Die Afrikaanse woordelys en spelreëls se eerste honderd jaar deur Christo van Rensburg: ’n lesersindruk

  • 0


  • Barend van der Merwe het uit eie beweging sy indrukke van die boek gestuur.

Die Afrikaanse woordelys en spelreëls se eerste 100 jaar
Christo van Rensburg
Uitgewer: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Ten opsigte van die ontstaan en ontwikkeling van die Afrikaanse taal, oftewel die geskiedenis van Afrikaans, is daar oor die jare al heelwat navorsing gedoen en artikels en boeke gepubliseer. Te veel om sinvol hier te bespreek. Meer onlangs was daar die meesterlike Die storie van Afrikaans – uit Europa en van Afrika deur WAM Carstens en EH Raidt (Protea Boekhuis 2017 en 2020), wat uit twee volumes bestaan. Mens hoef maar net die eerste volume van hierdie omvattende ondersoek na die oorsprong van Afrikaans te lees om iets van die metodologiese kompleksiteite en kopsere daaraan verbonde om ’n taal se geskiedenis te skryf te begin besef.

Die standaardisering van Afrikaans is ’n onderwerp waarvan die meeste mense eintlik maar min weet. Baie mense weet daar is ’n Taalkommissie (TK), en selfs dat die Taalkommissie ’n inisiatief is van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, maar hoeveel weet ons van die TK se eie ontstaan en ontwikkeling? Dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ook maar ’n organisasie is met ’n omstrede verlede, is ook redelike algemene kennis, maar dit staan ook in die perspektief van die reusagtige bydrae wat die Akademie gemaak het, ten spyte van die onregte van die verlede. Al hierdie feite is nou vervat in Die Afrikaanse woordelys en spelreëls se eerste honderd jaar deur wyle Christo van Rensburg (1936–2018), wat 12 jaar lank lid van die TK was, en wat oorlede is voordat sy boek gepubliseer is.

............
Dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ook maar ’n organisasie is met ’n omstrede verlede, is ook redelike algemene kennis, maar dit staan ook in die perspektief van die reusagtige bydrae wat die Akademie gemaak het, ten spyte van die onregte van die verlede. Al hierdie feite is nou vervat in Die Afrikaanse woordelys en spelreëls se eerste honderd jaar deur wyle Christo van Rensburg (1936–2018), wat 12 jaar lank lid van die TK was, en wat oorlede is voordat sy boek gepubliseer is.
.............

Dit is in wese die storie van die formele ontwikkeling van die sogenaamde standaardvariëteit van Afrikaans deur te fokus op hoe die Afrikaanse woordelys en spelreëls (die AWS) geformuleer was. Alhoewel die boek nie van enige voetnote, eindnotas of bronverwysings voorsien is nie, kan Van Rensburg se benadering tog wel as wetenskaplik beskou word. Die boek beslaan reeds 444 bladsye en sluit ’n bronnelys, bylae en ’n register in, en uitgebreide voetnote of eindnotas sou die boek waarskynlik nog veel meer bladsye laat beslaan het, wat die publikasiekoste aansienlik sou opjaag. Alhoewel Van Rensburg dus self by van die gebeure betrokke was wat hy in die boek dokumenteer, is die boek besonder goed gebalanseer, vertel dit nie sommer maar net ’n "mooi storie" nie, en skram dit beslis ook nie weg van onsmaaklikhede nie. Inteendeel.

...........
Van Rensburg begin die storie van die AWS wel met ’n kort aanloop oor Afrikaans, maar die sentrale stimulus vir die uiteindelike standaardisering van Afrikaans was die feit dat Nederlands teen die begin van die 20ste eeu in wese ’n dooie taal was in Suid-Afrika, en grootliks nog maar net in formele kontekste gebruik is, soos in klaskamers, op kansels en aan universiteite. Dit dien gevolglik ook dan as die ware basis van die boek.
.............

Van Rensburg begin die storie van die AWS wel met ’n kort aanloop oor Afrikaans, maar die sentrale stimulus vir die uiteindelike standaardisering van Afrikaans was die feit dat Nederlands teen die begin van die 20ste eeu in wese ’n dooie taal was in Suid-Afrika, en grootliks nog maar net in formele kontekste gebruik is, soos in klaskamers, op kansels en aan universiteite. Dit dien gevolglik ook dan as die ware basis van die boek. Afrikaans was reeds goed gevestig as gesproke taal en mense het gesukkel om hulleself nog in Nederlands verstaanbaar te maak. Dit het die behoefte aan Afrikaanse skole gestimuleer, wat weer ’n kettingreaksie tot gevolg gehad het in die publikasiebedryf en die uiteindelike erkenning van Afrikaans as amptelike taal in Suid-Afrikaanse wetgewing.

Maar dit was ’n bittere stryd, en daar was nooit waarlik samehorigheid oor hoe Afrikaans presies moet lyk en hoe dit van Nederlands moet verskil, of nie moet verskil nie. Nes daar vandag steeds nie samehorigheid is, of ooit sal wees nie. Om ’n taal te standaardiseer is nie ’n eenmalige proses nie. Dit is, soos die skryf van geskiedenis, ’n voortdurende gesprek en onderhandeling tussen die verskillende betrokke partye. So was dit dan ook met die TK. Toe die Afrikaanse Woordeboek (vandag bekend as die WAT) in 1926 begin is, was die plan dat die TK en die WAT sou saamwerk in die standaardisering van Afrikaans. Die twee organisasies werk vandag wel in harmonie, maar die heel eerste redakteur van die WAT, professor JJ du Plessis (1883–1949), wat weliswaar ook ’n stigterslid van die TK was, het ’n veel meer konserwatiewe aanslag gehandhaaf ten opsigte van die ontwikkeling van Afrikaans, en hy wou heelwat van die Nederlandse karaktertrekke behou. Smith het selfs sy eie spelsisteem ontwerp om “so naby as moontlik aan Nederlands” te hou, en hy het ook aan daardie spelsisteem vasgeklou. Dit het ’n tydperk van gedurige twis en onmin ingelui. Ook vanaf die kerke en die Bybelvertalers was daar gereeld teëkanting teen vinnige veranderinge in Afrikaans gewees. Later jare sou ook die regering poog om die funksies van die TK oor te neem, maar dit het nooit gerealiseer nie.

Smith was nie naastenby die enigste invloedryke taalkundige wat ’n behoudende benadering tot die ontwikkeling van Standaardafrikaans gehandhaaf het nie. GS Preller (1975–1943), wat ook ’n lid was van die heel eerste TK, het ook ’n stadiger ontwikkeling van Afrikaans in sy visie gehad. Dit was ’n tyd waarin daar aan die een kant baanbrekerswerk gedoen is in die ontwikkeling van Afrikaans, maar terselfdertyd ook reeds die fondasies gelê was van reuseskade aan die publieke beeld van Afrikaans. Afrikaans se ontwikkeling was dikwels “ingestel op die Afrikaans van die hoër sosiale klasse van die 1920’s” (bl 177). Hierdie soort Afrikaans is as “beskaafde” Afrikaans beskou, en ander variëteite is dus by implikasie tot “onbeskaaf” genegeer, ’n ongelukkige deel van Afrikaans se verlede dus.

Die boek slaag daarin om sistematies, en boonop ook redelik chronologies, die ontwikkeling van Standaardafrikaans te dokumenteer. Dit word veral vergemaklik deur die feit dat elke TK ander uitdagings in die gesig gestaar het, soos wat die taal, politiek, tegnologie en die tye verander het. In 1948 het die Nasionale Party (NP) die land se regerende party geword. Die NP was Afrikaans goedgesind, wat die taal aan die een kant aansienlik laat blom het; maar weens die regering se beleid van apartheid het Afrikaans uiteindelik ook geweldige skade gely wat selfs vandag nog gevoel word. Organisasies soos die TK en die Akademie, wat Afrikaans probeer bevorder het, is gebrandmerk as “apartheidsorganisasies”, en Standaardafrikaans self het die teiken geword van politieke teenreaksie op die beleid van apartheid. Met die onderhandelinge vir die oorgang van Suid-Afrika van ’n wit minderheidsregering na ’n grondwetlike demokrasie met universele stemreg het die kwessie van taal dikwels tweede viool gespeel in die samesprekings. Die “nuwe” Suid-Afrika het ook vir Afrikaans nuwe geleenthede ingehou, maar Afrikaans het nie meer so ’n ereplek geniet soos wat dit voor 1994 gehad het nie. Die TK se werk is egter voortgesit ten spyte van nuwe taalwetgewing wat deurgevoer is, en die 11de AWS het in 2017 die lig gesien.

Christo van Rensburg se Die Afrikaanse woordelys en spelreëls se eerste honderd jaar is werklik ’n boek waarvan mens kan sê dat dit die perspektief verruim. Dit is duidelik uit die boek presies hoe die TK en die Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n reuserol gespeel het in die bevordering van geskrewe Afrikaans, ten spyte van die gruwelike onregte van die verlede. Die teenstrydigheid lê dan daarin dat alhoewel die TK en die Akademie veral histories met die beleid van apartheid geassosieer was, dit terselfdertyd tog ook ’n belangrike dekolonialiserende rol gespeel het en die onderskeid tussen Afrikaans en Nederlands as herkenbaar verskillende tale bevorder het.

.............
Dit is duidelik uit die boek presies hoe die TK en die Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n reuserol gespeel het in die bevordering van geskrewe Afrikaans, ten spyte van die gruwelike onregte van die verlede. Die teenstrydigheid lê dan daarin dat alhoewel die TK en die Akademie veral histories met die beleid van apartheid geassosieer was, dit terselfdertyd tog ook ’n belangrike dekolonialiserende rol gespeel het en die onderskeid tussen Afrikaans en Nederlands as herkenbaar verskillende tale bevorder het.
................

Afrikaans staar vandag nuwe uitdagings in die gesig. Daar is maar gereeld oproepe tot ’n herstandaardisering van die taal, en vrae bestaan oor hoe byvoorbeeld Kaaps, wat histories as ’n variant van Afrikaans beskou was, in klaskamers geakkommodeer moet word. Die standaardisering van ’n taal is ’n proses van aansienlike kompleksiteit, en een wat nog altyd kritiek uitgelok het. Dit kan mens ook baie mooi sien in hierdie boek – daar was nog nooit ’n tyd in die geskiedenis van die TK toe daar nie kritiek en struwelinge was nie. Verskille is ’n goeie, gesonde en natuurlike eienskap van die samelewing en die TK verdien lof en ondersteuning vir die werk wat sonder vergoeding gedoen word om ons taalverskille te bemiddel en ’n standaard- geskrewe vorm van Afrikaans daar te stel. Mens kan maar net die hoop uitspreek dat die gesprek oor die toekoms van Afrikaans nog lank sal voortduur en dat daar vir elkeen ’n plekkie aan die tafel sal wees waar hulle gekoester sal voel.

Lees ook:

Virtuele boekbekendstelling: Die Afrikaanse woordelys en spelreëls se eerste honderd jaar deur Christo van Rensburg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top