Beste Jan Rap
Ek is ’n Afrikaner en my Afrikanerskap is vir my ’n belangrike deel van wie ek is en hoe ek oor myself dink. Ek is dus bly dat jy my uitnodiging aanvaar het om gedagtes oor die onderwerp uit te ruil. Afrikaans is vir my baie belangrik en die stelling “ek is wat ek praat” is baie waar in my geval.
Ek stem met jou 100% saam dat die gemiddelde bruinmens tien dode sal sterf voordat hy na homself as ’n Afrikaner sal verwys. Die rede is natuurlik omdat ons vir baie jare onsself so eng gedefinieer het dat hulle hul nie kon (of wou) insluit by die definisie nie. My betoog is dat ons moet wegbeweeg van daardie ou konnotasies en die definisie nou so inklusief moontlik maak.
Volgens die ou definisie was ek ’n volbloed Afrikaner – blank, NG-kerk lidmaat, Volkskaskliënt, NP-takbestuur, verskeie kere voorsitter van die plaaslike Rapportryerskorps en ja lid van die Ruiterwag en later die Broederbond. Dit was lekker tye en ek het met oorgawe aan alles deelgeneem. Dit was egter slegs moontlik binne die onnatuurlike milieu wat deur apartheid geskep is. Ek erken vandag tot my skaamte dat ek verblind en gebreinspoel is deur Afrikanerleiers en dat ek nie regtig vir myself gedink het nie.
27 April 1994 het alles onherroepelik kom verander en my vrygemaak van daardie oogklappe en breinspoeling waarna ek hierbo verwys. Dis in daardie lig wat ek agiteer dat ’n Afrikaner enige Suid-Afrikaner is wat Afrikaans praat – van watter agtergrond hy/sy ook al kom. Deur te argumenteer dat elke persoon self kan besluit of hy tot die groep behoort al dan nie gaan die skeidslyne van die verlede bloot perpetueer. Omdat Afrikaans vir my so belangrik is voel ek dat ons soveel moontlik mense rondom die taal moet verenig. Die term Afrikaanse is vir my ’n lomp term en daarom wil ek graag die term Afrikaner gebruik vir daardie verenigde groep mense rondom Afrikaans. Ek bepleit dus ’n vernuwing van die begrip Afrikaner.
Ek het destyds as voorsitter van die Rapportryers by geleentheid vir Jan Spies gekry om oor die onderwerp “Wie is die Afrikaner” te kom praat. Na ’n uitstekende toespraak wat basies dit onderskryf het wat ek hier bepleit, het hy sy toespraak afgesluit met die volgende woorde: “Die Afrikaner is net ’n sikspens hier in Suid-Afrika – moet nou nie nog ’n tiekie daarvan wil uitdefinieer nie”.
Ek hoor graag van jou.
Groetnis
Thomas

