdiensverskynsel in bv sosiologie of sielkunde nie.)

Daar is grondige besware teen die aanstelling van teoloë om akademiese leiding aan ’n moderne universiteit te verskaf omdat hulle tot fundamentalisme, dogmatisme en naïwiteit geneig is, wat in stryd met die akademiese klimaat, bv akademiese vryheid, is. Hierdie onverkwiklikheid word deesdae vererger omdat baie van hulle bevrydingsteoloë is, dus mense wat dit as hulle missie beskou om ’n koninkryk op aarde ooreenkomstig hulle verwronge insigte te vestig. Plaaslik kan daar bv na ’n ANC-koninkryk gestreef word.

Aanvanklik was Latyn die universitêre onderrigtaal, met Grieks sterk teenwoordig as die alternatiewe taal van geleerdheid. In die moderne tyd van kulturele nasievorming en geestelike verligting is Latyn as onderrigtaal met die Europese landstale ("vernaculars") vervang. Daarmee kon beter in die universitêre doel met studente, naamlik die optimale vorming van vrye geeste, geslaag word omdat moedertaalonderrig deeglike begrip of diepe insig bevorder.

Die vervanging van Latyn was egter nie sonder meer ’n wins nie, want die uitruiling van dosente en studente tussen universiteite kon nie meer so gemaklik plaasvind nie. Tog kan gesê word dat as ’n student van hoë intellektuele en akademiese gehalte is, hy na deeglike skool- en universitêre onderrig in sy moedertaal ’n ander taal sonder groot moeite kan aanleer en hom dan elders, bv aan ’n anderstalige universiteit as student of dosent, kan laat geld. Dit is die studente met beperkte vermoëns wat deesdae onverdiend universitêre toelating kry en dan boonop daarop aandring dat daar aan hulle verstaanbare onderrig in hulle nie-moedertaal, die nuwe wêreldtaal Engels, aangebied moet word, wat uit die stelsel geweer behoort te word.

Russel Botman, die huidige rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), het pas ’n forum-artikel in Die Burger (22 deser, p 9) gepubliseer. As aanleiding vir sy skrywe gebruik hy die onlangse uitlatings van twee modelle en van FW de Klerk waaroor daar ’n bohaai opgeskop is. Dit lei hom na Nelson Mandela ("Mabida" genoem) se "droom van versoening". Met dit as platform skryf Botman van die "giftige nalatenskap van apartheid", "hoe intens die onregte van die verlede vandag nog beleef word", "die openbaringe voor die Waarheids- en versoeningskommissie", "ons ... ideale van regstelling, transformasie en nasiebou" en "die ... met bloedverdiende vryhede".

Hy bevestig dat hy aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) in die teologie studeer het, bv die geskrifte van Karl Barth met die oog op toepassing in die plaaslike politiek. Die doel was om vas te stel: "Wat is die eintlike fout met apartheid?" - nie of daar fout is en, indien wel, wat die (moontlike) tekortkominge is nie; dít sou akademies te respektabel gewees het. Die gevolgtrekking waartoe gekom is en waaraan Botman steeds vasklou, is dat apartheid nie net wesenlik "verwerplik" en "sonde" is omdat dit "menseregte skaad" en "menswaardigheid ... vertrap" nie, maar dat dit "anti-evangelies" en eintlik "die sonde self" is. Dalk impliseer dit dat Botman as ’n verwerper van sonde as sodanig, dus apartheid, nou sonder sonde is.

Volgens Botman se vertolking is die hart van die Evangelie "die versoening en versoenbaarheid van alle mense ongeag hul etnisiteit, taal, kultuur en ander identiteite". (’n Mens moet liewer nie eens probeer om hierdie stelling met die geskiedenis van die christendom te versoen nie.) Hy gebruik dit om ’n lansie vir sy etniese groep se Belydenis van Belhar te breek en die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke se etikettering van apartheid as "kettery" te onderskryf. Les bes kom hy die (etniese) groep by teen wie hy dit eintlik het: diegene wat steeds "uitgediende praktyke" (bedoelende apartheid) in "ons woonplekke, werkplekke en om die vleisbraaivure - die broeikaste vir rassisme en rasse-vooroordeel" - aanhang. Sulke mense word as siek voorgestel, want hulle het "heling" nodig, of soos "Madiba" dit stel: "a reconstruction of the soul".

Sover bekend het Botman hierdie artikel op eie inisiatief en uit vrye wil geskryf en is dit volgens die aanbieding om’t ewe of dit sy eie of die US se amptelike mening verteenwoordig. Dit toon Botman se radikale, dogmatiese, politieke standpunt. Daar is geen genuanseerdheid, dus dat dit sowel slegte as goeie kenmerke gehad het, in sy beskouing van apartheid nie. (’n Moontlike voorbeeld van die goeie van apartheid is die einste UWK, waar Botman gesubsidieerde onderrig ontvang het en die kultuur van bruines dekades lank tot sy reg gekom het soos nooit voor 1960 en ook nie na 1986 nie, toe die UWK ’n multikulturele en eentalig Engelse ANC-nes geword het.) Enige indiwidu is geregtig op sy eie oortuigings. As rektor, dus as die uitvoerende hoof van ’n universiteit, is Botman egter veronderstel om sy openbare beeld as dié van ’n ideologies onpartydige akademikus uit te bou.

Die probleem is dat hierdie artikel nie uitsonderlik is nie. In woord en daad is hy as rektor deurgaans met die afdwing van sy ideologiese voorkeure besig. Daarom reageer hy dadelik as daar enige sprake van rassevooroordeel by wittes op die kampus is, maar hy is opvallend traag wanneer daar beswaar teen die afskaling van Afrikaans as onderrigtaal geopper word. Onlangs het hy die dekaan van gesondheidswetenskappe se oordrewe transformasie-inisiatiewe onomwonde gesteun sonder om die gepaardgaande miskenning van Afrikaans te verdoem.

’n Rektor is veronderstel om ’n deurwinterde akademikus te wees wat as ’n ideologies-neutrale geleerde sy werk doen. Sy funksie is om as akademiese leier op te tree, dus ’n voorbeeld aan al die dosente en studente op die kampus te stel. Die voor die hand liggende beginpunt van ’n rektor is om te verseker dat studente op suiwer akademiese gronde (bv nie-rassisties en nie-seksisties) toelating tot studie verkry en dat dosente op suiwer akademiese gronde aangestel en bevorder word. Botman is nog nie naby daardie beginpunt nie, om van die bevordering van akademiese vryheid en universitêre outonomie nie te praat nie.

Hoewel daar dosente en onderrigdepartemente op die kampus is wat voortreflike akademiese werk doen, is akademiese uitnemendheid vir die universiteit in sy geheel ’n hersenskim. ’n Universiteit wat op grond van ras en geslag, dus nie-akademiese oorwegings, voorkeur aan bv die dogter van ’n bruin plaaswerker bo dié van die seun van ’n wit plaaseienaar gee, saboteer die wese van die akademie. Nie net suiwer akademies nie maar ook histories en finansieel het die wittes en veral Afrikaners onteenseglik ’n regverdigbare aanspraak op ’n oorheersende teenwoordigheid op die kampus. Om politieke redes word dit hulle toenemend ontsê. Hierdie blatante rassediskriminasie is die kern van die transformasie waaroor Botman so entoesiasties is. Rassediskriminasie teen wittes is een van Botman se "met bloedverdiende vryhede". Dit gaan lynreg in teen die kern van die akademie, naamlik dat die akademiese gehalte van kandidate deurslaggewend behoort te wees. Die huidige oordadige afrikanisering van die US moet met kompromislose akademisering vervang word.

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top